Swakopmund dalk klaar met plastieksakke
Swakopmund dalk klaar met plastieksakke

Swakopmund dalk klaar met plastieksakke

Die verpligte gebruik van herbruikbare inkopiesakke word deur Swakopmund se munisipaliteit beoog.
NAMPA
Swakopmund se munisipaliteit beplan die implementering van 'n verordening wat winkels op die dorp sal verplig om slegs herbruikbare inkopiesakke, in plaas van gewone plastieksakke van lae-digtheid poliëtileen (LDPE), aan klante te verskaf.

Herbruikbare sakke word van 'n sterker materiaal gemaak sodat dit weer en weer gebruik kan word om kruideniersware en ander produkte in te verpak.

Die plan om 'n munisipale verordening in te stel wat die gebruik van plastieksakke verbied, het in 2009 reeds begin.

Dit vorder baie stadig vanweë die proses betrokke by die inwerkingstelling van so 'n verordening, het mnr. Clive Lawrence, hoofbestuurder van gesondheidsdienste by die munisipaliteit, aan Nampa verduidelik.

“Ons werk daaraan om dit voor die komende feesseisoen goedgekeur te kry,” het hy gesê.

Indien die munisipaliteit daarin slaag, sal dit die eerste munisipale­ verordening van dié soort in die land wees.

Meer as 40 lande, waaronder Kenia, Rwanda en Marokko, het die gebruik van plastieksakke verbied of omgewingsbelasting op die gebruik daarvan ingestel.

Volgens Lawrence sou belanghebbendes gister vergader het om die raamwerk hiervoor op te stel.

Dit sal aanstaande maand aan die raad voorgelê word, waarna die konsepdokument ook tydens vergaderings met die gemeenskap bespreek sal word.

Dit is nog nie seker hoeveel die kopers vir die herbruikbare sakke sal betaal nie.

Lawrence sê winkeleienaars sal egter verplig wees om 50% van die opbrengs uit die verkoop hiervan aan die munisipaliteit se omgewingsfonds oor te dra.

Dit word deur die raad bestuur en die geld word gebruik vir skoonmaakveldtogte en omgewings­projekte.

Die munisipaliteit moet jaarliks groot hoeveelhede rommel opruim wat plastieksakke insluit.

Die DRC- informele nedersettings is veral bekend vir groot­skaalse rommelstrooiery.

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!