Swapo se politburo stil oor Swartbooi
Swapo se politburo stil oor Swartbooi

Swapo se politburo stil oor Swartbooi

Die party sê dit sal nie dubbele lidmaatskap toelaat nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die vergadering van Swapo se polit­buro Maandag het nie, soos verwag, beraadslag oor mnr. Bernadus Swartbooi se toekoms in die party nie.

Dit is egter duidelik gemaak daar sal geen dwarstrekkery geduld word nie.

Die sekretaris-generaal van Swapo, mnr. Nangolo Mbumba, sê die politburo het nie op sigself die uitlatings bespreek wat Swartbooi verlede week in die parlement gemaak het nie.

Mbumba wou ook nie direk vrae oor Swartbooi antwoord nie, maar het slegs gesê die “gewone en standaard” manier om kwessies te hanteer, sal op 'n “kollektiewe wyse” toegepas word sonder om 'n spesifieke individu of groep te teiken.

“Die vergadering van die polit­buro was nie om op die kwessie van een persoon te konsentreer nie. Ons wil egter nie hê dat mense oneer en 'n slegte naam aan die kollektiewe naam van die Swapo-leierskap­ of lede binne óf buite die parlement bring nie. Dit het nie net te doen met ­Swartbooi [of me. Ida Hoffmann of mnr. ­Kazenambo Kazenambo] nie. Dit is 'n vereiste wat vir ons almal geld,” het Mbumba gesê.

Die politburo het blykbaar ook nie gepraat oor Swartbooi en ander Swapo-lede se betrokkenheid by die Beweging vir Grondlose Mense nie, maar Mbumba het dit duidelik gestel dat enige ander lidmaatskap nie geduld gaan word nie.

“Hoe lank dit ook al mag neem, die party sal op die regte tyd homself uitlaat oor presies wat, ongeag wie jy is, gedoen sal word. As jy een van ons wil wees, as jy 'n leier in Swapo wil wees, is jy welkom. Wees dan 'n leier in Swapo. As jy jou eie instansie of organisasie wil skep, het jy die vryheid ingevolge die Namibiese grondwet om dit te doen. Niemand keer jou om dit te doen nie. Ons sal egter alle nodige stappe doen om seker te maak daar is geen dubbele lidmaatskap in ons party nie,” het Mbumba tydens 'n nuuskonferensie gister gesê.

Hy het gesê Swapo-lede kan namens hul gemeenskappe praat, maar sê dit is onaanvaarbaar as lede elders dinge sê “wat niks te doen het met wat die Swapo-grondwet voorskryf nie”.

“Dit is nie wat die sekretaris-­generaal sê nie. Dit is die reëls van die party wat so besluit. Mense het die reg om hulself oor enigiets uit te druk, maar kom ons doen dit binne die raamwerk van die Swapo-party se grondwet,” het Mbumba gesê.



POLITBURO

President Hage Geingob het by die politburo-vergadering Swapo-­leiers aangemoedig om alle Namibiërs, ongeag hul ras, etnisiteit of geslag, te verenig as 'n demokratiese en vrede­volle nasie.

Hy het ook gesê die leierskap moet tendense van stam- en streekgebondenheid, etnisiteit en persoonlikheidskultus beveg.

Die politburo het egter kommer uitgespreek oor toenemende neigings om die Swapo-leierskap te beledig en het die lidmate gewaarsku om die party te beskerm teen infiltrasie en destabilisering.

Die liggaam het ook kommer oor die stam-aanvalle op Keetmanshoop uitgespreek en benadruk dat die land aan alle Namibiërs behoort en landsgenote in vrede moet saamleef.

Oor die toenemende eise vir grond en voorvaderlike regte op grond het die politburo gesê: “Namibië en haar bronne, soos onder meer grond en minerale, behoort aan alle Namibiërs.­ Niemand het uitsluitlik en meer as ander die reg oor enige van hierdie bronne nie.”

Die party het die uitstel van die Wet op Grond verwelkom en sê landsgenote moet geduld met die grondkwessie uitoefen en toelaat dat die tweede grondkonferensie met die bes moont­like oplossings na vore kom.

Dit het alle Namibiërs “met 'n diep geskiedkundige belang” in die grondkwessie aangemoedig om hul gedagtes en argumente, teorieë en geskied­kundige aantekeninge oor grond vir die konferensie voor te berei.

Geingob sal die voorsitter van die grondkonferensie wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer