Swakop-ollie Vrydag Erindi toe
Swakop-ollie Vrydag Erindi toe

Swakop-ollie Vrydag Erindi toe

Die ministerie van die omgewing en toerisme gaan die rondloperbul na ’n veilige hawe verskuif.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die olifantbul wat vakansiegangers aan die kus op Oukersdag met sy wandeling naby Swakopmund verras het, gaan Vrydag na die Erindi Private Wildreservaat naby Omaruru verskuif word.

Volgens die waarnemende direkteur van parke en wildlewe, mnr. Richard Fryer, het die grootvoet-rondloper terug binneland toe geloop.

Daarná het hy weer teruggeswenk kus toe en ’n ruk by Klein Spitzkoppe vertoef.

“Nou is hy doodtevrede in die Omarururivier waar daar genoeg kos en water vir hom is,” sê Fryer.

“Die probleem is daar is baie lodges, gasteplase en plase in die Omaruru-distrik waar hy skade kan aanrig.”

Fryer sê voor dít gebeur en die olifant as probleemdier verklaar word en uiteindelik van kant gemaak moet word, moet hy liewer verskuif word.

“As die olifant in die kommunale gebied rondgeloop het, sou dit geen probleem gewees het nie, maar nou is hy in kommersiële boederygebied,” sê Fryer.

“Ek wil die olifant red en keer dat hy van kant gemaak word. Hy is ’n rondloper soos die befaamde woestynaangepaste leeu Terrace, wat destyds Angola toe en terug geloop het. Die beste opsie is om die olifant te verskuif na waar hy veilig is.”



Mnr. Paul Joubert, Erindi se mede-eienaar, het aan Republikein gesê die olifant is nie een van Erindi s’n nie, maar hy is bereid om van hul verskuiwingstoerusting gratis beskikbaar te maak en die flapoor by Erindi te huisves.

Die olifant sou vandag na Erindi verskuif word, maar Fryer sê ’n verskuiwingsoperasie verg groot beplanning.

“’n Groot hyskraan, krat en vragmotor word onder meer benodig om die olifant op te hys en veilig te vervoer.”

Die rondloperbul het glo ook verlede jaar by AfriCat se Okonjima Lodge in die Otjiwarongo-distrik gaan kuier.

Daar is selfs gerugte dat hy al die pad van Botswana af kom.

Toe die olifant by die kus gaan kuier het, het hy groot konsternasie veroorsaak met nuuskieriges wat langs die pad tussen Swakopmund en Hentiesbaai stilgehou het om sy wandeling see toe te aanskou.

Verskeie organisasies, lede van die publiek en die ministerie van die omgewing en toerisme het die rondloper toe met voer en water na die binneland teruggelok.

Hy het met sy eerste drinkslag 100 liter water opgeslurp en is deurentyd deur natuurbewaringsbeamptes en die ministerie se veearts, dr. Janine Sharpe, gemonitor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!