Swapo kry slae

Lae stempersentasies bly volgens beskikbare uitslae ‘n bron van kommer, ondanks ‘n opskudding op plaaslike owerheidsvlak.
Dani Booysen
Hoofredaksie - Die ontnugtering van kiesers wat Swapo ‘n jaar gelede ‘n gevoelige hou by die stembus toegedien het, het nie gewyk nie.

Inteendeel, in dele van Namibië het die wantroue toegeneem volgens uitslae wat teen druktyd in die verkiesings van streeks- en plaaslike owerhede beskikbaar was.

In dele van die land, veral stedelike gebiede, het Swapo se strydkreet – “Ons het julle gehoor” – duidelik nie kiesers se ore bereik nie.

Slae is uitgedeel in dele van die Erongo-, //Kharas-, Hardap en Kunene-streke, asook elders. Swapo het talle dorpsraadsetels ingeboet – in die Erongostreek alleen reeds 11: 3 in Swakopmund, 2 elk in Walvisbaai en op Arandis en 1 elk op Hentiesbaai, Karibib en Usakos.

In Windhoek-Oos, die setel waarin Staatshuis geleë is en wat Swapo vyf jaar gelede van die Rally for Democracy and Progress (RDP) herower het, was mnr. Brian Black van die nuwe Independent Patriots for Change (IPC) met 3 715 stemme en ‘n meerderheid van 2 100 gemaklik aan die wenkant.

Die samestelling van Windhoek se stadsraad was teen druktyd nog nie bekend nie.

FRAGMENTERING

Die verdeelde opposisiestem het soos talle waarnemers gewaarsku het steeds in Swapo se guns getel. In sekere kiesafdelings het die opposisie gesamentlik meer stemme gekry, maar kandidate van die regerende party het tog die pyp gerook.

‘n Naelskraap voorbeeld is Windhoek-Wes, waar net drie stemme die Swapo-wenner van die IPC-kandidaat geskei het.

In die sentrale en verre noordelike gebiede asook die Kavango-streke het Swapo egter meestal sy greep behou.

In Erongo se kusgebiede het Swapo Walvisbaai-landelik verloor en moes beheer oor die hawedorp se stadsraad asook Swakopmund s’n aan die IPC afstaan. Walvisbaai-stedelik se onafhanklike kandidaat is ook maklik deur die IPC geklop.

Die UDF het die Daures-kiesafdeling behou en Swapo die Omaruru-, Karibib- en Arandis-kiesafdelings.

In die Otjozondjupastreek het Swapo in die kiesafdelings van Okahandja, Otjiwarongo, Otavi, Grootfontein en Tsumkwe weer koning gekraai. Nudo het op Okakarara en Omatako se streekraadsetels gewen.

In die Suide was daar ook verlies vir die regerende party.

Die Landless People’s Movement (LMP ) het ‘n verwagte sterk vertoning, veral in die //Kharasstreek, gestand gedoen. Die party het Keetmanshoop se dorpsetel behou en ook die landelike streekraadsetel gebuit. Die Karasburg-Oos-kiesafdeling is ook deur die LPM by Swapo gebuit. Swapo het Nami#nus net-net behou.

In die Kunenestreek het Swapo vir Outjo gewen. Die Popular Democratic Movement( PDM) het Opuwo-landelik behou en –stedelik gewen. Sesfontein en Khorixas is deur die UDF gewen.

In die Zambezistreek het onafhanklike kandidate in die Kongola- en Linyanti-kiesafdelings gewen.

Swapo sal Rundu se landelike gebied aan ‘n voormalige Swapo-lid, mnr. Paulus Mbangu, moet oorhandig.

ONVERVULDE BELOFTES

Die akademikus en politieke ontleder, mnr. Phanuel Kaapama, meen Swapo se verlies aan steun in Walvisbaai spesifiek het meer met die party se onvervulde beloftes as met die Fishrot-skandaal te doen.

Hy sê die mense van Walvisbaai het swaar gekry vanjaar. Dié dorp is die hartklop van die visbedryf en baie mense het hulle werk verloor. In die toerismebedryf lyk sake ook beroerd. Dan was daar die verwoestende brand in die Twaloloka informele nedersetting.

“Twaloloka is een van die aakligste informele nedersettings,” meen Kaapama en sê Swapo het nie sy behuisingsbelofte aan die mense van dié dorp nagekom nie.

“Baie kinders sukkel aan die begin van elke jaar om plek in skole te kry. Wanneer laas is daar ’n skool gebou? Dit is hierdie brood-en-botter kwessies meer nog as Fishrot wat ‘n rol gespeel het.”

Hy meen die toename in opposisiesteun stedelike gebiede is nie uniek aan Namibië nie. Hy sê in Suid-Afrika het die ANC in die Tswane-metropool steun verloor, net soos Zanu-PF in Zimbabwe in stede soos Harare en Bulowayo steun verloor het.

Tendense wys op plekke ‘n beter stempersentasie in plaaslike owerheidsverkiesings, maar ‘n swakker opkoms in landelike gebiede.

KRY DIE UITSLAE HIER

Teen 19:00 het Namibia Media Holdings (NMH) op sy webwerf reeds uitslae vir 69 uit die 117 betwiste streekraadsetels en 19 uitslae uit 57 plaaslike owerhede vertoon.

By die Verkiesingskommissie (ECN) se hoofkwartier is eers gistermiddag begin met die formele aankondiging van uitslae. Teen 19:00 was uitslae vir 36 streekraadsetels (onbetwiste setels uitgesluit) en nog geen plaaslike owerhede op die ECN se webwerf beskikbaar nie.

Besoek elections.my.na vir die jongste uitslae.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer