Swapo-strydros sterf
Swapo-strydros sterf

Swapo-strydros sterf

Rumpf se dood verlede week is deur sy familie as onverwags beskryf.
Tanja Bause
Tanja Bause – Namibië se voormalige ambassadeur in die Benelux-lande is Vrydag op Swakopmund oorlede.

Mnr. Hanno Burkhard Rumpf het op 15 September verlede jaar sy 60ste verjaardag gevier.

Hy is in Windhoek gebore en het sy skoolloopbaan op Swakopmund voltooi voor hy op Stellenbosch in Suid-Afrika gaan studeer het.

Op universiteit was hy reeds teen die Suid-Afrikaanse apartheidsregering in die buurland en in Namibië gekant.

Hy was die eerste sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Studenteorganisasie (Nanso), wat ’n onafhanklike Namibië voorgestaan het.

In 1984 moes hy vir sy twee jaar lange diensplig in die Suid-Afrikaanse weermag aanmeld.

Weens Rumpf se politieke oortuigings en sy lidmaatskap van Swapo wou hy diensplig weier.

Hy het egter geweet dié weiering kan hom tot sewe jaar se tronkstraf op die hals haal, en het toe besluit om uit te wyk Duitsland toe.

In 1987 het hy die woordvoerder van Swapo se president, dr. Sam Nujoma, in Duitsland en Oostenryk geword.

Twee jaar later was hy een van die eerste bannelinge wat teruggekeer het om as lid van Swapo se verkiesingspan voorbereidings vir die komende onafhanklikheidsverkiesing te help tref.

Ná onafhanklikheid was hy die permanente sekretaris van die ministerie van omgewingsake en toerisme (1990-1995), van die ministerie van handel en nywerheid (1995-1999) en van die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) (1999-2003).

Van 2003 tot 2006 was hy Namibië se ambassadeur in Duitsland.

Daarna was hy die land se ambassadeur in die Benelux-lande, Switserland en die Europese Unie.

“Hy het einde 2015 afgetree en ’n rustige lewe op Swakopmund gelei,” het sy broer, mnr. Jürgen Rumpf, gesê.

“Sy dood is heeltemal onverwags.”

Rumpf laat sy ma, Rosemarie, sy susters Silke en Dietlind, en sy broer Jürgen agter.

Intussen het die adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, Rumpf gister beskryf as ‘n man van vrede wat hom toegewy het aan die welstand van die mense van Namibië.

“Hy sal onthou word as ‘n hardwerkende, vriendelike mens wie se toewyding tot sy loopbaan bygedra het tot die vorming van Namibië se diplomatieke en internasionale betrekkinge, veral in die verstewiging van die bilaterale ekonomiese bande tussen Namibië en die EU.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!