'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'
'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

Volgens 'n onafhanklike ondersoek na die bees-uitvoerabattoir se geldnood, word die maatskappy nie doeltreffend bestuur nie.
Ronelle Rademeyer
Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes radikaal kan verlaag om die maatskappy weer winsgewend te maak nie.

Die verslag is die resultaat van die ministerie se ondersoek na die bedrywighede van staatsondernemings wat einde verlede jaar deur die onafhanklike ontleder, mnr. Rainer Ritter, uitgevoer is. Dit is in opdrag van die SOE-minister, mnr. Leon Jooste, gedoen.

Ritter is van mening dat Meatco geen bykomende finansiering van die regering moet ontvang nie en op dié wyse gedwing word om moeilike skuiwe te maak.

Die rede vir Meatco se finansiële krisis is die gebrek aan goeie bestuur, sê Ritter.

“Die gemiddelde bedryfskontantvloei is ongeveer N$100 miljoen en dit is ’n aanduiding dat Meatco in intensiewesorg (ICU) is,” het Ritter gesê.

Die maatskappy sal vanjaar na verwagting sowat 34 000 beeste slag en die lae deurset sal sy kontantvloeibeperkings vererger, het hy bygevoeg.

MILJOENE VERLOOR

Volgens Ritter het Meatco aan die einde van die 2019-'20 finansiële jaar ’n bedryfsverlies voor belasting van N$123 miljoen gely. Die vorige jaar se verlies het ondanks die regrukstrategie, sowat N$93 miljoen beloop.

Hy het opgemerk dat Meatco se totale skuld in 2004 op sowat N$55,5 miljoen gestaan het en in 2007, toe mnr. Kobus du Plessis die uitvoerende hoof geword het, was die totale skuld sowat N$71,1 miljoen.

“Terugwaartse integrasie het momentum gekry en in 2009 het die totale verkryging 14,9% bereik. In dieselfde jaar het die totale skuld na N$210,1 miljoen gegroei.”

Ritter wys daarop toe adv. Vekuii Rukoro in 2013 die leisels oorgeneem het, het die skuld op N$389,9 miljoen gestaan. Die “waansin van terugwaartse integrasie” se momentum het daarna verder versnel. Meatco se terugwaartse integrasie-inisiatiewe (MoC's) is ingestel om optimale kapasiteitsbenutting en 'n konstante voorsiening van beeste aan die abattoir en speenkalwers aan die voerkrale te verseker.

Volgens Ritter het die finansiële krisis gelei tot ’n totale skuldlas van N$822,8 miljoen in 2017/2018 en was Meatco tot ’n afleggingsoefening gedwing toe die maatskappy se negatiewe kontantvloei dit moeilik gemaak het om geld te leen.

“Volgens internasionale standaarde is die bestuur van Meatco nie doeltreffrend nie,” het hy gesê.

AGTERUITGANG

Die internasionale pryse wat behaal is, het volgens Ritter die afgelope twee jaar agteruit gegaan. Dit is ten spyte daarvan dat wisselkoers-verwikkelinge in Meatco se guns was.

“Die opgehoopte verliese wat Meatco sedert sy ontstaan in die noordelike kommunale gebiede (NCA) gely het, beloop N$376 miljoen.

“Meatco moes van die begin af versoek het dat dié verliese deur die regering gesubsidieer word,” het Ritter gesê.

Ritter het ook daarop gewys dat die direksiefooie by Meatco van N$227 000 in 2009, tot N$467 000 in 2010 gestyg het - ’n toename van 106%. Intussen het die direksiefooie in 2013 gestyg van N$736 000 tot meer as N$1,26 miljoen, oftewel met 72%.

Hy het benadruk dat ’n uitvoerabattoir uitvoerende direkteurs met ervaring in vleisverwerking en internasionale vleiswaardekettings benodig. Dit is volgens hom ’n voorwaarde om langtermyn lewensvatbaarheid te verseker en mededingendheid te verbeter.

“Die uitvoerende direkteurs moes ook vooraf ervaring in die vleisbedryf opgedoen het - iiets wat sedert die aanstelling van Du Plessis in 2007 nie geskied het nie.”

“In die afgelope ses jaar, het Meatco vyf uitvoerende direkteurs en vyf finansiële bestuurders gehad. In die ouditmening van die 2019-'20 jaarverslag, is kommer uitgespreek oor die wesenlike onsekerheid wat ’n deurlopende kwessie is,” het Ritter gesê.

AANBEVELINGS

Ritter stel voor dat ’n komitee vir die vleisbedryf aangestel word om die volhoubaarheid van die bedryf te herstel.

Hy benadruk dat die toekomstige aandeelhouding van die maatskappy opgelos moet word om vertroue tussen die produsente en Meatco te skep.

“Die bedrywighede noord van die veterinêre kordonheining moet deur ’n ander organisasie bestuur word sodat Meatco mededingend, winsgewend en uitvoergedrewe kan wees.

“Die uitvoerabattoir moet ook ’n evaluering ondergaan sodat tekortkominge geïdentifiseer kan word. Dit moet deur konsultante, verkieslik vanuit Suid-Afrika of Australië, gedoen word,” is sy aanbeveling.

Hy het bygevoeg dat voorstelle vir ’n nuwe prysstrategie by die volgende jaarvergadering bespreek moet word. Die vergadering was geskeduleer vir Vrydag 19 Februarie, maar is op 10 Februarie onbepaald uitgestel vanweë die Covid-19-regulasies se voortgesette beperkings.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!