Swapo swig voor ECN-druk
Swapo swig voor ECN-druk

Swapo swig voor ECN-druk

Me. Margaret Mensah-Williams is een van die regerende party se kandidate wat gister bedank het.
Denver Kisting
Denver Kisting – Sestien uit die 17 van Swapo-lede wat volgens ’n interpretasie van die kieswet – en die Grondwet – verbied word om as Nasionale Vergadering (NV)-kandidate te staan, het gister bedank.

Dit sluit die voorsitter van die Nasionale Raad (NR), me. Margaret Mensah Williams, in.

Mnr. Austin Samupwa, die uitvoerende direkteur verbonde aan die kantoor van Swapo se sekretaris-generaal, het gister die bedankings bevestig.

Volgens hom het die kandidaat wat nie bedank het nie, me. Francina Kahungu, ’n lid van die Windhoekse stadsraad, haar benoeming op die lys onttrek. Sy is intussen vervang.

Mensah-Williams, wat na verneem word uitstedig is, was gister steeds nie vir kommentaar bereikbaar nie.

Die Popular Democratic Movement (PDM), die amptelike opposisie wat 40 mense op hul lys het wat deur die aankondiging geraak word, is onversetlik.

Mnr. McHenry Venaani, die PDM se president, het gistermiddag voet by stuk gehou hulle sal hul kandidatelys onveranderd aan die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) voorlê.

Die ECN stel na verwagting vandag die finale lys van kandidate beskikbaar.

Die verkiesingsliggaam het die afgelope week ’n storm ontketen toe hy aangekondig het hy het ’n regsmening ingewin oor NV-hoopvolles wat tans in die NR, streekrade en plaaslike owerhede dien of ’n regeringsamptenaar is.

Volgens dié mening moet die kandidate onder die kategorie uit hul poste bedank indien hulle op hul partye se lyste wil verskyn.

Die hoofverkiesingbeampte, mnr. Theo Mujoro, het Woensdag gesê die ECN word gepenaliseer omdat hy die wet toepas.

Volgens hom sou dit onregverdig wees.

Mnr. Norman Tjombe, ’n Windhoekse prokureur, het gemeen die regsmening is verkeerd.

Op sy beurt het die politieke ontleder mnr. Graham Hopwood gemeen: “Streng gesproke is die ECN reg in sy regsinterpretasie.”

Maar, sê hy, die verkiesingsliggaam moes politieke partye vroeër oor die standpunt ingelig het “en vir seker voor hulle hul kieskolleges gehou het. Die ECN het vyf jaar gehad om deur die Verkiesingswet van 2014 te werk en te verseker dit het ’n duidelike regsbegrip van al die afdelings.

Dinsdagaand is parlementslede (LP’s) en die media via SMS namens eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila na ’n dringende sessie in die NV ontbied.

Dié boodskap is gister herhaal.

Daar is wyd bespiegel dat LP’s sou poog om die kieswet ter elfder ure te probeer wysig om die ECN-aankondiging te probeer omseil. Dit was toe nie die geval nie.

Met die aanvang van gister se sitting het mnr. Ignatius Shixwameni van die All People’s Party (APP) en Venaani kapsie gemaak.

Venaani het gesê net die land se president of die speaker mag ’n buitengewone sessie belê.

Volgens die adjunkspeaker, me. Loide Kasingo, geld dit net wanneer die NV in reses is.

Gister se sessie is genoodsaak sodat die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, kan kennis gee dat hy aanstaande week die halfjaarbegroting ter tafel wil lê.

Woensdag is die NV-sittings aanvanklik tot Dinsdag uitgestel.

Volgens Schlettwein is dit deur ’n misverstand teweeg gebring.

Hy het toe die eerste minister versoek om die NV-sekretariaat te nader om gister se buitengewone sitting byeen te roep.

Venaani en Kasingo het op mekaar geskreeu voor ’n aantal opposisie-LP’s uit die Huis gestorm het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!