Sy hande moet besig bly

’n Inwoner van Gobabis bou kakebeen-en transportwaens volgens dekades oue planne.
Tanja Bause
Tanja Bause – Ná 30 jaar as ’n tandarts het Frans van der Mark (75) besluit om af te tree en bou nou onder meer ossewaens uit hout volgens planne wat uit die 1800’s dateer.

“Mense moet nie skaam oor ossewaens wees nie; dis deel van ons geskiedenis. Die waens is gebruik om die land op te bou en ons moet trots daarop wees.”

Frans is in Nederland gebore en het in 1954 op ’n jong ouderdom saam met sy ouers en agt susters en broers Pretoria toe getrek.

“Ek het in ’n huis met ambagsmanne grootgeword. My pa was ’n messelaar wat op ’n jong ouderdom ’n troffel in my hand gedruk en gesê het jy moet leer bou. Ek was die jongste en ook die enigste een wat die kans gekry het om universiteit toe te gaan waar ek baie ontuis gevoel het.”

Frans wou in ’n mediese rigting studeer, maar nadat ’n dokter gesê het dis baie moeilik wanneer jy ’n pasiënt verloor en dat hy nie baie tyd vir homself of sy gesin sal hê nie, het hy besluit om eerder tandheelkunde te studeer. Ná sy studies het hy vir 30 jaar op Ellisras in Suid-Afrika gepraktiseer.

“Ek het my pa se ambag by hom geleer en ek en my vrou, Coby, het saam en sonder enige hulp ons vierslaapkamerhuis in Ellisras gebou. Wanneer ander manne gholf gaan speel het, het ons gebou. Sy het my gehelp om die sement te meng en die stene aan te dra. Ek het die bouwerk gedoen en saam het ons ’n huis gebou.”

Frans het ook nog altyd houtwerk gedoen. So het hy ook die hemelbed self gemaak waarop hy en Coby nou nog slaap, nog voordat hulle in die huwelik getree het.

“In plaas daarvan om gholf te speel of so het ek het nog altyd bietjie houtwerk gedoen, selfs toe ek studeer het. Ek hou daarvan as my hande besig is.”

NAMIBIË

Frans en sy gesin het oor die jare nog altyd Namibië toe gekom om te hengel.

Een van sy kinders het ’n vakansieromanse aangeknoop en op die ou einde in die huwelik getree. Nou werk van sy kinders in Windhoek en ouma en oupa het in 2008 Gobabis toe getrek om nader aan die kleinkinders te wees.

Hier het Frans weer ’n huis gebou; die keer egter met ’n bietjie hulp.

Hy het die huis verkoop en vir hom en Coby ’n woonstel op ’n plot gebou waar hulle nou saam met die kinders woon.

HOUTWERK

In 2012 wou Frans iets vir die kerk se basaar maak sodat dit vir liefdadigheid verkoop kan word.

“Ek het lank gedink oor wat ek wil maak en toe op ’n ossewa besluit. Ek het gesukkel om planne in die hande te kry. Ek het toe op planne vir ’n kakebeenwa afgekom. Dit was 22 A3-bladsye met fyn gedetailleerde planne vir die een wa. Ek het hom gemaak en hy is by die basaar verkoop. Mense het van die wa gehoor en ek moes nog een maak.”

Toe het Frans die 1902-planne gekry van ’n transportwa wat uit Kaiser Wilhelm se tyd dateer.

“Ek het die transportwa op ’n 1-tot-10-skaal gemaak wat redelik klein was. Ek is toe gevra om beide die waens op ’n 1-tot-5-skaal te maak.”

Volgens Frans is daar verskeie verskille tussen die twee waens wat insluit hul ouderdom, speke en remme.

“Die transportwa se speke staan regop terwyl die kakebeenwa se wiele soos ’n piering lyk en ook ‘kommikieswiele’ genoem word. Die transportwa is stewig sodat hy die vrag kan dra en is 1,20 meter breed. Die latte aan die kante maak hom dan nog breër vir die vrag. Die kakebeenwa is net 90 cm breed. Die wa kon op baie rowwe paaie beweeg omdat hy op die wiele gelê en gedans het.
“Die kakebeenwa word so genoem omdat dit soos ’n bees se kakebeen lyk.”

Die waens word beide deur osse getrek en kom oorspronklik uit die Gelderland-provinsie in Nederland. Die Afrikaners het met die waens getrek en later in die 1800’s het die Duitsers van hulle gebruik gemaak, wat die waens vir beide bevolkingsgroepe belangrik maak.

“Ek het so een kakebeenwa vir Siggie Wilkens gemaak. Sy oupa en ouma is deur die pos getrou, soos hulle dit in daardie tyd genoem het. Toe sy hier aangeland het, het hy met die ossewa afgetrek Swakopmund toe om haar te gaan haal. Dis die eerste keer dat hy haar gesien en ontmoet het. Die pad terug plaas toe het ’n paar maande gevat en ek dink hulle het mekaar goed geken teen die tyd wat hulle by hul eindbestemming aangekom het. Ek het die waens met hul troujaar 1898 agterop gemaak en Hugo en Lucie Wilkens op die kappie.”

Frans maak ook pophuise en een van sy pophuise is op Witvlei by ’n veiling vir N$24 000 verkoop.

“Dit was vir liefdadigheid. Ek het die pophuis in die Duitse Fachwerkhaus-styl gemaak en toe die veiling begin het, het ’n man gesê hou op ek gee N$24 000 en klaar. Van die pophuise is een meter lank en dit is fyn werk om hulle te maak. Die meubels binne-in en die versierings is gedetailleerde werk wat baie tyd vat.”

Hy het ook al ’n hobbelperd gemaak, maar in plaas van ’n perd was dit ’n Harley Davidson.

“Dis toe eintlik ’n hobbel-Harley. Dit het ook vinnig verkoop. Dis redelik groot; ’n vierjarige kind kan daarop sit en speel.”

Frans sê hy hou van alles wat hy maak en die lekkerste is die mense wat hardop wonder wat hy dié jaar vir die kerk gaan maak.

“Ek vra altyd mense om idees vir my te gee want ’n man hardloop soms uit hulle uit. Mense kan ook vir my bestellings gee en dan maak ek dit. Ek het nou juis ’n bestelling gekry vir ’n plaasopstal met verskillende diere in.”
[email protected]

FOTO’s verskaf
Frans van der Mark met ’n kakebeenwa in die twee groottes wat hy hulle maak.
Frans bou nog ’n kakebeenwa.
Alle transportwaens is gelaai met vrag wat Frans ook maak.
Die hobbel-Harley wat hy gemaak het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!