Swartlys sy voorland, su00ea Hatuikulipi
Swartlys sy voorland, su00ea Hatuikulipi

Swartlys sy voorland, sê Hatuikulipi

Die impak van die voortgesette beslaglegging op 'n korrupsiebeskuldigde se bankrekeninge en -kaarte hou glo verreikende gevolge vir verskeie partye in.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die eertydse uitvoerende hoof van Investec Asset ­Management en een van die sogenaamde Fishrot-beskuldigdes, mnr. James ­Hatuikulipi, sê sy bankrekening is N$150 miljoen in die rooi.

Dít het gekom nadat die minister van finansies, mnr. Calle ­Schlettwein, of van sy beamptes glo by dié rekening betrokke was, voer Hatuikulipi in hofstukke aan.

Hy vra die hoërhof in 'n beëdigde verklaring van meer as 40 bladsye in 'n dringende aansoek om toegang tot sy twee persoonlike bankrekeninge te herstel, asook dié van 'n medebeskuldigde, mnr. Tamson Hatuikulipi, en dié van besighede waarby hulle betrokke is.

James Hatuikulipi sê hy het omstreeks 15:30 op 15 November verlede jaar ontdek een van sy persoonlike bankrekeninge is gevries.

“Ek was geskok omdat dít die rekening is waarin ek my salaris van Investec en my raadslidfooie ontvang.”

Hy sê hy het dieselfde dag ontdek sy tweede bankrekening by 'n ander handelsbank is ook gevries.

Hatuikulipi sê hy was eweneens geskok omdat hy dié rekening gebruik om geld uit die ander rekening aan te wend vir sy aftrekorders.

Tamson Hatuikulipi en hul gesamentlike besighede se rekeninge “is onder soortgelyke omstandighede as myne in dieselfde tydperk gevries”.

'n Totaal van 15 bankreke­ninge is gevries, lui die hofstukke – glo deur samewerking tussen die sentrum van finansiële intelligensie (FIC), die FIC se direkteur, die Teenkorrupsiekommissie (ACC), die minister van finansies en die aanklaer-generaal.

James Hatuikulipi sê hy het op 18 November by een van die banke navraag gedoen oor hoekom hy nie meer toegang tot sy persoonlike fondse het nie.

Maar, sê hy, 'n 40 sekonde lange video het reeds dae tevore die ronde gedoen waarin mnr. Paulus Noa, die direkteur-generaal van die ACC, glo aan teenkorrupsiebetogers gesê het die ACC is besig om stappe te doen om die Fishrot-beskuldigdes se bankrekeninge te vries.

Nadat die bankbeampte hom meegedeel het sy kan hom nie help nie, het hy “uit desperaatheid” by sy prokureur om hulp aangeklop.

James Hatuikulipi sê hy word veral dwars in die krop gesteek omdat algehele toegang tot sy rekeninge opge­skort is.

Hy meen dít is teenstrydig met wetgewing en die Grondwet, soos sy en sy geliefdes se reg op waardigheid. “Hierdie saak handel oor on­wettige en onregmatige optrede deur ­openbare liggame teen private inwoners.”

Nege dae later was die twee Hatuikulipi's en mnr. Sacky Shanghala, die oudjustisieminister, mnr. Bernhard Esau, die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, en mnre. Ricardo Gustavo en Pius Mwatelulo agter tralies weens die beweerde plundering van Namibiese viskwotas ten bedrae van etlike miljoene Namibiese dollar.

Hy sê hy en sy geliefdes en sy werknemers en hul geliefdes trek swaar weens die voortgesette versuim van die owerhede om toegang tot hul rekeninge te herstel.

Onder meer, sê hy, loop hy die gevaar om geswartlys te word, sê James Hatuikulipi, wat aanvoer hy stoei ook met hoë bloeddruk.

Dit sal sy kredietwaardigheid in die gedrang laat beland, sê hy.

James Hatuikulipi sê voorts hulle sukkel om hul regskostes te betaal en moes hulle intussen tot derde partye vir hulp wend.

Hiernaas, sê hy, loop hy die gevaar om sy lewenspolisse, ander versekering en mediesefondsvoordele weens wanbetaling te verbeur.

Sy huiswerkers en die werknemers by die ondernemings, waarvan hy 'n lid is, moes reeds sedert November sonder hul salarisse klaarkom, sê hy.

“Indien ek of enige van die ander aansoekers nou sou sterf, sal ons polisse nie uitbetaal nie en ons sal ons eiendom verloor wat verseker is en waarteen verbande geregistreer is. As ons siek raak, sal ons nie ons mediese fondse kan gebruik nie en toegang tot ons persoonlike dokters hê nie. Ek ly aan hoë bloeddruk en die situasie om nie toegang tot ons rekeninge te hê nie plaas ons lewens en gesondheid in groot gevaar.”

Die respondente het aangedui hulle gaan die aansoek teenstaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!