Swapo sidder van die krake
Swapo sidder van die krake

Swapo sidder van die krake

Dani Booysen
Toenemende stemme van verset wat openlik uit die gewoonlik streng gefortifiseerde Swapo-huis opklink, wys hoe broos verhoudings in die regerende party is.

Aan ‘n sakegehoor in Walvisbaai het minister Tjekero Tweya dit as sy morele plig bestempel om op rekord te plaas dat die regering nie besigheid, beleggings en nywerheidsontwikkeling bevorder nie.

Oudpresident Hifikepunye Pohamba betreur dat sy massabehuisingsplan op ys geplaas is. Ook oudpremier Nahas Angula het pres. Hage Geingob bygekom deur praatjies van burgeroorlog as ‘n hersenskim van skuldige gewetes uit te maak.

Al die leiers moet besef Namibiërs het hond se gedagtes oor waar die skielike uitgesprokenheid nou vandaan kom – deur diegene wat deel van besluite was en steeds is.

Die stryd tussen Swapo en dr. Panduleni Itula was ‘n uitloper van groeiende interne onmin, wat met die verkiesings verhewig het. Sedert die Fishrot-skandaal binne hierdie kookpot op die lappe gekom het, het ‘n handjievol ministers uiters kritiese standpunte oor die korrupsie met viskwotas en ekonomiese misdrywe in die algemeen ingeneem. Hulle is deur Geingob voor stok gekry.

Nou het Tweya dwarstrekkery op die hoogste besluitnemingsvlakke opnuut aan die groot klok gehang. Die stand van sake in ons land is ‘n duidelike bewys hiervan. Dié ontboeseming is dus nie so ‘n groot openbaring nie.

Voor die aanwysing van ‘n nuwe kabinet en Geingob en sy regering se inswering op 21 Maart kan vonke net nog hoër spat. Verantwoordelike leiers moet toesien dat landsbelang nie die slagoffer van die skermutselings word nie.

So sê ander

26 Februarie 2020

Tito gaan almal kwaad maak

Verwag ’n gefrustreerde Tito Mboweni wanneer die minister van finansies hom agter die podium staan maak om sy begrotingsrede te lewer.

Die aalwynplantjie wat hy verlede jaar saamgebring het, sal nie blom soos verwag nie, maar sal waarskynlik verlep en verdroog wees, met so ’n paar blare wat al afgeval het.

Te midde van ’n ekonomie wat stagneer; werkloosheid, ongelykheid en armoede wat toeneem; ’n Moody’s-afgradering wat dreig; groeiende staatskuld; Eskom en die SAL wat gedurig nog geld soek; ’n salarisrekening van staatsamptenare wat steeds teen meer as inflasie groei; ryk Suid-Afrikaners wat emigreer; én die onbekende, potensieel drastiese impak van ’n Covid-19-pandemie wat die wêreldekonomie kan ontwrig, het Mboweni geen beweegruimte nie.

Mboweni se grootste probleem is dat hy deel is van ’n regerende party wat so bang is om beheer te verloor, wat privatisering as ’n vloekwoord beskou, wat te bang is om moeilike en ongewilde besluite te neem soos om poste by Eskom en die SAL te sny of die miljoenêr-bestuurders uit die staatsdiens te skop, wat so gefikseer is op ’n sosialistiese sentraal beheerde ekonomie waar die staat oral inmeng, wat nie kan of wil insien dat ’n vrye mark en mededinging tot doeltreffendheid en laer pryse kan lei nie, wat nie in staat is om vinnige en dringende besluite betyds te neem nie.

Verwag ’n fyn balanseertoertjie wat niemand gelukkig maak nie, want om sy somme te laat klop, sal hy besteding moet sny, wat die staat kwaad gaan maak, en belasting moet verhoog, wat die res van ons kwaad gaan maak.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!