Swanu stel soewereine rykdomfonds voor
Swanu stel soewereine rykdomfonds voor

Swanu stel soewereine rykdomfonds voor

'n Soewereine rykdomfonds is volgens Swanu se parlementêre verteenwoordiger, mnr. Usutuaije Maamberua, die antwoord op die land se weerloosheid teen wisselvallige kommoditeits­pryse.

Boonop sal so 'n fonds ­toekomstige geslagte se welstand verseker.

Maamberua het vir die eerste keer hierdie voorstel tydens sy bydrae tot die begrotingsdebat in die Nasio­nale Vergadering (NV) geopper.

Volgens Maamberua sal so 'n fonds die regering in tye van nood toegang tot likiede bates bied, wat belangrik is vir lande wat van minerale bronne afhanklik is en weerloos is vir die skokke van kommoditeitspryse.

Maamberua sê geld moet opsy gesit en belê word sodat wanneer minerale bronne soos diamante, uraan, koper en goud opdroog, dit as 'n meganisme vir fiskale stabilisering kan dien.

“'n Soewereine rykdomfonds wat goed bestuur word, kan die land se kredietgradering 'n hupstoot gee en sal die koste om geld te leen, verminder. Dit sal ook die land se profiel verhoog. Sodoende sal Namibië voordeel kan trek wanneer hierdie pad gevolg word,” het hy in 'n verklaring gesê.

Hy wil graag sien dat die regering 'n lewensvatbaarheidstudie uitvoer en die wetlike raamwerk hiervoor skep sodat dit binne vyf tot sewe jaar 'n werklikheid kan word.

Hy waarsku dat Namibië gebuk gaan onder armoede en lyding terwyl die land met natuurlike hulpbronne geseën is.

“Ons kan nie wag en hoop dat olie ontdek word voordat ons hierdie idee ernstig opneem nie,” het Maamberua bygevoeg.



UNIVERSELE GESONDHEIDSORG

Maamberua neem ook met kommer kennis van die besteding van ­nagenoeg N$2,5 miljard aan ­ongeveer 120 000 ­staatsamptenare en ­ongeveer N$6 miljard wat in die begroting aan die ministerie van ­gesondheid en maatskaplike dienste toegeken is.

“Ek wil die ministerie van ­gesondheid en maatskaplike dienste aanraai om die instelling van universele gesondheidsorg te bespoedig ten einde gelykheid, regverdigheid en waar moontlik ­besparings te weeg te bring.

Dit is ontmoedigend om te besef net ongeveer 16% van Namibiërs het mediese versekering en die oor­blywende 84% het dit nie.”

Hy sê dit is lank reeds 'n bron van kommer vir Swanu wat tydens pres. Hifikepunye Pohamba se bewind 'n voorlegging in die verband aan die presidentskommissie van ondersoek na gesondheidsaangeleent­hede gemaak het.

“Swanu ondersteun die pogings om die lewensvatbaarheid van hierdie gedagte tot voordeel van alle Namibiërs te ondersoek ten volle,” sê Maamberua.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!