Swak vooruitsigte vir winterreën vanjaar

'n Landbouweerkundige meen indien El Niño-toestande binnekort neutraliseer, kan dit 'n aanduiding van 'n natter reënvalsiklus van middel- tot laatsomer af wees.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die blyk weervoorspellers verwag tans nie nog reën vir Namibië nie, met die Namibiese weerkantoor wat sê enkele wolkies sal vir die res van die week in die binneland te sien wees.

Terselfdertyd word droë lug in die verre Weste voorspel.

Dít stem ooreen met 'n voorspelling vroeër vandeesweek deur Santam Suid-­Afrika se landbouweerkundige, mnr. Johan van den Berg, wat meen Namibië sal waarskynlik baie min reën in die volgende maande ontvang.

Dit het Dinsdag liggies op plekke soos Keetmanshoop, Aroab en Aranos gereën, terwyl eienaars van kleinhoewes naby Okahandja ook gesê het hulle het reën ontvang.

Windhoek het skynbaar die meeste reën ontvang, met Sophy Platt wat op die Facebook-blad “Reën in Namibia” gesê het sy het 4 mm in Windhoek-Wes naby die Sentrale Hospitaal gemeet.

Die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, sê volgens hul amptelike syfers het dit 2,2 mm by hul Windhoek-hoofkantoor gereën, terwyl 3 mm by die Eros-lughawe gemeet is.

Mariental het ook 2 mm reën ontvang, volgens Kgobetsi.

Van den Berg meen die komende somerreënseisoen kan dalk meer belofte inhou. Hy sê hoewel El Niño-toestande steeds teenwoordig is, sal dit na verwagting meer neutrale vlakke tydens die komende wintermaande en die somer van 2019-'20 bereik.

“Vir die eerste keer is daar nou aanduidings dat El Niño-toestande kan verswak,” het hy gesê.

Van den Berg sê indien El Niño wel binne die ­volgende maande wyk, kan dit 'n aanduiding van 'n natter reënvalsiklus van middel- tot laat­somer af wees.



'WINTER EERS WARM'

Hy het voorheen aan Republikein gesê Suider-Afrika is tans naby aan die einde van 'n droogtesiklus, wat sedert 2012 heers. Hy meen gevolglik is dit moont­lik dat “natter ­toestande” binne die ­volgende jaar of twee in die land kan begin voorkom.

Van den Berg sê na verwagting sal die komende winter die koudste in Julie en Augustus wees, terwyl ­temperature vir eers dalk warm tot matig sal wees.

Hy sê min verdere reën word in die huidige seisoen in so­mer­­­reënvalgebiede verwag.

Kommentaar

Republikein 2025-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer