Swartbooi kap kommissie

Die LPM het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om dié liggaam se vergaderings te boikot.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die leier van die Landless People’s Movement (LPM), mnr. Bernadus Swartbooi, het president Hage Geingob uitgenooi om by die LPM aan te sluit, aangesien hy “soos die LPM begin klink”.

Swartbooi het gesê die president en “een ander opposisieparty” begin soos die LPM klink ná Geingob ’n kommissie van ondersoek na voorvaderlike grondeise aangestel het, wat uit 15 lede bestaan.

“Ons bied Hage, teësinnig – want ons besef dat hy LPM word – ’n posisie as lid van die LPM aan, maar 'n posisie waar hy nooit enige uitvoerende pos sal beklee nie; miskien 'n posisie as danskommissielid,” het Swartbooi Dinsdag by ’n nuuskonferensie geskerts.

Voorvaderlike grondeise was sedert die LPM se ontstaan 'n sleutelpunt op sy agenda en Geingob se aanstelling van dié kommissie is vermoedelik 'n verkiesingsfoefie om die wind uit die LPM se seile te neem, sê hy.

Swartbooi beskryf die samestelling van die kommissie as 'n “konglomeraat van marionette wat strategies geplaas word vir ’n spesifieke uitkoms”.

“Dit is weer eens ’n Swapo-komitee. Hierdie mense gee voor om die regte ding te doen, maar met die verkeerde doel, met die verkeerde mense en op die verkeerde tyd,” het hy gesê.

Hy het gesê die kommissie bestaan uit “klein mense” wat die ministers “vir klere, motorbande en lekkers finansier”.

“Hulle het selfs my 80-jarige ouma gekies, wat eerder as 'n kommissielid ondervra moes word; om watter bydrae te lewer?” het Swartbooi met verwysing na me. Anna Fredericks gevra.

Ander kommissielede is die hoërhofregter Shafimana Ueitele (voorsitter), mnr. Phanuel Kaapama (ondervoorsitter), prof. Lazarus Hangula, hoofman Immanuel /Gaseb, mnre. Uhuru Dempers, Willem Kandjore, Joseph Petrus van der Westhuizen en Ryno van der Merwe, en mee. Nadia le Hane, Jeaneth Kuhana en Igenesia Inge Murangi.

Swartbooi het gesê Swapo en die Swapo-regering het nog in geen stadium die afgelope 28 jaar enige steun vir vergoeding vir onteiende grond uitgespreek nie, en die voormalige presidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba het dié beginsel verlede jaar tydens die grondkonferensie verwerp.

“Hulle moes gedwing word,” het hy gesê, en bygevoeg: “Hulle weet hulle speel politiek met onteiende gehore en hierdie gemeenskappe is ook baie bewus van die misleiding."

Die LPM is van mening die kommissie se verslag, ná hul nege maande lange mandaat, sal op ’n rak beland en stof vergader.

Die beweging het gesê die kommissie se ondersoek sal 'n “nuttelose oefening” wees en het gemeenskappe aangemoedig om alle vergaderings daarvan te boikot.

Swanu se parlementêre verteenwoordiger, mnr. Usutuaije Maamberua, het die kommissie ook as “té Swapo” beskryf, wat met die LPM se mening strook dat die kommissie 'n “Swapo-komitee” is.

Swapo se uitvoerende direkteur, mnr. Austin Samupwa, het in reaksie hierop gesê Maamberua se kritiek is “ongegrond en vals”.

Samupwa het gesê hoewel Swanu besluit het om die tweede grondkonferensie nie by te woon nie, wil hulle steeds die uitkoms van ’n proses waarvan hulle nie deel was nie, voorskryf.

Hy het gesê die komitee bestaan uit verskillende lede van die gemeenskap en “weerspieël die inklusiewe benadering” wat president Geingob bevorder.

“Dit is uiters bedrieglik om te beweer die hoogs aangeskrewe lede beskik nie oor die nodige kundigheid nie. Hul kwalifikasies op uiteenlopende gebiede soos geskiedenis, die reg, politiek, landbou, kultuur, insluitende grondaktivisme op verskillende vlakke in geraakte gemeenskappe, bevestig die kommissie kan sy mandaat volledig uitvoer,” het Samupwa gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!