Swapo-pot bou stoom op
Swapo-pot bou stoom op

Swapo-pot bou stoom op

Namibiërs behoort teen Sondag te weet wie Swapo se partylys gaan haal en wie nie.
Jemima Beukes
Jemima Beukes - Sewe lede van Swapo se sentrale komitee het hul outomatiese nominering vir die naweek se kieskollege van die hand gewys.

Ná klagtes deur die sekretariaat is verskeie streke gevra om hul verkiesing van afgevaardigdes oor te doen.

Minstens een van die byeenkomste, die vir Oshana, sou eers gister plaasvind. Streke wat nie by die opdrag inval nie, sou die gevaar loop om nie aan die kollege deel te neem nie.

Spanning loop altyd hoog voordat die regerende party sy partylys vir parlementêre verkiesings voltooi. Sowat 200 afgevaardigdes sal aan die kieskollege in Windhoek deelneem.

Mnr. Graham Hopwood reken die stryd tussen die jeug en ringkoppe in die party bly ‘n belangrike faktor.

Vroeër die week het me. Pendukeni Iivula-Ithana, ‘n slagoffer van Swapo se 2017-kongres, aan Nampa gesê politiek is nie vir “kinders” nie.

Volgens mnr. Ndumba Kamwanyah, ‘n waarnemer, word jong leiers nie genoegsaam voorberei om posisies oor te neem nie, maar eerder in faksiegevegte tussen senior lede ingespan. Na sy mening doen die party nie genoeg om die jeug te bemagtig nie.

“Al wat ons sien, is dat jongmense in verskillende kampe gebruik word om die oudstes te beskerm. Vir my is dit nie mentorskap nie. Jongmense word ook in kampe verdeel eerder as om oor ideologiese kwessies en beginsels te verskil,” sê Kamwanyah.

Hy reken die stryd tussen Span Harambee en Span Swapo voor 2017 se partykongres woed steeds voort.

Hopwood is besorgd oor die kwaliteit van persone wat tot die parlement verkies word. Debatte is volgens hom lig in die broek en betekenisvolle gesprekke vind nie oor wetgewing plaas nie.

“Navorsing het gewys vroue dra nie regtig by deur vrae te stel nie,” sê Hopwood. “Vroulike parlementslede, spesifiek Swapo-lede, het nie werklik tot mosies bygedra nie. Ek dink daar is bewyse dat die bydraes van parlementslede uit die regerende party teleurstellend is. ‘n Mens sal ‘n verbetering hierin wil sien in die volgende parlement.”

Mnr. Shaandre Finnies, ‘n kinderregte-aktivis, reken egter Swapo doen met behulp van sy Jeugliga genoeg om die jeug te bemagtig.

“Ek dink president Hage Geingob en die leierskap is bewus van die tekort aan jongmense in bestuurstrukture,” sê hy. “Jongmense het egter bewys hulle kan presteer. Mnr. Marius Sheya, goewerneur van die Kunenestreek, is ‘n goeie voorbeeld.”

Die sewetal wat nie verkiesbaar is nie is: oudminister Immanuel Ngatjizeko, mnre. Elia Kaiyamo (ambassadeur in China), Asser Kapere (hoë kommissaris in Botswana), me. Sirkka Ausiku (Kavango-Wes se goewerneur), Mathew Mumbala (Swapo-koördineerder vir //Karas), Tuarungua Kavari (Kunene) and Ottilie Shinduvi (Kavango-Oos).

Dit was gister onduidelik of ander kandidate ook hul name uit “die pot” gehaal het, soos die kollege alom bekenstaan. Die sperdatum vir onttrekkings was 3 September.

Swapo-parlementslede wat nie deel van die sentrale komitee is nie, kwalifiseer ook outomaties as kandidate.

Die Jeugliga, Swapo se vakbondfederasie (NUNW) en die Raad van Oudstes het elk 12 afgevaardigdes en ses kandidate. Die Vroueliga word verteenwoordig deur 20 lede, waarvan tien kandidate is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!