Swapo-kongres 'nie volgens grondwet'
Namibiërs, insluitende die regerende party, vee hulle deur die bank af aan reëls en beginsels, sê 'n kenner.
Denver Kisting
Dié naweek se buitengewone Swapo-kongres is teenstrydig met die party se eie grondwet.
Só sê die politieke ontleder dr. Charles Mubita.
Hy sê die regerende party se grondwet bepaal net sy sentrale komitee of tweederdes van die uitvoerende gesag van al 14 streke mag 'n buitengewone kongres belê.
Dié kongres, wat môre afskop, is deur verlede jaar se sesde algemene kongres van die party byeengeroep.
Mubita het weggeskram toe hy gevra is of die kongres dus ongrondwetlik is. “Ek sou nie wou sê dit is ongrondwetlik nie. Ons leer elke dag nuwe goed. Wat ek wel weet, is dat die grondwet nie hiervoor voorsiening maak nie,” het hy aan Republikein gesê.
Artikel 5 van die party se grondwet lui die sentrale komitee mag op sy eie 'n buitengewone kongres belê of ten minste 'n tweederdemeerderheid van streek- uitvoerende komitees mag daarvoor vra.
Mubita sê hy verneem voorts die naweek se buitengewone kongres het ook ten doel om die besluite van verlede jaar se kongres te bekragtig.
Die party beplan ook om sy grondwet te wysig. Volgens Mubita kan net 'n gewone kongres die grondwet verander.
Prof. Joseph Diescho, 'n ander politieke ontleder, is van mening dat Swapo hom lankal afvee aan sy eie reëls en grondwetlike beginsels.
“Dit is waarom daar soveel konsternasie is. Dit wil voorkom asof ons afgewyk het van 'n samelewing wat op reëls gegrond is, na een wat op persoonlikhede geskoei is,” het hy by navraag uitgevaar.
Oor die weg vorentoe, meen Diescho: “Om die politiek te verstaan, is om te weet jy weet nie wat die weg vorentoe is nie. Maar ek waarborg jou daar gaan 'n rewolusie wees.”
Volgens hom sal die jeug en armes die voortou neem in dié opstand. “Daar is geen manier dat ons só kan aangaan nie. Die jeug en arm mense gaan 'n drempel bereik en dan sal hulle vernietig.”
Diescho het die toedrag van sake as 'n vernietigende siekte bestempel. “Ons het 'n pandemie van korrupsie en gulsigheid bereik.”
Dié siekte, meen hy, tref almal, ook die private sektor.
Hy sê dit gaan gepaard met 'n kultuur van algehele vrees.
“Vrees is diep in ons harte – álmal is bang, omdat die siekte versprei het.”
In reaksie op die bewerings oor die ongrondwetlikheid van die buitengewone kongres, het me. Sophia Shangingwa, die sekretaris-generaal van Swapo, gister gesê: “Kameraad, ek wil nie hê jy moet my oor dié goed bel nie.
“Ons het 'n buitengewone kongres wat môre begin. Wat wil jy van my af hê?”
Twee Swapo-lede, mee. Selma Nambogo en Mirjam Shituula, het die afgelope week die party en vir Shaningwa hof toe gesleep.
Hulle wou hê dat verlede jaar se kongres ongeldig verklaar word.
Volgens hulle was die verkiesings onwettig, omdat mense wat nie stemgeregtig is nie, soos die streekgoewerneurs, toegelaat is om te stem.
Hulle wou ook hê die hof moes eerskomende naweek se buitengewone kongres in sy spore stuit.
Die Windhoekse hoërhof het egter bevind partye wat 'n regstreekse belang in die saak het, soos die sentrale komitee en die president, moes deel gewees het van die geding.
Shangingwa het onmiddellik ná afloop van die verrigtinge 'n oorwinning verklaar en op straat uitbasuin dat niks die buitengewone kongres sal keer nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie