Swakop-ollie suksesvol verskuif

Die rondloper-olifantbul wat hom twee maande gelede by die Rössmund-gholfklub tuisgemaak het, het sedert Saterdag ’n nuwe tuiste.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner op Swakopmund - Die seevakansie is verby vir die sogenaamde Swakopmund-olifant.

Die rondloper-olifantbul is Saterdag gevang en verskuif na die N/a'an ku sê-wildreservaat se Shiloh Wildllewe-toevlugsoord, wat vernoem is na die Namibies-gebore dogter van die akteurs Angelina Jolie en Brad Pitt.

Die olifant is Saterdagoggend naby Rössmund vanuit die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se helikopter deur wildveearts, dr. Ulf Tubbesing, onder toesig van die ministerie se veearts, dr. Janine Sharpe, met 'n pylgeweer verdoof.

Toeskouers van Rössmund het gekyk hoe die reusedier met 'n hyskraan op 'n vragmotor gelaai word en daarna in 'n spesiaal-ontwerpte reuse-vraghouer op 'n ander vragmotor oorgelaai word.

"Dit is ongelooflik hoe goed almal tydens die verskuiwingsoperasie saamgewerk het," het die stigters van N/a'an ku sê, dr. Rudie en Marlice van Vuuren, gesê. Die verskuiwingsoperasie word op N$550 000 beraam.

“Dit is nogal 'n stewige bedrag, veral met toerisme - ons hoofbron van inkomste - wat nou weens die coronakrisis op sy knieë is”, het dr. Van Vuuren gesê.

Gister het die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, bevestig dit gaan goed met die grootpoot.

Volgens mnr. Colgar Sikopo, direkteur van wildlewe en parkbestuur in die ministerie, is die olifant sowat 'n maand gelede as probleemdier verklaar.

"Daar was net twee opsies oor: Maak die dier van kant of verskuif hom. Ons hooffokus is op natuurbewaring, dus het ons besluit om hom te verskuif," het hy gesê.

Die oorsprong van die flapoor bly steeds 'n geheim - selfs vir die ministerie. Daar is beweringe dat hy van die Tsumkwe-gebied is, selfs van Botswana of die Etosha Nasionale Park.

"Ons hou die olifant sedert Augustus dop terwyl hy nog in die Otjiwarongo-distrik was. Ewe skielik daag hy Kersfees by Swakopmund op," het Sikopo gesê.

Hy is teruggedryf na die Omarururivier, maar die flapoor het teruggeloop see toe en hom by die Rössmund-gholfklub tuisgemaak.

“'n Maand gelede was daar verskeie klagtes dat hy skade aanrig en daar was vrese hy kon mense seermaak," het Sikopo gesê.

Die olifant het elke dag in die Swakoprivier af na die dorp geloop en was gereeld naby die stalle van die Swakopmund Reiterverein (RVS) opgemerk.

"Erindi is as 'n moontlike tuiste oorweeg. N/a'an ku sê het aan alle vereistes voldoen,” het Sikopo gesê.

“Ons het 'n boma van sowat een hektaar gebou waar die olifant vir 'n week sal bly. Sodra hy aan sy nuwe omgewing gewoond geraak het, sal ons 7 500 hektaar-reservaat sy nuwe tuiste wees," het Van Vuuren gesê.

“Daar is twee jong olifantbulletjies vir wie hy maniere kan leer."

Van Vuuren skat die Swakop-ollie is 25 jaar oud.

Rössmund-inwoners het die olifant Rossi genoem, maar hy is nou na Shiloh herdoop.

"Ons het Shiloh reeds gekontak en ons wag vir haar antwoord,” het Van Vuuren gesê.

Die olifant bly die eiendom van die ministerie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer