Swakarabedryf 'n internasionale voorbeeld

‘Swart diamant’ kan Namibië ophef
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die Swakarabedryf is verantwoordelik vir die ‘bou’ van ‘n groot deel van Namibië. Dit is ‘n uitstekende manier om gemeenskappe op te hef en kan gebruik word om Namibië – en veral die dorre suidelike dele van die land – uit te bou.”

Die Swakara-produsent en -raadslid, mnr. Pieter Hugo, het tydens ‘n Swakara-opedag op Donderdag 14 Junie na Swakara as die “swart diamant” van Namibië verwys wat nie net plaaslik tot ‘n geneties unieke ras ontwikkel is nie, maar wat ‘n uitkoms bied in dorre streke waar daar met weinig geboer kan word.

Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, het die geleentheid as eregas bygewoon en sy lof uitgespreek oor die goeie werk wat in die bedryf gedoen word. Hy het gesê belanghebbendes in die bedryf moet hande vat en kyk of hulle verder op die reeds uitstekende werk kan verbeter.

Hy was veral beïndruk met die vertroue wat in Agra-pelssentrum se sorteerders geplaas is.

NAMIBIË ‘N MODEL

Ofskoon die aantal Swakarapelse wat plaaslik geproduseer word jaarliks verminder, dien Namibiese produsente se boerderystandaarde as model wat deur die International Fur Trade Federation (IFTF) vir die res van die wêreld voorgeskryf word.

Boonop is die Agra-pelssentrum in Windhoek die enigste een wat toegelaat word om pelse buite die Kopenhagen Fur-veilinghuis te sorteer – ‘n aanduiding van die vertroue wat daar in Namibiese pelssorteerders is.

Die pelse word van oral oor die land vanaf Agra se takke ontvang en by die pelssentrum in Windhoek sorteer voor dit in April en September op internasionale veilings in Kopenhagen verkoop word.

Die raad se voorsitter, me. Julene Meyer, het gesê plaaslike Swakara-produsente het hul plase gesertifiseer en boer volgens die strengste internasionale standaarde. Dit is hierdie verantwoordelike manier van boer wat nou deur die IFTF vir karakoelnywerhede wêreldwyd voorgeskryf word. Die IFTF is gemoeid met dierewelsyn en die verantwoordelike en menslike hantering van diere.

“Swakara is deur die regering geidentifiseer as ‘n strategiese bedryf om mense uit armoede te verlig en bied ‘n uitkoms vir mense wat in die land se droogste dele woon en daar bykans geen ander manier bestaan om ‘n inkomste te genereer nie.

“Swakara het dit ook reggekry om oor 111 jaar lank toepaslik en gewild in die modebedryf te bly en is steeds ‘n erkende wêreldwye handelsmerk. Ons geniet toegang tot markte in Rusland, China, Europa, Amerika asook die Midde-Ooste,” het Meyer gesê.

Sy het verduidelik Swakara dien ‘n nismark en indien Swakara-produkte nie deel is van ‘n modeversameling nie, word dit nie as volledig beskou nie.

Meyer het gesê die voordeel van die bedryf is dat selfs ‘n kleinskaalboer met ‘n klein aanbod van pelse aan ‘n internasionale veiling kan deelneem. Sy produk kan deur wêreldbekende ontwerpers gebruik word om klere vir toonaangewende wêreldleiers te maak.

“Kopenhagen Fur is sedert 1994 die amptelike veilingshuis vir Swakara. Dit is ook die grootste veilingshuis vir pelse in die wêreld.

“Anders as die ander soorte pels wat deur die veilingshuis verkoop word en wat hulle self volgens die strengste standaarde sorteer en klassifiseer, laat hulle toe dat Swakarapelse in Windhoek by Agra se pelssentrum sorteer word.”

Meyer het aan die minister verduidelik hulle vertrou die Namibiese pelssentrum se sorteringsvermoë soveel dat hulle dit onderskryf.

“Hulle sê Swakarapelse word 100% volgens hul streng standaarde gesorteer en dit is nie nodig om dit nog ‘n keer aan ‘n keuringsproses te onderwerp nie,” het sy benadruk.

Pelse word ook vanuit Suid-Afrika en Botswana deur die pelssentrum ontvang en dit is die enigste afsetpunt in Afrika vir Swakara-pelse na internasionale markte. Agra is Swakara se bemarkingsagent.

Boonop word daar by ‘n streng naspoorstelsel gehou en elke pels het die produsent se nommer op en ontvang ‘n strepieskode.

GENETIES UNIEK

Hugo het verduidelik dat die Swakara as skaapras geneties al heeltemal verskil van die karakoelskaap, wat aanvanklik in 1907 die land ingebring is.

“Plaaslike navorsingstasies soos Gellap-Ost, asook Neudamm het ‘n kardinale rol daarin gespeel om ‘n unieke ras te skep en weg te beweeg van karakoel. Dienooreenkomstig is die gehalte van wol drasties verbeter en is pelse in meer kleure beskikbaar,” het hy gesê.

Hugo het gesê die afsonderlike DNS van die Swakaraskaap is ‘n groot prestasie.

Alhoewel die oorspronklike karakoel wat in Namibië ingebring is, swart was, word daar tans wit, swart, grys en bruin pelse in Namibië, sekere gebiede in Suid-Afrika asook Botswana produseer.

“’n Sterk vraag bestaan vir wit pelse om rede dit maklik gekleur kan word en ons het moontlik reeds ‘n oplossing vir vrektes onder wit lammers,” het Hugo gesê.

Alhoewel sekere proewe op die teling van wit Swakaraskape nog by die Gellap-Ost navorsingsentrum onderweg is, lyk dit asof teling met die regte ouers die oplossing is.

Deur toetse is daar vasgestel dat ‘n genetiese samestelling in sekere wit Swakara skape tot spysverteringsprobleme lei, wat die lammers op ongeveer ‘n week oud laat vrek. Die paring van wit Swakaraskape wat “oud” raak, blyk hierdie probleem suksesvol op te los.

Wit Swakara-pelse is baie waardevol en verkoop dikwels teen meer as dubbel die prys van swart pelse.

Tydens die ope-dag het die pelssentrum se bestuurder, mnr. Jaco van Zyl, gewys hoe die topgegradeerde swart pels vir om en by N$900 per pels op ‘n Kopenhagen-veiling verkoop is, terwyl die top wit groepering vir meer as N$2 000 per pels verkoop het.

GESOG

Hugo het gesê dat,wat die modewêreld betref, Swakara ‘n klein persentasie van die aanbod op internasionale veilings is en as baie uniek beskou word omdat dit ‘n korthaarpels met ‘n uitstekende haarformasie en -gehalte is.

Hy het ook verduidelik dat die pelse van lammers geoes word wat jonger as 48 uur is.

“Die realiteit is dat alle produksiestelsels die een of ander tyd ‘n produk moet oes. In eierproduksie word dit gedoen nog vóór die kuiken uitbroei, in die beesbedryf tussen vyf en ses maande of op dertig maande.”

Hy het verduidelik dat die oes van lammers Swakaraboere toelaat om meer ooie op ‘n stuk grond aan te hou.

“Die ooie kan in baie droë gebiede oorleef en het nie ‘n lam om groot te maak nie. Andersins kan produsente ook besluit om die skape vir vleisproduksie aan te hou.

‘”n Swakara-boerdery is ook ideaal vir bestaansboere en die Swakararaad werk nóu saam met bestaansboere as dit by opleiding en subsidisiëring kom.

Hy het gesê die tendens dat al minder pelse jaarliks produseer word en na veilings in Denemarke gestuur kan word, is kommerwekkend.

“Namibiese produsente sukkel om 100 000 pelse per jaar te produseer, al het ons in die laat sewentigs en vroeë negentigs, voor die ineenstorting van die karakoelbedryf, meer as vyf miljoen pelse per jaar produseer.

SOSIOËKONOMIESE IMPAK

Die raad se ondervoorsitter, mnr. Johannes Slava Motinga, het gesê die Swakarabedryf is een van die grootste werkskeppers vir vroue en dat vir elke man wat op plase in die bedryf werk, twee vroue werk.

“Tans is daar sowat 450 Swakara-produsente in Namibië. Na raming trek tot 14 000 Namibiërs direk voordeel uit hierdie bedryf,” het Motinga gesê.

Hy het ook gesê Swakara ploeg terug in die land deur die Kopenhagen Fur Kindergarten-projek, waardeur 42 kleuterskole in Windhoek oor die afgelope 11 jaar finansiële steun van sowat N$10 miljoen ontvang het.

Verder word ‘n projek gedryf waardeur plaaswerkers ook Swakara-skape ontvang en hul eie boerderye op hul werkgewers se plase kan begin.

AANVALLE OP PELSBEDRYF

Op die minister se vraag oor hoe Swakara reageer op aanvalle op die pelsbedryf, het Meyer geantwoord dat Swakara openlik is oor hoe die pelse produseer word en dat die plaaslike industrie by die hoogste internasionale standaarde asook ‘n gedragskode moet hou.

“Ons het reeds gesien dat die end-verbruiker heeltemal gewillig is om ons produkte te koop, solank die pelsbedryf kan bewys dat die pelse op ‘n verantwoordelike en menslike manier produseer word. Vir die res van die pelsbedryf bly dit egter moeilik om die terme ‘luukse items’ asook ‘diereprodukte’ in dieselfde sin te gebruik.

“Die manier hoe Swakara se struktuur opgestel is, vrywaar ons in ‘n mate van hierdie kritiek,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!