Swaar straf wag op Covid-oortreders
Die minister van gesondheid en maatskaplike diente sê hy is diep bekommerd oor Namibiërs se gedrag vandat die noodtoestand ten einde geloop het.
Denver Kisting – Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê geskoei op Namibiërs se gedrag vandat die noodtoestand ten einde geloop het, kan die aantal Covid-19-gevalle in die land opnuut die hoogte inskiet.
Shangula het gistermiddag by navraag aan Republikein gesê inwoners se gedrag maak die land kwesbaar vir 'n tweede golf van besmettings.
Volgens hom het hy Saterdag deur 'n woonbuurt in die hoofstad gery om hom te vergewis van die stand van sake en was geskok oor wat hy waargeneem het. “Dit is ongelooflik dat 80% van inwoners nie maskers gedra het nie, en diegene met maskers se maskers het om hul nekke gehang. Dit is regtig teleurstellend.”
Op 'n vraag oor of dié gedrag hom bekommer, het hy gesê: “Natuurlik, ja.”
REUSEBOETE
Intussen het die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, Vrydagaand op nasionale televisie (NBC) gesê Namibiërs wat hulle afvee aan maatreëls om die verdere verspreiding van Covid-19 hok te slaan, word deur 'n swaar straf in die gesig gestaar.
Ingevolge die Wet op Openbare en Omgewingsgesondheid, wat vir Shangula magtig om regulasies te publiseer om Namibiërs se gedrag te reguleer, staar 'n boete van N$100 000 en/of gevangenisstraf van tien jaar oortreders in die gesig, sê Nangombe.
Kragtens die noodtoestandregulasies was die boete N$2000 of ses maande se gevangenisstraf of albei.
Nangombe het pres. Hage Geingob se woorde van verlede Donderdag geëggo dat Namibiërs persoonlike verantwoordelikheid vir hul gedrag móét aanvaar om 'n tweede vlaag van besmettings te verhoed.
'ONRUSBAREND'
Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het ook gister vir Shangula gelyk gegee dat Namibiërs, veral inwoners van die hoofstad, skynbaar alle versigtigheid oorboord gegooi het.
“Die prentjie rondom Windhoek sedert die opheffing van die noodtoestand is baie onrusbarend.”
Onder meer, sê sy, vier partytjies hoogty en mense drom saam by begrafnisse en kerkbyeenkomste. “Mense vergader in groepe by straathoeke sonder maskers en sosiale afstand. Namibiërs toon geen erg in gesondheid en het vir ons gewys hulle kan nie dissipline handhaaf sonder om gepolisieer te word nie. Dit is jammer.”
Dausab sê die regering hou die situasie fyn dop en “sal op 'n geskikte tyd aanpassings maak soos vereis. Ons bedank daardie Namibiërs wat basiese stappe doen om die gesondheid van hul families, vriende en ander te verseker.”
Sy het opnuut 'n beroep op Namibiërs gedoen om die openbaregesondheidskrisis ernstig op te neem. “Ons móét ernstig daaroor wees om die verdere verspreiding te beveg, te voorkom en te beheer.”
Ook sy het die afgelope naweek haar rondes in 'n Windhoekse woonbuurt gedoen, sê dr. Esther Muinjangue, die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste. “Eisj, mense dink corona is weg. Kom ons monitor die twee weke soos die president gesê het en kyk.”
Geingob het Donderdag by Staatshuis gesê hoewel die ses maande lange noodtoestand nie in hierdie stadium verleng word nie, is die volgende twee weke sedert Vrydag van kardinale belang.
Die staatshoof sê dié tydperk sal die weg vorentoe bepaal.
Nangombe het Vrydagaand gemaan 'n noodtoestand kan weer ingestel word sou die situasie dit noodsaak.
Teen Saterdagmiddag het Namibië 10 292 bevestigde gevalle van Covid-19 en 111 sterftes aangeteken.
Die aantal aktiewe gevalle was toe 2 212 aangesien 7 969 gevalle herstel het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie