Swjoes, toe tref die blinde sambok die Withuis
Swjoes, toe tref die blinde sambok die Withuis

Swjoes, toe tref die blinde sambok die Withuis

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Dink jy hulle behandel Trump met bleikmiddel, giggel-vra oudkollega Estelle toe ons die naweek oor die Withuis se corona-lot gesels.

Die blinde sambok kon die Trump-administrasie nie op ’n meer ongeleë tyd getref het nie. Die presidentsverkiesing is om die draai.

’n Mens wil nou nie met die magtigste man in die wêreld se siekbed spot nie, maar hoe kán ’n mens nie ’n sweem schadenfreude ervaar nie?

Sy argeloosheid oor die dra van maskers en die handhawing van goeie Covid-19-etiket is nie juis ’n staatsgeheim nie.

Die omstandighede en gedrag verlede Saterdag in die roostuin by die Withuis toe Trump vir Amy Coney Barrett as nuwe regter in die hooggeregshof benoem het, was ’n teelaarde vir virusoordrag. Innige wangkusse, stewige handdrukke en ’n skouer-teen-skouer sittery was aan die orde. Gaan kyk maar na die foto’s. Al die rooi vlae vir blootstelling het punt in die wind gewapper.

In die sowat tien maande nadat die virus in Wuhan begin amok maak het, is die wêreld se leiers dit nie gespaar nie. Verskeie staatshoofde, eerste ministers, ministers en talle hoë amptenare tel onder die meer as 34 miljoen mense in die wêreld wat Covid-19 opgedoen het.

In Namibië het die virus baie na aan die Noord-Koreaanse paleis op die bult gaan draai. Visepresident Mbumba Nangolo en kabinetsekretaris George Simataa moes beide tyd in isolasie deurbring nadat hulle positief getoets het.

Prins Albert II van Monaco was die eerste staatshoof wat sommer vroeg in die pandemie al positief getoets het. Sy kantoor het op 19 Maart in ’n verklaring bekend gemaak dat hy Covid-19 opgedoen het.

In Brittanje was beide premier Boris Johnson en Prins Charles positief, met Johnson wat in ’n stadium ernstig siek was.

Brasilië se pres. Jair Bolsonaro het lig daarvan afgekom en hy was sommer gou op die been.

Die presidente van Bolivia, Guatemala en Honduras en die eerste ministers van Armenië en Rusland is ook op die lys.

Bolivië se pres. Jeanine Añez het ander as haar eweknie in Honduras, pres. Juan Orlando Hernández, net ligte simptome gehad. Hernández moes soos Johnson en Trump gehospitaliseer word en het suurstof nodig gehad.

In Nigerië is pres. Muhammadu Buhari se stafhoof, Abba Kyari, aan die virus dood en die minister van buitelandse sake, Geoffrey Onyeama, moes tuis isoleer toe hy positief getoets het. Ten minste agt Nigeriese goewerneurs het ook die afgelope maande Covid-19 opgedoen.

Armenië se eerste minister, Nikol Pashinyan, is in kwarantyn geplaas nadat sy familie siek geword. Hy het nie simptome ontwikkel nie. Sy Russiese eweknie, Mikhail Mishustin, was minder gelukkig en moes gehospitaliseer word nadat hy die virus opgedoen het.

In Gambië het die visepresident, Isatou Touray, en verskeie ministers in Augustus positief getoets. Dit het meegebring dat pres. Adama Barrow, in kwarantyn geplaas en gemonitor moes word.

In Iran het visepresident Masoumeh Ebtekar ook die virus opgedoen en Kanada, Frankryk en Duitsland se Justin Trudeau, Emmanuel Macron en Angela Merkel hulself geïsoleer nadat hulle blootstelling gehad het.

Die virus ontsien nóg koning, nóg kneg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!