Swendelaar na RSA gedeporteer
Swendelaar na RSA gedeporteer

Swendelaar na RSA gedeporteer

Die veroordeelde bedrieër is permanent landuit geskop en as ’n onwettige immigrant gelys.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Die Suid-Afrikaanse burger wat in Namibië op verskeie klagte van bedrog skuldig bevind is en wat daarna die staat vir kwaadwillige en onregmatige vervolging gedagvaar het, sal nou gedeporteer word en nie na Namibië kan terugkeer nie.

Regter Nate Ndauendapo het die swendelaar Adriaan Pienaar (60) se regseis vir N$5 miljoen van die hand gewys en van die rol geskrap.

Die aanklaer-generaal het aangedui dat die immigrasietribunaal beplan om Pienaar as ’n onwettige immigrant te lys, wat beteken dat hy nooit weer die landsgrense sal kan binnekom nie.

SKULDIG AAN BEDROG

Pienaar is in 2019 skuldig bevind aan bedrog wat hy in Mei tot November 2009 gepleeg het. Die streekhof het hom tot ses jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort is vir ’n tydperk van vyf jaar indien hy nie soortgelyke oortredings pleeg nie. Hy was ses jaar in aanhouding voordat sy hofsaak afgehandel is.

Voor sy skuldigbevinding was hy reeds besig om ’n tweejaarvonnis vir soortgelyke oortredings uit te dien.

Hy het kredietaankope by ondernemings oraloor die land gemaak wat hy nooit betaal het nie. In Windhoek het hy onder meer sigarette ter waarde van sowat N$200 000, ’n televisiestel van sowat N$124 000 en vleisprodukte gekoop sonder om ooit daarvoor te betaal.

N$5 MILJOEN REGSGEDING

Pienaar het beweer dat hy in 2013, toe hy reeds agter tralies was, onwettiglik in hegtenis geneem is met betrekking tot sy immigrasiestatus.

Hy het ook aangevoer hy was vir meer as drie jaar sonder rede in aanhouding.

Die staat het aan die hof verduidelik dat Pienaar nie opnuut gearresteer was nie, maar slegs van verskeie oortredings aangekla was. Dié klagte is later by die bedrogklagte gevoeg waarop hy ten einde skuldig bevind is.

Die staat het geargumenteer dat hoewel Pienaar tevore gewaarsku is om nie na Namibië te reis nie, het hy nogtans teruggekeer en sonder ’n geldige werkspermit hier besigheid gedoen. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!