Swakopmund volgende stop vir jaers
Swakopmund volgende stop vir jaers

Swakopmund volgende stop vir jaers

Jaers het minder as 30 dae oor om hul masjinerie tiptop vir die woestyn te kry.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Met die eerste been van die 2019 nasionale tydrenkampioenskap iets van die verlede, is entoesiastiese petrolkoppe landwyd besig om hul aanvalsma­sjinerie van keuse met sorg vir die volgende ronde voor te berei.

Die Gobabis-tydren wat twee Saterdae gelede vir die eerste keer deur die nuut gestigte Gobabis-motorklub (GMK) aangebied is, het sy kwota van ses slagoffers opgelewer wat deur die spreekwoordelike bul van Cattle Country gegaffel is.

Spanne het nie veel tyd oor om stukkende ratkaste, gebreekte onderstelle of dergelike tegniese gremlins voor die tweede ronde op 16 Maart te herstel nie. Die Walvisbaai-motorklub sal die volgende been van ses byeenkomste digby Swakopmund aanbied.

Manne soos Wilro Dippenaar (S3 Toyota Aurus S2000, ratkas), Richard Slamet (S4 Sti Subaru, gebreekte stuurstelsel in 'n ongeluk), Johan Bergh (S1 Toyota Corolla, deurgeblaaste enjinpakstuk), Etienne van den Heever (S2 Toyota RunX, skade aan die ratkas en enjinpakstuk ná 'n ongeluk) en Pieter Greef (S1 Toyota Corolla, tydsbeperking in laaste sneldeel) was almal slagoffers van die uitstappie na Gobabis.

In die Off Road-afdeling kon Niekie Swarts se VW Spaceframe ook weens 'n gebreekte alternator en 'n afgeloopte battery nie die volle tydren voltooi nie. Jan Everson (S2 VW Polo) was nie in Gobabis nie en kan ook by Swakopmund sy buiging vir die seisoen maak, terwyl Pierre Röhm (S1 Toyota RunX) nog moet besluit of hy vanjaar gaan jaag.

Jaco Redelinghuys, wat sy 45ste verjaarsdag vier dae voor die byeenkoms gevier het, het as geskenk die eerste tydren van die jaar saam met Dries Booysen as navigator gewen. Hy was ook saam met Booysen in 2016 die Namibiese nasionale tyd­renkampioen (S3 en algeheel) toe hy nog met sy ou 4x4 Gobabis Toyota RunX S2000 gejaag het.

“Ja, toe het ons nog met die ou kar gejaag, maar ons het in 2017 die Yaris aangeskaf wat 'n tweede generasie produk is. Met die eerste punte vir die 2019-kampioenskap in die sakkie, sien ek en Dries vir baie kans. Solank die Yaris hou, sal ons deelneem en voluit in elke kompetisie jaag.

“Die Gobabis-tydren is met die hulp, seën en oop hande van Gobabis se gemeenskap aangebied wat ons geweldig ondersteun het.

“Daar was wel 'n paar haakplekke wat ons aan moet skaaf, maar dit is nie die ergste nie. Ons sal byvoorbeeld sekere punte vir toeskouers se veiligheid moet afbaken van waar hulle die aksie kan dophou. Richard Slamet se ongeluk met die boom het ons oë oopgemaak. Die veiligheid van die mense wat ons ondersteun, is die belangrikste vir GMK.

“Al was die trajekte Saterdagoggend ná goeie reën een groot modderbad, was die gees van die deelnemers ongelooflik. Die Gobabis Auto Truck & Tractor-span van Stefan en sy broer Lappies Labuschagne het byvoorbeeld stilgehou om deelnemers met sy V8 land Rover uit die modder te sleep. Waar kry 'n mens nog so iets, waar 'n deelnemer sommer sal ophou jaag om sy mededingers te help?” het Redelinghuys trots vertel.

Die organiseerders van die Gobabis-motorklub bedank Gobabis en sy gemeenskap asook die Namibiese Motorsportfederasie wat die tydren moontlik gemaak het.

Die GMK bedank ook Gobabis Toyota, Bank Windhoek, Van Wyk Grading Services, J.A. Repairs, Bertie Smith Contracter Services (BSCS), HJ Automotive & Forklift Services, Omateko Lodge, Plastic Packaging, Henco Engineering, Gobabis Auto Truck & Tracktor, Die Dam-gastehuis, Lappies Auctioneers, Windpomp Gastehuis, Die Plaaskombuis, On Time Couriers, Gobabis Spar, Auas Motors, Gobabis Guesthouse, Omaheke Megasave, Vermeulen Ingenieurswerke, Doornbult-voerkraal, CW Transport, Willem Beukes, Dirk en Lorette van Wyk, Kühn Automotive Dealers, Mombolo Farming, Kahudu Farming, Kobus Kühn en gesin, Aletta's Meat Castle & Take Away, Rassie Trekker & Velddienste, Midwes-voere, Steen & Beton, Gobabis Shell Diensstasie, Piet Bergh (Plaas Maramba), Paul Ackermann, Engen Eastern One Stop, Ronaldo Opperman en Gobabis Gimnasium wat sake help vlot verloop het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer