SWATF-Koevoet-lede eis erkenning

NamVet het vandeesweek opnuut geëis dat die Veteranewet gewysig word om sy lede die nodige erkenning en ondersteuning te bied.
Ronelle Rademeyer
Tanja Bause - Sowat 400 lede van die Namibiese Oorlogsveteranetrust (NamVet) het Woensdag na die parlementsgebou in Windhoek gestap om ''n versoekskrif aan die speaker, prof. Peter Katjavivi, te oorhandig.

Volgens die lede is die Veteranewet van 2008 diskriminerend, omdat dit net diegene erken wat aan die kant van Swapo geveg het.

SWATF-Koevoet het die Swapo-regering in die verlede reeds gevra om die wet te wysig om voorsiening te maak vir alle oudsoldate, ondanks watter kant hulle tydens die gewapende konflik geveg het.

Die lede sê voorts die wet moet voorsiening maak vir alle Namibiërs wat vóór 1961 vir die Suid-Afrikaanse weermag geveg het asook dié wat militêre diens aan beide kante van die Namibiese vryheidsoorlog tussen 1966 en 1989 verrig het en sodoende tot die land se onafhanklikheid bygedra het.

NamVet vra ook dat lede van die Namibiese weermag, dié wat hul militêre opleiding voltooi het en nie meer in diens is nie, as veterane erken word.

In pas met oorlogveteraanwette wêreldwyd, sê NamVet is die oorkoepelende doel van die wet om oorlogveterane te ondersteun om die oorgang van aktiewe diens na die burgerlike lewe te kan maak.

Dit moet voorts veterane met gestremdhede ondersteun, die lewensgehalte van alle veterane en hulle afhanklikes verbeter en voordele en dienste verbeter om te verseker dat hulle tot die ontwikkeling van die land kan bydra.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer