Suurstofnood nou 35% groter
Suurstofnood nou 35% groter

Suurstofnood nou 35% groter

Die aanvraag tydens verlede jaar se tweede Covid-19-golf in Desember het gekonsentreer op drie hospitale terwyl dit nou landswyd is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Afrox Namibia het 35% meer mediese suurstof aan sy kliënte in Mei vanjaar gelewer as tydens die vorige golf Covid-19-gevalle in Desember verlede jaar.

“Ons ervaar tans ’n ongekende hoë aanvraag na mediese suurstof,” het die maatskappy se besturende direkteur, mnr. Eckhardt Vorster, by navraag gesê.

Volgens Vorster is die verskil in aanvraag in Desember en die aanvraag met die huidige golf dat dit verlede jaar gekonsentreer was by twee hospitale in Windhoek en een aan die kus.

“Tans het ons ’n aanvraag van hospitale en gesondheidsgeriewe oraloor die land. Die gevolg is meer uitdagende logistiek en daar is druk op ons silindervoorraad,” het Vorster gesê.

Volgens hom bestuur die maatskappy “versigtig” die toekenning van hulpbronne waar dit vereis word met die hulp van hul kliënte se frontlinie-gesondheidspersoneel.

Afrox Namibia is tans besig met die ontplooiing van grootmaat-suurstofgeriewe by gesondheidsgeriewe met ’n hoë aanvraag om die silinders na geriewe te kanaliseer met ’n laer aanvraag vir suurstof.

“Die situasie bly vloeibaar en Afrox werk onverpoos om suurstof tot die beste van ons vermoë te lewer.”

Die maatskappy voer ook grootmaat- vloeibare suurstof uit Suid-Afrika in en het volgens Vorster die opsie om meer uit ’n tweede land in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in te voer.

Afrox Namibia versprei mediese suurstof in silinders landswyd aan beide private en openbare hospitale en klinieke. Dit word volgens hom bereik deur ’n lang gevestigde ketting van takke en agente wat ’n integrale deel van die maatskappy in Windhoek se verskaffingsketting vir hervulling is.

Vorster het intussen ontken dat Afrox se rekening by die minister van gesondheid en maatskaplike dienste vir die lewering van suurstof weens ’n gebrek aan wanbetaling opgeskort is. Volgens hom het die maatskappy en die ministerie ’n jarelange ooreenkoms vir die verskaffing van gesondheidsorgdienste.

“Geen hospitaalrekeninge is of sal opgeskort word nie,” het Vorster beklemtoon.

Volgens hom beskou die maatskappy dit as ’n “morele en etiese noodsaaklikheid” om lewens voor “lewensbestaan of wins” tydens die Covid-pandemie te plaas.

“Afrox Namibia se personeel werk 24 uur sewe dae per week om te verseker mediese graad suurstof is beskikbaar en volgens hospitaalbestellings beskikbaar en word by mediese geriewe afgelewer,” het hy gesê.

Vorster het beklemtoon daar is tans geen voorsieningstekort van mediese graad suurstof aan sy kontrakkliënte nie.

“Die maatskappy het tans voldoende voorraad vir die huidige aanvraag vir mediese suurstof in sy pakhuise oraloor Namibië.”

Volgens Vorster het die maatskappy ’n reeks maatreëls in die vierde termyn van verlede jaar in werking gestel in afwagting van ’n toename in aanvraag en dit duur vanjaar voort. Dit sluit in verhoogde grootmaat-suurstof in strategiese geriewe en die omskakel van industriële silinders om mediese graad suurstof te dra om bestaande voorraad mediese silinders te verhoog.

Afrox Namibia se verhoogde werksaamhede monitor ook die ontluikende aanvraag vir mediese suurstof op ’n voortgesette basis. Aflewerings is egter onderhewig aan hospitaalbestellings wat betyds geplaas word.

Vorster het verduidelik hoe ’n suurstof-konsentrator werk wat tans deur sommige dokters vir Covid-pasiënte voorgestel word wat nie plek in ’n hospitaal kry nie en tuis aansterk.

Volgens hom is dit ’n apparaat wat die suurstof van ’n gasvoorsiener (in tipiese gevalle, omringende lug) konsentreer deur selektief ander komponente in die gas te verwyder om ’n suurstof-verrykte produk te lewer.

Vorster sê dié eenhede is by verskeie hospitale en klinieke in Namibië beskikbaar en kan plaaslik by verskaffers van mediese toerusting bekom word of van die buiteland ingevoer word.

Volgens hom verhuur Afrox suurstof-konsentrators aan kliënte wat ’n doktersvoorskrif het. Tans is Afrox se totale voorraad konsentrators by kliënte, het Vorster gesê.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!