Sweep klap: Sokkerwiele moet begin draai
Sweep klap: Sokkerwiele moet begin draai

Sweep klap: Sokkerwiele moet begin draai

Op ministeriële vlak is gister bepleit dat ’n pad van vrede en harmonie in die sport herstel word.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Me. Agnes Tjongarero, minister van sport, jeug en nasionale diens, het gister ’n kommissie van ondersoek na sokker se deurmekaar sake in die land aangekondig.

Ná etlike seisoene se gesloer, binnegevegte en rugstekery, het Tjongarero besluit sy het genoeg gehad van onbevoegde sokkeradminastrasie in die land en het ’n sterk onafhanklike komitee aangestel om binne 30 dae ’n oplossing vir sokker se probleme moet vind.

’n Reeks knelpunte het die ontwikkeling en voortbestaan van die sport die afgelope paar jaar so erg gekniehalter dat die uiteinde bloot ’n verleentheid en lagwekkende brousel vir sokkerliefhebbers en die Namibiese nasie geword het.

Hoewel al die rolspelers glo hulle tree reg op, is dit duidelik dat ego’s en persoonlike gewin ’n rol in die modus operandi van sommige administrateurs speel.

Eers is Barry Rukoro, toe die sekretaris-generaal van die Namibiese Sokkervereniging (NFA), met groot omstredenheid uit sy stoel gelig. Ná nog ’n potjie ongure sokkerpolitiek is mnr. Frans Mbidi, toe nog die NFA-president, deur die NFA-uitvoerende komitee uit sy amp geskors. Fifa het verlede jaar ’n normaliseringskomitee aangestel om die leierlose NFA-skip deur onstuimige troebel waters te stuur.

Die Fifa-normaliseringskomitee (NK) het uit onkunde ook telkens in ’n slaggat getrap, maar het volgehou sy Fifa-mandaat word korrek uitgevoer. Die volgende stap deur die NK was om die Namibië Premierliga (NPL) summier as lid van die NFA te skors. Vroeër vanjaar is die NPL van sy NFA-lidmaatskap onthef en het die NFA besluit om self sy eie topliga in die lewe te roep.

Die nuut verkose voorsitter van die NFA, mnr. Ranga Haikali, asook Franco Cosmos (nou die NFA se waarnemende sekretaris-generaal), het beide op die NK gedien en is volgens Fifa nie gemagtig om op die NFA-bestuur te dien nie. Maar volgens Haikali en kie is daar geen fout met hul optrede en bestuursvernuf nie.

Dié gesoute ondersoekspan wat gister bekendgestel is, bestaan uit me. Roswitha Gomachas, Heritha Nankole Muyoba, mnre. Thomas Mbeeli, Walter Don, Bro-Mathew Shinguandja en Stanley Mutoya. Hulle sal aan die Namibiese Sportkommissie (NSC) verslag lewer.

Tjongarero, bygestaan deur haar adjunk me. Emma Kantema-Gaomas, het gesê: “Sokker word deur menige lande as ’n groot deel van sy kultuur en maatskaplike ontwikkeling gereken. Die invloed van sokker kan daagliks oor die wêreld gesien word. Dit is ’n spel wat mense bymekaar bring, generasies inspireer asook spangees en nasiebou bevorder.

“Ons in Namibië is geen uitsondering nie. Sokker as ’n nasionale sport moet aan die voorpunt van ons ontwikkelingsplanne wees. Dit is belangrik vir dié ministerie om sy doelwitte te onderstreep.

“Ons is daar om sport te bevorder. Ter wille van ons sokkerspelers wat tans onder ondeurdagte besluitneming swaarkry, moet ons harmonie en vrede in sokker bewerkstellig. Die huidige toestand in ons sokker het lankal reeds die rooi ligte laat flikker en is kritiek.

“Al hierdie onnodige gekibbel veroorsaak dat ons nie sokker kan ontwikkel nie en plaas ’n ernstige demper op ons ministerie se verklaarde doelwitte. Ek is Maandag deur die Sportkommissie in kennis gestel van sy gesneuwelde pogings om sake in sokker te beredder.

“Daarom is hierdie kommissie van ondersoek byeengeroep om die ministerie en die NSC met die nodige aanbevelings by te staan. Die kommissie sal onafhanklik en sonder vooroordele die beste uitweg vir sokker vind. Wanneer ons hul verslag ontvang, sal ons die pad van ons land se sokker vorentoe beplan.”

Mnr. Sivhute Katamba, direkteur van sport in die ministerie, het nie doekies omgedraai nie.

“Ons sou nie in hierdie posisie gewees het as gekose sportleiers nie ondeurdagte besluite geneem en deurgevoer het nie. As jy gekies is om ’n sportkode te lei, is jy deur die mense van Namibië gekies en jy lei daardie sportkode namens die Namibiese nasie. Jy is nie daar vir jou eie gewin of persoonlike voorkeure nie, en dit geld vir enige sport in ons land.

“Dié praktyke moet nou stop, want daar gaan ’n dag kom wanneer die regering sal moet ingryp om orde in sportverenigings te herstel. En dit is nie ver in die toekoms nie. As ek wat Katamba is vandag hier staan en dink ek is die belangrikste mens, maak ek ’n fout.

“As jy nie besef dat jy namens die land se mense daar is nie, mis jy die punt. Weens persoonlike agendas en ego’s is dit ons atlete (sokkerspelers) wat regtig daaronder ly. Ons atlete word ontneem van geleenthede om kos op die tafel te sit. Dink aan die groter prentjie,” het Katamba gewaarsku.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!