Swak wetstoepassing strem gereedheid vir droogte

Kordonheiding en verwoestyning ook struikelblokke
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Namibië het ’n uitstekende regsraamwerk en beleid wat die land en veral die landbousektor op rampdroogtes kan voorberei, maar die implementering daarvan is ’n probleem.
Boonop sal die verwydering van die veeartsenykordonheining tot verbeterde veerkrag teen droogtegebeure lei.
Dr. Axel Rothauge van AgriConsultant Namibia, het tydens die Afrika Droogtekonferensie wat vanaf 15 tot 19 Augustus in Windhoek aangebied is, oor droogteparaatheid in veral die nasionale landbousektor gepraat.
“Namibië se regsraamwerk vir droogteparaatheid is meer as voldoende, maar die toepassing daarvan is ’n probleem. Ons het byvoorbeeld die nasionale weidingsbestuursbeleid en -strategie wat in 2012 ingestel is, maar die vrywillige aard daarvan maak toepassing ’n probleem.
“Die grondbewaringswet van 1969 is nog nooit geïmplementeer nie; dieselfde geld vir die 2001-wet op bosbou, wat weens ’n gebrek aan kapasiteit slegs gedeeltelik toegepas word.
“Die wet op omgewingsbestuur van 2007 asook verskeie natuurbewaringordonnansies word wel toegepas. Voorts wag ons op die finalisering van die beleid op indringerbos asook die wet op landbouhulpbronne,” het Rothauge gesê.
Volgens hom moet Namibië meer belê in die boere wat van landbougrond gebruik maak ten einde bogenoemde wette beter toe te pas.
“Dit sluit in die bewusmaking en opleiding van die boere asook om ’n mentorprogram te begin. Namibië het die nodige kenners om dit te doen. Ons kan nie boere net eenmalig van die wette en beleide vertel en verwag dat hulle dit moet toepas nie.
“Boere moet steun kry met die implementering hiervan en bemarkingsgeleenthede moet geskep word sodat hulle voordeel daaruit put om die ‘regte ding’ te doen. Dit sal tot volhoubare produksie en die verbeterde veerkrag van die omgewing lei,” het hy gesê.


TEELKUDDES IN NOORDOOSTE
Rothauge het gesê Namibië is die droogste land suid van die Sahara en terselfdertyd word groot verskille in reënval tussen die droë suidweste van die land (waar minder as 50 mm reën per jaar val) tot die noordoostelike dele (waar dit gemiddeld 600 mm per jaar reën) ervaar.
“Wat kan Namibia vanuit ’n landbou-tegniese oogpunt doen om meer voorbereid op droogte te wees?
“Boere in die Noordooste moet verkieslik teelkuddes aanhou, terwyl boere in die droër suidoostelike dele hulle daarop moet toespits om speenkalwers slaggereed te kry en slagdiere te lewer.
“Die benadering maak sin omdat teeldiere ’n stabiele toevoer van voer benodig, terwyl boere wat slagdiere voer, kan aanpas hoeveel speenkalwers hulle aanhou volgens hoeveel voer hulle beskikbaar het.
“Die Noordooste is ook beter geskik vir aangeplante weiding op droë lande. Oorskot gras wat so geproduseer word, kan na droër dele in die land gaan of vir droogtes geberg word.
“Die Noordooste moet egter die res van die land van ‘groeiers’ voorsien wat vir slagdoeleindes aangewend kan word. Dit sal die lewendehawesektor meer voorbereid op droogtes maak.”


VEEARTSENYKORDONHEINING
Rothauge sê die grootste struikelblok is egter die bestaan van die veeartsenykordonheining, wat die verre Noordooste van die land isoleer.
“Ná baie jare van onafhanklikheid bestaan dié heining steeds, ondanks verskeie tegniese voorstelle hoe dit verwyder kan word sonder om die kommersiële lewendehawesektor te beïnvloed.
“Die mees onlangse tegniese plan kom van die Amerikaanse Millennium Uitdaging-rekening. Die implementering hiervan bly ’n probleem.
“Die landbouprodusente noord van die kordonheining kan gevolglik nie deel hê aan enige winsgewende vleismarkte nie. Indien die heining verwyder kan word, kan die speenkalfmark drasties vergroot word en verskeie werkgeleenthede in die vleisverwerkingnywerheid geskep word.”
Rothauge sê die huidige situasie lei daartoe dat teelkuddes in droër dele van die land gevolglik meer afhanklik van veevoer en voerinvoere is.
“Dit is ironies dat in droogtes, wanneer jy voer die nodigste het, dit onsettend duur word. Dit dra daartoe by dat die nasionale vleisproduksiestelsel baie meer aan die droogte blootgestel is.”


VERWOESTYNING
Rothauge sê droogtes help dikwels verwoestyning in droë gebiede aan en dat die bekamping hiervan ook tot Namibië se paraatheid op droogte sal bydra.
“Behoorlike weidingstelsels sal help dat jou grond voortdurend met meerjarige gras bedek is en ook verbossing teenwerk. Dit is belangrik dat boere hul weidingstelsels aanpas van een waar vee dieselfde grond voortdurend bewei, na dié van ’n rotasiestelsel,” het hy gesê.
Hy het verwys na ’n plaaslike projek waarin erosie gestabiliseer word deur droogtebestande en waterdoeltreffende struike of bome te plant wat ook as voer gebruik kan word. Die aanplanting van die struike en bome in komme en op kontoere keer dat reënwater bloot wegvloei en erger erosie veroorsaak.
“Die lesse wat ons uit verskeie soortgelyke projekte in China, die Sahel-gebied asook oor die res van die wêreld geleer het, sluit in dat grond se blootstelling aan sonlig beperk moet word. As jy dit nie bedek nie, vloei reënwater maklik weg en kan dit ’n mensgemaakte droogte veroorsaak, al kry ’n gebied genoeg reën.
“Dit is veral belangrik in droë gebiede waar grond uitermate baie blootstelling kry. Grond kan van skaduwee voorsien word deur ’n deklaag van takke te vorm. Dit beskerm die grond en keer ook dat nuwe, jong grasspruite dadelik gevreet word,” sê Rothauge.
“Dit is egter noodsaaklik dat grond in Namibië altyd deur meerjarige grasse bedek word – dit sluit inheemse spesies soos Anthephora Pubescens, Brachiaria Nigropedata, Digitaria Seriata en Schmidtia Pappophoroides in.
“Dié grasspesies kom nog in die meeste dele van Namibië voor en ons het reeds ’n groot genoeg saadvoorraad opgebou sodat ons dit weer kan vestig in dele waar dit verdwyn het.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!