Swapo: Balans tussen dissipline, demokrasie
Swapo: Balans tussen dissipline, demokrasie

Swapo: Balans tussen dissipline, demokrasie

Meningsvormers sê solank partylede die belangrikste beleidsbeginsels handhaaf, moet hulle toegelaat word om kritiek op sekere kwessies te lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Meningsvormers sê president Hage Geingob staar 'n dilemma in die gesig: Dissipline moet in die party afgedwing word, terwyl kwessies en beleide ter wille van die Swapo-party se eie binnenshuise demokrasie terselfdertyd gedebatteer moet word.

Dié reaksie van mnr. Graham Hopwood, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), volg nadat president Hage Geingob “oproerige” Swapo-lede tydens die party se sentrale komiteevergadering verlede Vrydag voor stok gekry het.

Geingob het onder meer mede-­Swapo-lede aangemoedig om die strydbyl te begrawe en aan te beweeg ná die “­verdelende gebeurte­nisse” tydens 2017 se verkiesingskongres. Terselfdertyd het hy parlements­lede gevra om die eerste minister, dr. Saara Kuugongelwa-Amadhila, te respekteer.

“Die gevaar van te veel jabroers en –susters kan die party se vermoë raak om krities oor sy rekord te besin en planne ondermyn, wat uiteindelik 'n swakker regering beteken.

“Natuurlik het die president die reg om partydissipline af te dwing en eenheid in die aanloop tot die verkiesing te verwag. Die party se lysstelsel beteken lede van die parle­ment is hoofsaaklik lojaal aan die Swapo-party, eerder as aan kiesafdelings of gemeenskappe,” het Hopwood gister aan Republikein gesê.

Die party moet terselfdertyd maniere vind om kwessies en beleide te debatteer. Anders sal dit sy eie binnenshuise demokrasie en vermoë om innoverende en doeltreffende beleide op te stel, onderdruk, het Hopwood bygevoeg.

“Solank partylede die party se belangrikste beleidsbeginsels handhaaf, kan ek nie sien hoekom parle­mentslede en ander senior partylede nie kritiek kan lewer op sekere kwessies met die doel om debat te skep en beleide te ­verbeter nie,” het hy gesê.



RESPEK

Nampa berig die president het sy ontevredenheid uitgespreek oor 'n reeks kwessies wat die party se eenheid belemmer – hoofsaaklik 'n gebrek aan respek teenoor die eerste minister. Geingob het toegegee daar word van Swapo-parlementslede verwag om onafhanklik te wees en hul standpunte te stel.

“Maar jy is hier danksy Swapo, nie op jou eie nie. Ons werk volgens 'n partylysstelsel. Almal van ons wat in die parlement is, is hier danksy Swapo,” het hy gesê.

“Asseblief, wat ek hier sien ('n gebrek aan respek teenoor mekaar) in die parlement. . . en ek kom dit ook agter in die kabinet. ­Ministers beskik nie oor wat jy 'n kabinet-handleiding sal noem nie,” het hy gesê.

Nampa skryf Geingob het na die minister van gesondheid en maat­skaplike dienste, mnr. Bernard Haufiku, verwys, met wie hy beloof het om af te reken.

“Hulle moet ingelyf word. Hulle weet nie. Kyk wat vertel hulle orals. Ek was geskok om te hoor (wat die) minister van gesondheid gesê het. . . Ons sal dit op 'n ander vlak hanteer,” het die president gesê.

Dít volg nadat Haufiku die president glo in 'n onderhoud met ­Republikein se susterkoerant Namibian Sun daarvan beskuldig het dat hy by sy ministeriële sake inmeng.

Geingob se opmerkings kom ook dae ná die minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, biskop Zephania Kameeta, versoek het die adjunkminister van openbare betrekkinge, mnr. Veikko Nekundi, moet berispe word ná hy die regering glo gekritiseer het.



BEGINSELS VERONTAGSAAM

Geingob het ook Swapo se eenheid bespreek, wat skade gely het weens gebeure in die aanloop op verlede jaar se verkiesingskongres, asook weens gebeure daarná.

Sy grootste bekommernis is dat Swapo-lede nie langer gelei word deur die beginsels van eenheid en kollektiewe verantwoordelikheid nie – binne én buite die party.

“Daardie kompetisie is verby. Laat ons almal hande vat, vooruit beweeg en op die belangrike en dringende agenda vir dienslewering en sosioëkonomiese ontwikkeling fokus,” het hy gesê.

Geingob het diegene wat ongelukkig met verlede jaar se kongres­resultate is, aangeraai om die howe te nader.

Die sentrale ­komiteevergadering vind kort voor Swapo se buiten­gewone kongres plaas, ­waartydens die party noodsaaklike besluite moet neem oor onder meer veranderinge aan hul grondwet.

Geingob het nie 'n datum vir die lang verwagte buitengewone kongres aangekondig nie, berig Nampa.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!