Swak ekonomie knou banke se groei
Swak ekonomie knou banke se groei

Swak ekonomie knou banke se groei

Suid-Afrikaanse banke is finansieel gesond, maar hul inkomste is in 2017 hard deur die swak ekonomie getref.
Hanlie Stadler

Die waarde van alle Suid-Afrikaanse banke se lenings het in 2017 met net 2,5% gestyg vergeleke met 2016, en daarvan het huisverbande met net 3% gegroei. Dit het banke se inkomste uit rente laat daal.

Dis van die inligting uit die jaarverslag van die Reserwebank se afdeling vir bankoorsig, wat Dinsdag uitgereik is.

Banke se verswakte lenings het altesame van R106 miljard tot R108 miljard gestyg, ’n styging van nagenoeg 1,9%. Verswakte lenings as ’n persentasie van alle lenings bly egter betreklik laag, op 2,9% (2016: 2,8%).

Volgens die bankoorsig-afdeling gaan die makro-ekonomiese omgewing in die afsienbare toekoms nie “betekenisvolle en robuuste groei in kredietverskaffing, minstens vergeleke met historiese standaarde” ondersteun nie.

“Hoewel maatstawwe van huishoudelike skuld tekens toon dat dit aanhou verbeter, bly huishoudelike skuld hardnekkig hoog. Daarom bly die aptyt vir huishoudelike krediet redelik traag.

“Ter vergelyking groei kredietverlening aan die korporatiewe sektor matig.”

Dié liggaam se tiende verslag oor die stabiliteit en gesondheid van banke is ook sy laaste, aangesien sy werk nou oorgeneem word deur die Omsigtigheidsowerheid (Prudential Authority, PA), ’n instelling wat geskep is deur die sogenaamde Twin Peaks-wet, oftewel die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor.

Die PA sal ook onder die vaandel van die Reserwebank toesig hou oor banke.

Die verslag lig die deurvoering van dié wet, waaraan tien jaar lank gewerk is, as een van die jaar se hoogtepunte uit, tesame met die deurvoering van die Wysigingswet op Finansiële Intelligensie. Dié wet, wat strenger wetgewing daarstel om geldwassery en die finansiering van terreur te bestry, is lank deur pres. Jacob Zuma vertraag, waarskynlik omdat dit die geldsake van diegene met politieke bande – soos die Guptas – onder die vergrootglas sou plaas.

Die verslag bespreek slegs 2017, wat beteken dit verwys nie daarna dat VBS Mutual Bank in kuratele geplaas is of na Viceroy Research se aanslag op Capitec Bank nie.

IT-risiko’s

Die bankoorsig-afdeling sê een van die grootste risiko’s vir banke wêreldwyd bly informasietegnologie. Bedrog het in die jaar merkbaar toegeneem, ook aangedryf deur moeilike ekonomiese en maatskaplike omstandighede.

Daar is ’n tekort aan voldoende vaardighede in kuberveiligheid, sowel plaaslik as internasionaal.

“Dit is geen verrassing nie dat kuberrisiko ’n belangrike fokusgebied bly weens die investering in digitale produkte en dienste, snelle innovasie en tegnologieveranderinge, en die toenemende behendigheid van kubermisdadigers in die algemeen.

“Finansiële tegnologie soos kriptogeldeenhede, blokketting, kunsmatige intelligensie en robotika is nie meer vreemde begrippe nie. Uitkontraktering bly relevant, met gesprekke oor wolkrekenaardienste en die buitelandse berging van data wat algemener word.

“Daar is ’n tekort aan voldoende vaardighede in kuberveiligheid, sowel plaaslik as internasionaal.”

Die meeste plaaslike banke het hulpbronne – geld en mense – verhoog om die aanslag teen kubersekerheid teen te werk. “Daarby is herhaal dat samewerking in die bedryf en die deel van inligting met ander rolspelers deurslaggewend is.”

Groot Vyf

Suid-Afrika se banksektor word steeds oorheers deur die Groot Vyf-banke: Standard Bank, FirstRand (wat FNB insluit), Absa, Nedbank en Investec. Tussen dié banke het hulle teen einde 2017 90,5% van die hele sektor se bates verteenwoordig. Dis net effens laer as die 90,7% einde 2016.

Suid-Afrikaanse takke van buitelandse banke het 5,9% (2016: 5,8%) van die bates gehou en ander geregistreerde banke altesame 3,7% (2016: 3,5%).

Standard Bank, met bates van R1 255 miljard, en FirstRand (R1 121 miljard), is die enigste twee bankgroepe met bates van meer as R1 000 miljard.

Capitec is in dié stadium die sesde grootste bank, met bates van R87 miljard, meer as 14 keer minder as dié van Standard Bank. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!