Swapo druk aanstellings deur ondanks teenstand
Swapo druk aanstellings deur ondanks teenstand

Swapo druk aanstellings deur ondanks teenstand

Die regerende party het gister die land se mees senior korrup­siejagters se ampstermyne verleng in die afwesigheid van die meerderheid van die opposisie se parlementslede.
Dani Booysen
Brigitte Weidlich – Argumente en chaos het gister opnuut die derde dag van 'n spe­siale sitting van die Nasio­nale Vergadering gekenmerk.

Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani van die Popular Democratic Movement (PDM), het met die aanvang van verrigtinge gesê Swapo het tot agtuur Woensdagaand gekoukus. “Sekerlik om 'n strategie te bespreek,” het hy aangevoer.

Volgens Venaani is eers dieselfde aand 'n SMS en later briewe uitgestuur om die spesiale sitting met twee dae te verleng. Hy het op rekord geplaas dat regsadvies ingewin is en op grond daarvan is die sittings onwettig.

Verdere debat is herhaaldelik onderbreek.

Die Speaker, prof. Peter Katjavivi, het versoek dat na die agenda teruggekeer word, naamlik die verlenging van die hoofde van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) se ampstermyne en die aanstelling van drie nuwe verkiesingskommissarisse.

Die meeste opposisielede het met vingers en hande op hul tafels getrommel totdat die sessie ná sowat twee ure verdaag is.

Ná die pouse het opposisieparlementariërs die volkslied begin sing toe die Speaker lede gevra het om oor die kommissarisse se aanstelling te stem.

Die verset is deur die Speaker geïgnoreer, wat Swapo toegelaat het om 'n eenparige meerderheidstem af te dwing. Die meeste lede van die opposisie het hierop uitgestap.

Die debat oor die ACC-aanstellings het kort voor 18:00 begin. In die afwesigheid van die opposisie het die regering mnr. Paulus Noa en me. Erna van der Merwe se termyne verleng voordat verrigtinge tot 7 September verdaag is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer