Swapo behou Otjiwarongo, PDM wen in Opuwo
Swapo behou Otjiwarongo, PDM wen in Opuwo

Swapo behou Otjiwarongo, PDM wen in Opuwo

Die tussenverkiesings op Otjiwarongo en Opuwo het nie verrassings opgelewer nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Swapo se kandidaat, me. Marlene Mbakera, het Maandag die tussenverkiesing op Otjiwarongo gewen, terwyl die PDM daarin kon slaag om weer die Opuwo- landelike kiesafdeling in te palm.

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se kiesbeampte vir die tussenverkiesing op Otjiwarongo, mnr. Jafet Karamata, het vroeg Dinsdagoggend by die Swaneveldersaal op Otjiwarongo aangekondig Mbakera het gewen.

Sy het 2 910 stemme op haar verenig, gevolg deur die onafhanklike kandidaat, mnr. Erastus Mbumba (1 020 stemme), en die LPM se kandidaat, mnr. Sebeteus Guiteb, met 752 stemme.

Altesaam 4 707 stemme is uitgebring, met 25 stembriewe wat bedorwe was.

Daar was in totaal 21 786 geregistreerde kiesers.

Dit beteken ’n skrale 21,6% van geregistreerde kiesers het Maandag aan die tussenverkiesing deelgeneem, waarvoor 35 stemlokale ingerig is.

Op Opuwo was die opkoms beter. Daar het 3 141 van die 7 391 geregistreerde kiesers stemme by die 79 stemlokale in die landelike kiesafdeling uitgebring. Dit verteenwoordig ’n stempersentasie van 42,5%.

Die PDM se kandidaat, mnr. Uaurikua Kakuva, het skoonskip in dié tussenverkiesing gemaak.

Die kiesbeampte vir die tussenverkiesing op Opuwo, mnr. Mike Nganjone, het aan Nampa gesê Kakuva het 2 066 op hom verenig.

Die Nudo-kandidaat, mnr. Kapukatua Kuvare, was tweede met 640 stemme en Swapo se mnr. Steyn Katupa was derde met 435 stemme.

Otjiwarongo se tussenverkiesing is genoodsaak deur die Swapo-streekraadslid, mnr. Julius Neumbo, se dood in ’n motorongeluk op 10 Desember verlede jaar.

In die Opuwo- landelike kiesafdeling moes ’n nuwe raadslid verkies word nadat die streekraadslid, mnr. Kazeongere Tjeundo, bedank het om in die nasionale verkiesing op 27 November 2019 vir die PDM te kon staan.

Tjeundo het in 2015 in dié kiesafdeling met 2 209 stemme gewen.

Die PDM was toe nog as die DTA bekend. Nudo se kandidaat, mnr. Japiavi Mbinge, het 859 stemme gekry en Swapo se me. Agnes Musaso 741 stemme.

Die stempersentasie was toe 58,9%.

Wat Otjiwarongo betref, het wyle Neumbo van Swapo in 2015 altesaam 4 565 stemme verwerf, en die DTA- en Nudo-kandidate (me. Esmeralda /Aebes en mnr. Chris Katjivive) 1 254 en 597 stemme onderskeidelik.

In 2015 het 30,5% van geregistreerde kiesers stemme uitgebring.

Nampa berig mnr. Bernadus Swartbooi van die LPM en sy ondersteuners het beamptes van die ECN Maandagnag in die Swaneveldersaal daarvan beskuldig dat hulle lede van dié party beledig het.

Toe die polisie gemoedere probeer kalmeer het, is hulle daarvan beskuldig dat hulle die ECN se kant kies.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!