Swartbooi 'sal nie askies sê'

Die polisie het bevestig hulle ondersoek ’n klag van aanranding.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die adjunkleier van die Landless People’s Movement (LPM), mnr. Henny Seibeb, sê mnr. Utoni Nujoma, die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, kan ’n verskoning op sy maag skryf.

Seibeb het in die sosiale media gereageer op ’n brief van Nujoma se prokureur, mnr. Richard Metcalfe, oor ’n beweerde voorval in die Nasionale Vergadering (NV) in Maart vanjaar.

Tydens dié beweerde voorval sou die LPM-leier, mnr. Bernadus Swartbooi, glo Nujoma se ma gevloek en sy eertydse baas se fisieke integriteit bedreig het.

Nujoma dring by monde van Metcalfe aan op ’n skriftelike verskoning van Swartbooi voor hulle die opposisieleier by die Regsvereniging van Namibië (LSN) sal verkla én ’n siviele geding aanhangig maak.

Die beweerde optrede van Swartbooi, ’n toegelate regspraktisyn, sou glo vir Nujoma emosionele pyn en lyding teweeg gebring het.

Dié mans se verhouding het etlike jare gelede versuur toe Nujoma die minister van grondhervorming en Swartboooi sy adjunk was.

Pres. Hage Geingob het vir Swartbooi in die pad gesteek nadat hy nie vir Nujoma om verskoning wou vra oor ’n beweerde belediging rakende die regering se grondbeleid nie.

Komm. Nelius Becker, die hoof van die polisie se afdeling gemoeid met ernstige misdade (CID), het gister by navraag bevestig ’n strafregtelike klag van aanranding deur ’n dreigement staar Swartbooi in die gesig.

“Ja, ’n strafsaak is aanhangig gemaak en word deur die subafdeling: hoëprofielondersoeke binne die CID ondersoek.”- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer