Swart Vrydag-verkope 10% af in klein winkels
Swart Vrydag-verkope 10% af in klein winkels

Swart Vrydag-verkope 10% af in klein winkels

Takealot en Superbalist het weer rekordverkope behaal.
Petrus Malherbe

Swart Vrydag was vanjaar ’n Swak Vrydag vir klein tot mediumgrootte kleinhandelaars, met ’n daling in verkope van minstens 10% teenoor verlede jaar.

Die totale volume goedere wat verkoop is, het ook met 2% gedaal, het Vend bevind.

Vend verskaf programmatuur aan klein winkels om verkope te bestuur. Dié syfers weerspieël derhalwe nie die Swart Vrydag-verkope van groter handelaars soos Makro, Game of die groot supermarkgroepe nie.

“Hoewel daar tekens was dat kopers steeds naarstig na winskopies op Swart Vrydag gesoek het, wys ons data verkope het vanjaar afgeplat,” sê Higor Torchia, streeksbestuurder van Vend.

Die afname in verkope in kleiner winkels dui volgens hom waarskynlik daarop dat kopers eerder aanlyn na winskopies gesoek het.

Takealot en Superbalist het weer rekordverkope behaal.

BLOUKOL-UITVERKOPING

Altesame R196 miljoen se goedere is vanjaar op Takealot se sogenaamde bloukol-uitverkoping van die hand gesit, 125% meer as in 2017.

Dit was ook die meeste mense wat tot nog toe vir die eerste keer aanlyn gekoop het, het Netwerk24 vroeër berig.

Die e-modehandelaar Superbalist het 180 000 items aan 35 000 klante verkoop. Dit is 115% meer as verlede jaar, sê Luke Jedeikin, mede- uitvoerende hoof van Superbalist.

Torchia sê klein winkels het fantastiese aanbiedinge op Swart Vrydag gehad, met sommige handelaars wat afslag gebied het op tot 500% meer produkte as in vorige jare.

Die gemiddelde afslag was 20%, het Vend se data bevind.

Ondanks ’n 300%-toename in die getal afgemerkte produkte, was die verkope van geskenke en huishoudelike en leefstylprodukte net 9% hoër as in ’n gewone week.

Die verkope van speelgoed, sporttoerusting en skoonheidsprodukte was 37% beter as in ’n gewone week.

KREDIETKAARTVERKOPE

Vend het ook bevind meer kopers het vanjaar ’n kredietkaart gebruik. Vanjaar was 53% van aankope in kontant en 45% was op krediet. In 2017 was dié syfers onderskeidelik 58% en 36%.

Kredietkaartverkope was Vrydag so gewild op Takealot se webwerf dat die stelsel in ’n stadium nie meer betalings wou aanvaar nie.

Die winkelgroep het aangedui sy kredietkaart-diensverskaffer het hom in die steek gelaat en kopers aangeraai om van elektroniese oordragte, PayFast of iPay gebruik te maak.

Verskeie ander webwerwe is ook deur dié probleem geraak.

Takealot se webwerf was Vrydagoggend vroeg nagenoeg 40 minute heeltemal vanlyn weens die druk verkeer.

· Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers. Media24 en Naspers besit belange in Takealot en Superbalist. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!