Swapo gekap oor ‘voortydige’ fees
Die regerende party was in die pekel oor ’n bring-en-braai wat hulle reeds Vrydag by die Sam Nujoma-stadion in Katutura gehou het.
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob, die pas aangewese staatshoof, het al Saterdagmiddag – ure voor die finale kiesuitslae bekend gemaak is – Namibiërs bedank dat hulle hom herkies het.
Dít het die aangewese president in die spervuur laat beland.
Uit veral opposisiegeledere en in die sosiale media is Geingob oor dié oënskynlike voortydige feesviering gekasty.
In ’n bondige aanlyn boodskap sê hy: “Ek wil graag Namibiërs bedank dat hulle my weer verkies het as hul president. Dit maak my nederig en ek verbind my daartoe om Namibiërs te dien met meer passie en uiterste toewyding om tasbare verbeterings aan te bring in die lewe van ons inwoners. Ek het julle gehoor.”
In die lig van die kritiek oor dié boodskap, het sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, kort daarná teruggekap: “In baie jurisdiksies sou mededingers die wenner gebel het en hul verloor toegegee het. Die media sou tot die slotsom gekom het dat dit statisties onmoontlik was om die leidende kandidaat, pres. Hage Geingob, in te haal. Die finale uitslag word ’n formaliteit. Om kiesers te bedank, is nie ongewoon nie.”
Vrydag was die regerende party se orkes, Ndilimani, reeds volstoom in die Sam Nujoma-stadion aan die gang vir ’n bring-en-braai wat Swapo vir sy ondersteuners gereël het.
Die verwagting was aanvanklik dat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) reeds Vrydag die finale uitslae van verlede Woensdag se Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesings sou aankondig.
Dit het nie gebeur nie.
PDM Sê AIKôNA
Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het Saterdagaand buite die ECN se hoofkantoor in Windhoek ’n nuuskonferensie belê.
Die PDM-LP mnr. Vipua Muharukua het gesê hulle beskou nie die afgelope verkiesings as vry en regverdig nie.
Volgens hom dring hulle daarop aan om ’n volledige oudit van alle uitslae te doen voor hulle die groen lig daarvoor sal gee.
Hy het beweer hulle het reeds ongerymdhede uitgelig.
Dié nuuskonferensie was enkele minute nadat Geingob deur die ECN as die oorwinnaar uit verlede week se verbete stryd aangewys is.
Geeneen van Geingob se teenstanders behalwe die leier van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), me. Esther Muinjangue, het Saterdagaand se verrigtinge bygewoon nie.
Die onafhanklike kandidaat, die tandarts dr. Panduleni Itula wat die tweede plek behaal het in die presidensiële verkiesing, het ook geskitter in sy afwesigheid.
Mnr. McHenry Venaani, die PDM-president, wat volgens bestaande gebruik ’n toespraak sou lewer, was eweneens afwesig.
Volgens die ECN se voorsitter, adv. Notemba Tjipueja, was die proses ondanks talle uitdagings wel vry, regverdig en deursigtig.
Die ECN was in die pekel omdat die liggaam nie sy belofte gestand gedoen het om die uitslae binne 48 uur bekend te maak nie.
Itula het Saterdagmiddag geweier om met Republikein te praat oor die verkiesingsproses en die voorlopige uitslae in daardie stadium.
By die ECN se hoofkantoor, waar hy en ander opposisieleiers ’n noodvergadering met die ECN-bestuur wou belê, het hy gesê hy sal praat wanneer die tyd reg is.
Hy kon nie onmiddellik ’n onderhoud toestaan nie, omdat hy besig was om asem te haal, het hy gesê.
Boonop, het die tandarts aangevoer, is sy volgelinge en ondersteuners bewus van sy standpunt.
Venaani, Muinjangue en mnr. Mike Kavekotora van die Rally for Democracy and Progress (RDP) het toe sterk kommer uitgespreek oor die vertraging met die aankondiging en die verkiesingsproses.
Muharukua het Saterdagaand gesê opposisieleiers en Itula het reeds koppe bymekaar gesit om oor die weg vorentoe te besin.
Maar, het hy gesê, hulle hou in dié stadium hul kaarte teenaan hul bors.
Itula was die afgelope weke dikwels in die hof om te verhoed dat elektroniese stemtoestelle (EVM’s) tydens die verkiesings gebruik sou word.
Hy was nie gister beskikbaar nie.
Sy pogings – waarvan een tot in die nanag geduur het – het geen vrugte afgewerp nie.
Die LPM se mnr. Bernadus Swartbooi se foon was gister af. Die party het wel gister op hul sosialemediaplatforms gesê hulle sal nie rus voor die waardigheid van alle Namibiërs herstel is nie.
Tydens ’n nuuskonferensie in Windhoek Vrydag het waarnemers van onder meer die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die Afrika-unie (AU) gesê hul indrukke was dat die verkiesings wel vry en regverdig verloop het.
Maar dié instellings het kommer uitgespreek oor die gebruik van EVM’s.
Die AU sê in hul voorlopige verslag die ECN moet oorweeg om ’n papierspoor in samewerking met EVM’s te gebruik om deursigtigheid te bevorder en vertroue in te boesem.
Die AU raai ook die ECN aan om finansieringsmodaliteite vir politieke partye te oorweeg om te verseker dat die speelveld gelyk is.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie