Swapo verontagsaam regulasies

Denver Kisting
Denver Kisting



Die regerende party onder leiding van pres. Hage Geingob is in die spervuur omdat hulle Sondagmiddag Swapo se 60ste verjaardag in die hoofstad gevier het.

Dit word as 'n verontagsaming van die regering se regulasies gesien – enersyds omdat daar meer as tien mense teenwoordig was wat neerkom op 'n massasaamtrek.

Daarnaas word Geingob ook daarvan beskuldig dat hy nie sosiale afstand gehandhaaf het nie.

Op een van die foto's van die saamtrek hou hy oudpres. Hifikepunye Pohamba se hand vas.

Die president was vroeër ook in die sop omdat honderde gaste sy inhuldiging op 21 Maart by Staatshuis bygewoon het.

Die politieke ontleder, mnr. Graham Hopwood, het gister gesê: “Ek dink die Swapo-party moet erken hulle het 'n fout begaan en om verskoning vra vir wat Sondag gebeur het.”

“Indien hulle dit nie doen nie, blyk daar een stel reëls te wees vir die politieke elite en 'n ander stel vir almal anders.”

Wat die afgelope naweek gebeur het, is teenstrydig met die beroep wat die staatshoof op Namibiërs doen om die pandemie te probeer beveg, sê Hopwood.

“Dit gaan heeltemal teen die president se pleidooie vir ­Namibiërs om saam te werk en in ­dieselfde rigting te beweeg wat die stryd teen Covid-19 betref.”

'n Windhoekse prokureur, mnr. Henry Shimutwikeni, het in die sosiale media sy misnoeë te kenne gegee.

Hy skryf op Twitter: “­Besighede gesluit. Werke verloor. Mense mag nie gaan stap nie. ­Geteister wanneer hulle uitgaan. In die tronk gegooi en beboet vir huispartytjies.

“Maar leiers vergader in getalle om te dans en 'n verjaardag te vier en 'n baie lelike koek te eet. As julle ons nie ernstig opneem nie, neem ten minste die land en Covid ernstig op.”

Dr. Alfredo Hengari, Geingob se woordvoerder, het nie op Republikein se navrae gereageer nie.

Mnr. Austin Samupwa, Swapo se uitvoerende direkteur, sê daar was nét 10 mense by die amp­telike verrigtinge. Hulle was Geingob, Pohamba, visepres. Nangolo Mbumba, Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, die adjunk- eerste minister Netumbo Nandi-Ndaitwah, die speaker, prof. Peter Katjavivi, twee veterane en hy wat Samupwa is.

Toe aan hom uitgewys is volgens foto's het minstens een van Geingob se lyfwagte ook die vieringe meegemaak, het hy gesê: “Daar is mense wat nie in my mag is om te beheer nie. Hulle is noodsaaklike werkers.”

Lede van die media was ook daar omdat die pers 'n geraas maak as hulle uitgesluit word, sê Samupwa.

Geingob het in sy toespraak gesê dit is nie om dowe neute nie dat hulle “op so 'n beduidende dag soos vandag gedwing word om in sulke beperkte getalle te vergader”.

Die regerende party sou baie graag 'n groot verjaardagopskop wou hou om sy 60ste bestaans­jaar te herdenk, het hy gesê.

“Helaas, ons kan nie, omdat ons ons op 'n tydstip bevind wanneer menselewe op verskillende maniere negatief geraak word”.

Geingob het Namibiërs geloof omdat hulle die regulasies gehoorsaam wat daartoe gelei het dat nog net 16 gevalle van die virus in die land aangemeld is en geen sterftes nie.

Hy het 'n verdere beroep op inwoners gedoen om tydens die jongste inperking gehoorsaam te wees.

Dié tydperk loop op 4 Mei ten einde.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!