Swakopmund: Stryd om kabeljou woed voort
Swakopmund: Stryd om kabeljou woed voort

Swakopmund: Stryd om kabeljou woed voort

Skole visse is verlede week land toe getrek.
Des Erasmus
Des Erasmus - “Drie ton vis!”

Só het die skipper van 'n skiboot Donderdagmiddag by 'n visskoonmaakplek op Swakopmund gejuig nadat skole kabeljou op hul terugtog van Sandvishawe na die Noorde gelooi is.

Die vangs van 'n leeftyd was alles binne die raamwerk van die wet met die booteienaar wat oor 'n kommersiële lisensie beskik.

Alles was so pluis dat selfs 'n ­video-opname van die aflaaiery by die skoonmaakplek op sosiale media uitgebasuin is.

Ewe goeie nuus was dat die visse eierloos was nadat klaar by Sandvishawe suid van Walvisbaai gebroei is.

Ook die Walvisbaaise treknetvissers was tevrede nadat hulle, danksy 'n vergunning deur die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, ná 'n onderbreking van sowat ses weke voorlopig na hul ­aangewese operasionele gebiede kon terugkeer.

Donderdagmiddag was van die eerste vars harders weer op die mark.

Toe het die see self tot die beskerming van sy bronne toegetree.

Onmiskenbare tekens van 'n swaeluitbarsting op see is suid van Walvisbaai waargeneem.

Die omvang daarvan is gemeet aan marsbankers wat naby Pelikaanpunt op die strande uitgespoel het.

In sy beleidsrede aan die visseryesektor Vrydagoggend het die minister ook verskerpte optrede deur die inspektoraat teen roofhengelaars ­onderneem.

Die tekens van swael in die water is ook verder noord, selfs noord van Hentiesbaai, waargeneem. Swael­uitbarstings laat hengelvis wyk.

Op sosiale media is wel voort­gegaan met beweringe van 'n onwettige ­stropery van die visbron.

Die ergste woordeoorlog het oor 'n vrou van 'n Noordedorp gewoed wie se turf blykbaar sit nadat die inspektoraat van visserye toegeslaan het. Die voorval het hom volgens beweringe teenoor Myl 8 afgespeel.

Die vrou met haar skiboot is bekend langs die kus waar sy en haar bemanning in die groot seisoen opgemerk word. Daar word glo nie van sleephellings gebruik gemaak nie en daar word glo van enige plek langs die kant af in- en uitgegaan.

Beweringe

Terwyl op moontlike verslae van die inspektoraat gewag word, word beweer inspekteurs het beslag op die skiboot met sy toerusting, die vrou se voertuig en die vangs gelê.

Die toegelate kwota van 10 visse per hengelaar, in die geval kabeljou, is glo met 170 visse oorskry. Sy is blykbaar ook gevra om die inspekteurs van dié plek na 'n ander plek te vergesel.

Nog beweringe het gehandel oor kreefduikers wat naby Swakopmund aan die pen ry vir oortredings van die viswet.

Op Swakopmund het skiboothengelaars Donderdag van baie goeie vangste teenoor die Vierkantklip net suid van Swakopmund vertel. In die laaste dae van die week is talle skibote daar gewaar.

By Paaltjies, die geslote gebied tussen Walvisbaai en Sandvishawe, was dit relatief stil ná die stroop­togte van vroeër die week.

Die hengelaars wat wel daar gewaar is, het hulle by die opdrag gehou dat kabeljoue aan die hoek terug in die water geplaas moet word.

In die geledere van ­georganiseerde hengel was daar wel kommer dat die ganse gebied tussen Paaltjies en die grens van Sandvishawe in die eerste drie maande van die jaar vir alle vangste gesluit gaan word ná vanjaar se vergrype.

Kennis is ook geneem van toer­instansies wat met voorstelle wil kom dat net hengelsafari's onder leiding van gidse voortaan in die tydperk van drie maande daar toegelaat moet word.

Die gidse sal dan toesien dat by die reëls gehou word. Reserviste het ook aangebied om die inspekteurs te help om die wet af te dwing.

Tydens minister Esau se besoek het dit wel aan die lig gekom dat die ­omstrede prys van hengellisensies voorlopig onveranderd op N$14 per maand en N$168 per jaar gaan bly.

Oor 'n prysverhoging van die ­lisensies word steeds geraadpleeg met 'n aankondiging wat later verwag kan word.

Vir die hardertrekkers van Walvisbaai was daar wel goeie nuus nadat hul regte op dié vangste teen die einde van Desember verstryk het sonder 'n aankondiging in die Staatskoerant van nuwe regte waarvoor aansoek gedoen kon word.

Die vervaldatum van 31 Desember is voorlopig opgeskort totdat aansoeke om hernuwing van regte in die Staatskoerant afgekondig word en nuwe regte toegeken word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!