Swakop lek sy waterwonde
Des Erasmus en Ronelle Rademeyer
Op Swakopmund was dit veral inwoners van die woonbuurte Vineta en Mondesa wat gisteroggend hul waterwonde gelek het nadat sowat 40 mm vroeg Maandagaand in 'n kort tydjie op dié kusdorp geval het.
Dakke wat meegegee het, water wat oor deurdrumpels gestoot het en motorhuise waarin water opgedam het, was algemene verskynsels.
In die Mondesa-woonbuurt het verskeie mense hul blyplekke vir die nag ontruim en by bure en vriende gaan slaap. Beddegoed was sopnat. Maandagaand was daar plek-plek 'n onderbreking in TV-dienste en water is in skottels uit huise gedra. Gisteroggend moes van die inwoners van die twee buurte eers paadjies maak om met hul motors uit hul erwe by hul werkplekke te kom.
Die woestyndorp beskik kwalik oor 'n dreineringsnetwerk, aangesien dit selde reën. In Strandstraat het damme water gevorm met strome wat later hul eie koers see toe gekies het.
Maandagaand se reënstorm was van korte duur. Dit het om 18:30 begin reën en teen 19:00 was die ergste verby, met tot 40 mm wat in net meer as 20 minute op plekke geval het. Toe die skade reeds gedoen was, het dit laat Maandagaand weer lig begin reën met opvolgbuitjies deur die nag.
Paasnaweekgangers het laat Maandagmiddag deur stormweer aangekruie huis toe toe 'n wolkbreuk sowat 30 km buite Swakopmund die B2-hoofweg getref het. Gisteroggend is motorryers gewaarsku dat die ongeteerde soutpadstroke tussen Swakopmund en Hentiesbaai op plekke baie nat en glibberig is.
'n Hewige storm het ook die gebied om Myl 68 noord van Hentiesbaai getref. Hengelaars het op Hentiesbaai vertel hoe damme water in die woestyn gevorm het om later in 'n skouspelagtige stroom na die see toe deur te breek.
In die gebied wes van Uis in die rigting van Brandberg het 'n storm ook Maandag gewoed. Binne 'n uur het die reënmeters op 91 mm gedui. Ook die Abahuabrivier naby die Twyfelfontein Country Lodge het afgekom.
Op Uis self het opvolgreën ook uitgesak ná buie vroeër in die Paasnaweek. 'n Kitsvloed het in die Ugabrivier naby die Brandberg White Lady Lodge ontstaan.
Op die kusdorpe het die son gisteroggend vir 'n wyle deurgebreek. Dit het aan inwoners in die geteisterde woonbuurte 'n geleentheid gegee om met reddingswerk te begin.
Suid van Walvisbaai is toeriste op die woestynroetes na Sesriem en Sossusvlei gewaarsku dat hulle rekening met 'n moontlikheid van swaar reën in die dorsland moet hou.
By Ganab tussen Walvisbaai en die Reuboth-weerstasie is 29 mm uit die reënmeter gegooi. By die Moon Mountain Lodge by Solitaire is 20 mm gemeet.
Op die roete tussen Mariental en Sossusvlei en na Bulspoort en Solitaire het reisigers Maandag ook in 'n wolkbreuk vasgery.
ELDERS IN DIE BINNELAND
Op Stampriet is 7 mm uit die reënmeter gegooi terwyl plase sowat 25 km buite die dorp rigting suid 25 mm aangeteken het en sommige poste tot soveel as 40 mm gehad het. Op die plaas Hillendale 60 km suidoos van Mariental het die lesing tussen 22 mm en 40 mm gewissel. Op die plaas Welverdiend by Kalkplato in die Mariental-distrik is 20 mm aangeteken.
'n Wolkbreuk tussen Kalkrand en Rehoboth het die Swartskaap- en Swartmodderriviere in vloed gehad, terwyl die Kalfrivier in die Schlip-omgewing ook afgekom het. Omaruru het 10 mm gemeet.
Uit die Noorde word berig Oniipa, suidoos van Ondangwa, het meer as 80 mm aangeteken.
Plekke wat nog wag vir reën sluit die gedeeltes wes van Mariental, Maltahöhe en omgewing, op die Kalk suidoos van Mariental, oos van Stampriet en Aranos teen die Botswana-grens, Stampriet, Leonardville asook Helmeringhausen en die Aroab-omgewing in.
DAMME STEL TELEUR
Net twee damme was gister voller as 'n week gelede. Volgens NamWater se damverslag vir 3 April 2018 het die Omatakodam 'n invloei van 2,387 miljoen kubieke meter water gehad en is die dam nou 10,0% vol teenoor verlede week se 4,5%.
In die Suide het die Nautedam buite Keetsmanshoop se vlak van 70,6 tot 71,1% gestyg. Dit is teweeggebring deur 'n invloei van 0,416 miljoen kubieke meter water.
Oshonas in die Cuvelai-kom styg steeds en die hidrologiese dienste maan mense in dié gebied, asook in die Zambezistreek, om die nodige voorsorg teen die stygende watervlakke te tref.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie