Swartbooi bedank uit Swapo

Die vuurvreter Bernadus Swartbooi sê hy is nou op ‘n “geskiedkundige demokratiese sending”.
Catherine Sasman
Catherine Sasman

Die uitgeskopte Swapo-parlementslid, mnr. Bernadus Swartbooi, het op ‘n amper triomfantelike manier sy uittrede uit die regerende party aangekondig, maar het bespiegelinge dat hy ‘n nuwe politieke organisasie sou stig, afgemaak.

‘n Groot skare was in die Rooi Vlag Kommando-saal in Katutura byeen om na Swartbooi se aankondiging te luister. Hy sê sy gewete laat hom nie langer toe om deel van Swapo te wees nie.

“Dit is ‘n goeie dag vir my, ‘n dag wat die Here gemaak het,” het ‘n uitdagende Swartbooi gesê.

Sy bedanking uit die party volg ‘n dag nadat Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, aangekondig het dat die Swapo-politburo Maandag besluit het om Swartbooi aan die Nasionale Vergadering (NV) te onttrek. Dít waarskynlik weens omstrede uitlatings wat hy by ‘n galadinee van die Beweging vir Grondlose Mense (LPM) op Keetmanshoop gemaak het.

“Ek bedank al daardie lede van Swapo wat oor die jare vir my goed was,” het hy gesê.

Swartbooi sê sy onttrekking uit die parlement was “nie ‘n verrassing nie”.

Hy sê vrae oor hoe hy gaan oorleef is irrelevant.

“Ons is die dienaars van die mense.”

Hy sê: “Ek wil die diktators van Swapo bedank vir die vryheid wat hulle aan ons gegee het deur ons uit die parlement te skop. Ons kan nou by ‘n robuuste proses betrokke raak waardeur ons hul korrupte dade kan ontbloot.

“Ek bly rotsvas by my posisie oor verskillende sake. Terwyl Namibië lof ontvang vir ‘n goeie grondwet, is die leiers dikwels die mees ondemokratiese wesens wat die waardes in daardie dokument verwerp.

“Korrupsie is deel van die sentrale DNS van die party se leierskap.”

Swartbooi het bygevoeg niemand word aanspreeklik gehou vir onder meer die sluiting van die SME Bank en die miljarde wat elders verlore geraak het nie.

GLO MINISTERIËLE POSISIE AANGEBIED

Swartbooi het gister beweer sy onttrekking aan die NV is deels toe te skryf aan die feit dat hy geweier het om pres. Hage Geingob se politieke teenstaanders by die komende Swapo-kongres die stryd aan te sê.

Hy beweer Geingob soek reeds die afgelope vier maande ‘n oudiënsie met hom en dat hy boodskappers gestuur het wat aangedui het dat hy met ‘n ministeriële posisie “beloon” sou word om mense soos mnre. Armas Amakwiyu, Lazarus Jacobs, Kazenambo Kazenambo en Desmond Amunyela af te weer.

Swartbooi sê hy het die aanbod van die hand gewys en sodoende in die partyleiers se onguns verval.

Die president se woordvoerder, mnr. Albertus !Aochamub het teen druktyd nie op ‘n vraag in dié verband gereageer nie.

ANDER SE VERTREK

Mede-aktiviste van die LPM, soos mnr. Henny Seibeb, sê hulle sal ook uit Swapo bedank en voortgaan om hul lewens aan die werk van die beweging te wy, wat propagering vir voorvaderlike grondregte insluit.

Die LPM sê die stryd teen korrupsie en stamgebondenheid word nou by hul agenda gevoeg.

Seibeb sê die LPM sal vir ‘n kommissie van ondersoek vra na die stand van die Namibiese ekonomie en die miljarde wat op twyfelagtige manier spoorloos tussen neus en oë verdwyn het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!