Swapo skarrel voor kongres
Augetto Graig – Die sekretaris-generaal van Swapo, me. Sophia Shaningwa, het nie ontken dat die regerende party beplan om ’n reusagtige standbeeld van Namibië se stigterpresident, Sam Nujoma, op die dak van sy nuwe hoofkantoor te plaas nie.
“Hou eers aan,” het sy gister op die spesifieke navraag gesê, en ná ’n kort rukkie: “Wie het jou daarvan vertel? Parkeer eers daardie goed. Ek sal jou vertel wanneer dit die regte tyd is om daardie besonderhede te deel.”
Vrae hieroor wat tevore aan amptelike Swapo-kanale gestuur is, bly onbeantwoord en daar is geen bevestiging dat die standbeeld 10 meter hoog sal wees om die gebou die hoogste in die land te maak nie.
Dit kan ook nie bevestig word wie dit ontwerp het, wie dit bou, van watter materiaal dit gemaak sou wees of hoeveel dit sal kos nie.
Shaningwa het wel aan die kwessie geraak oor waar die honderde miljoene vir die agtverdiepinggebou vandaan kom. Dit terwyl sy gisteroggend ’n passievolle toespraak oor die party se sleutelkwessies vir 2022 gelewer het.
Volgens haar word die nalatenskapprojek deur bydraes van Kalahari Holdings (die Swapo-maatskappy) en sy filiale gefinansier. Sy sê die hoofkantoor was die droom van die party se stigtervaders en spesifiek die van oorlede mnr. Moses //Garoëb, die party se eerste sekretaris-generaal ná onafhanklikwording.
Die gebou sal tot 1 500 deelnemers vir die kongres kan akkommodeer en in die toekoms vir al Swapo se byeenkomste gebruik word, sê sy.
Die party is daartoe verbind om die droom te bewaarheid, sê sy. Op die kritiek dat armoedige inwoners van Katutura eerder ’n nuwe hospitaal benodig, het sy gesê Swapo is bereid om ook ’n nuwe hospitaal te bou. “Sekerlik, as die gemeenskap ’n hospitaal wil hê, sal ons kopkrap om toe te sien dat Swapo vir die mense ’n hospitaal bou. Ons het die grond beskikbaar; die grond waar die aanleg en toerusting (vir die bouprojek) staan, behoort aan die party.
“Die land se stigtersvaders en -moeders het daardie grond vir die party gekoop. As daar aangedring word dat die mense vir Swapo vra om ’n hospitaal te bou, laat dit so wees,” sê sy.
Shaningwa se boodskap aan werknemers en beamptes van die party was egter oor die komende sewende gewone kongres wat vanjaar moet plaasvind.
“Ons sal nie van die kongres weghardloop nie. Dit sal gebeur,” dring sy aan. Juis daarom is die party se politieke kalender oorvol, sê sy.
Alle Swapo-partystrukture, streekliggame, jeugligas, raad van oudstes en vrouerade moet voor die nasionale kongres hul mandaat hernu deur uitstaande kongresse af te handel, sê sy. Die vroueraad se kongres sal op 24, 25 en 26 Februarie plaasvind.
“As julle dit nie gedoen kry nie, sal julle nie toegelaat word om aan die kongres deel te neem nie,” waarsku sy.
“Ons moet almal eers ons mandaat hernu vir die reg om te kan deelneem. Hernuwing van die mandaat is deel van die partybeleid,” sê sy.
Shaningwa het gehamer op die party se beleid en dokumente wat die gedragskode en administratiewe prosedure uiteensit.
“Lees en volg ons partydokumente tot op die letter. Ons grondwet, reëls en prosedure is duidelik,” sê sy.
Van die interne verkiesings wat deel van die verskeie Swapo-liggame se kongresse vorm, sê sy dit moet vry, regverdig en demokraties gehou word.
“Mense is geneig om groepe en spanne te vorm. Ons leer egter uit ondervinding dat groepe en faksies ons geen guns bewys nie. Swapo is een. Ons moet eenheid behou soos ons die verkiesing intree en soos ons hulle verlaat, anders sal ons verloor, en dit kan ons nie bekostig nie,” sê sy. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie