Swem dat die biesies bewe
Sanet de Swardt – Ons het die tyd van die jaar bereik waar 39 dae soos ’n leeftyd begin voel. Ja, jy het reg verstaan. Kersfees is om die draai.
Die gevoel van wanhoop begin posvat en jy kom by ’n kruispad waar jy moet besluit of jy die aftog wil blaas en boedel oorgee, óf verbete wil aanhou baklei. Maar dan besef jy moed opgee is nie ’n opsie nie. Dit laat my terugdink aan die televisieprogram van die trein wat tjoeke-tjoeke-paf, tjoeke-paf-paf-paf nooit moed opgegee het nie. Hy het altyd sy bes probeer, al was sy omstandighede hoe moeilik.
Jy klou verbete aan jou gemoedsrus en geestesgesondheid. Jou vingerpunte begin lam en seer raak, maar klou sal jy klou. Die afgelope paar jaar was ook nie maklik nie. Die enigste keuse is om voort te strompel en die beste van die saak te maak.
Maar die krakies begin wys. By die werk klim jy vinniger op jou perdjie as gewoonlik en by die huis voel die kleinste dingetjie soos ’n Mount Everest wat jy moet uitklim. Agter die stuur voel jy soms road rage is ’n vulletjie teen wat jy in daardie stadium voel. En as die verkeersligte en tyd nie saamspeel nie, dan raak die situasie veel erger. Ek het nou al gedink ek moet ’n brief aan die verkeersafdeling skryf en voorstelle oor ’n paar verkeersligte maak. Soos die een by die Katutura-afrit. Die verkeersligte gee my elke oggend hoofbrekens en maak dat ek elke oggend skakerings van rooi sien. Soos ’n bul met ’n rooi lap voor hom. So rukkie terug was dié verkeersligte stukkend en dit was hemel op aarde. Die verkeer, met taxi’s en al, het normaal gevloei. Jy moet nou wel oë agter jou kop hê, omdat dit ’n vierrigtingstop is, maar die verkeer het nie opgehoop nie. Ons maak al ’n grap dat ons vir die reën wag, dan sal dié verkeersligte weer probleme gee.
Dieselfde geld vir die verkeersligte by WHS. Hoekom moet die mense wat van Maerua Mall se kant kom en Klein Windhoek toe wil draai, altyd voorkeur geniet? Maak nie saak watter tyd van die dag jy daar stop nie. Wat maak dié mense meer spesiaal? Volgens my skeep die munisipaliteit sekere bestuurders af en dit voel of ek in daardie ongelukkige groep beland het. Ek kan klomp voorbeelde opnoem waar verkeersligte elke dag my genot steel. Ek wonder wanneer laas het die munisipaliteit die verkeersligte hersien om die verkeer optimaal te laat vloei. Verkeerspatrone het oor die afgelope 10 jaar verander; ek sê maar net.
Die gier deesdae is mos om versoekskrifte op te stel en optogte te hou. Miskien is dit nie ’n slegte idee nie, dan kan ek my griewe lug en miskien, miskien word daar iets aan gedoen. Om eerlik te wees, gaan ek nie my asem ophou nie.
Die verkeersafdeling besef net nie dat hierdie verkeersligte ons lewens (veral myne) elke dag bietjies-bietjies verkort nie. Ek sal my kop op ’n blok sit dat die dokters saam met die verkeersafdeling werk om ons te dwing om meer dokter toe te gaan, veral vir erge hartkloppings en hoofpyne. Ja, ek het ook my samesweringsteorieë. Ek trek wel die streep by die 5G- en inentingsteorieë, maar dit daar gelaat.
Sterkte vir die laaste paar weke voor Kersfees. Hou jou kop omhoog en swem dat die biesies bewe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie