Swerm bruinsprinkane sak op Divundu toe

Swerms sprinkane is vandeesweek op twee plekke in die Divundu-omgewing opgemerk en kenners meen hulle kan groot verwoesting saai.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Groot swerms bruin­sprinkane is sedert Maandag in die Kavango-Oosstreek opgemerk, met oogge­tuies wat sê hulle het nog nooit tevore so iets beleef nie.

Video's van die sprin­kaanswerms is Maandag by die Ngepi-kampeerplek geneem, waarna dr. Francois Jacobs die swerms 'n dag later by die Kamutjonga- Binnelandse Vissery-instituut (Kifi) opgemerk en afgeneem het.

Jacobs sê hy het in sy leeftyd nog nie so iets gesien nie.

Beide dié plekke is in die Divundu-omgewing – 'n klein nedersetting aan die suidoostelike oewer van die Okavangorivier in die Kavango-Oosstreek.

Die nuus kom minder as 'n week nadat groot swerms rooisprinkane etlike kilometer verder suid in die Grootfontein-omgewing by die Mururani-hek, asook plek-plek in die Zambezistreek opgemerk is.

Dr. Gerhard Verdoorn van CropLife SA het die nuutste swerm in die Divundu-omgewing op foto's as die bruinsprinkaan geïdentifiseer.

Verdoorn sê hierdie spesie is potensieel ewe verwoestend as die rooi­sprinkaan. Hy meen al die sprinkaanplae kan 'n fiasko vir Namibië beteken.

VERWOESTEND

Sprinkaanplae is bekend daarvoor dat dit groot verwoesting in weivelde en onder gewasse veroorsaak omdat die insekte gras, koring en mielies vreet.

In 'n insek-kaleido­skoop deur Mieliestronk.com word beide die rooi- en bruinsprinkaan as die twee tipes treksprinkane uitgewys wat bekend daarvoor is dat dit erge verwoesting in Suider-Afrika kan saai.

Volgens die kaleido­skoop word die gewig van 'n groot swerm tot op 15 000 ton geskat en is so 'n swerm se daaglikse voedselinname na raming gelyk aan dié van 1,5 miljoen mense.

“Ná 'n sprinkaan-inval vrek ander diere dikwels van die honger, of omdat hulle gedwing word om die giftige plante te vreet wat die sprinkane oorgeslaan het. Mense kan ook as gevolg hiervan deur hongersnood getref word,” lui die insek-kaleidoskoop.

Volgens die kaleido­skoop kom die bruinsprinkaan in twee vorms voor: Die alleenloper-voetgangers is gewoonlik groen, bruin of grys en die swermvoetgangers het helder swart-en-oranje patrone (laasgenoemde staan ook bekend as rooibaadjies).

“In die reël trek sprinkane ná 'n paar jaar nadat gunstiger klimaatstoestande, met genoeg kos en water, asook die regte temperatuur voorgekom het.

“Namate die voetgangers in 'n sekere gebied toeneem, veroorsaak die verdringing dat hulle mekaar irriteer. Dit lei tot die swermfase. Die nimfe word donkerder, koorsiger en aktiewer.

“Uiteindelik begin die hele menigte marsjeer asof hulle deur 'n massa­psigose voortgedryf word. Algaande word hulle volwasse en ontwikkel vlerke en begin vlieg,” is geskryf.

• Kyk gerus dr. Francois Jacobs se video op ons Facebook-blad van die swerm bruin sprinkane in die Divundu-omgewing.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!