Sy ry die uitdagings bloots

Karin Eloff
Tracy Todd Heine se Brave Lotus Flower Rides the Dragon bied 'n ontstellend eerlike blik op die lewe van 'n kwadrupleeg.

Mariana Balt

In sprokies is dit gewoonlik die sterk en dapper held wat die draak verslaan.

In Tracy Todd Heine se geval is dit egter 'n skraal, brose jong vroutjie wat die draak nie verower nie, maar hom uiteindelik bloots ry.

Rý, ja, want sy is 'n kwadrupleeg, al vir byna 20 jaar lank. Sy neem die leser deur dieptes en dale, maar ook oor die heuwels van hoop tydens haar stryd om haarself (en die liefde op die koop toe) uiteindelik weer te vind.

Soms met 'n stout glimlag, maar net soveel kere met 'n woedende traan, vertel Tracy van haar skermutselings met die verskillende soorte drake van haar uitsonderlike lewe.

Alles verander in 'n oogwink

Haar sprokie begin met 'n afskuwelike nagmerrie: Op pad terug van 'n heerlike vakansie saam met haar man en haar paar maande oue baba, verlaat sy vir 'n paar oomblikke die beskerming van haar veiligheidsgordel om aan haar baba op die agterste sitplek aandag te gee. In hierdie breukdeel van tyd beland hulle in 'n fratsongeluk wat haar van die nek af ondertoe verlam laat. Sy word in 'n hospitaal wakker met haar hele lewe op sy kop gekeer. Die marathonatleet, perderuiter en onderwyseres moet aanvaar dat sy nou totaal hulpeloos is en moet toekyk hoe ander haar lewe en haar baba oorneem.

Skaars het sy begin om by die skynbaar hopelose lewe van 'n kwadrupleeg aan te pas, of haar man swig voor die verantwoordelikheid van haar versorging en verlaat haar.

Haar voorheen idilliese lewe op die Laeveldse plaas van haar skoonouers verander in dié van 'n gevangene – nie net in 'n nuttelose liggaam nie, maar ook in 'n gehuurde dorpshuisie in Nelspruit. Sy is van alle waardigheid gestroop en vir alles van versorgers afhanklik – van die uitvoer van belangrike en private liggaamsfunksies, tot dinge so eenvoudig soos om 'n traan af te vee, 'n lopende neus te snuit, 'n happie kos of 'n slukkie water te neem en 'n jeukende kopvel te krap.

Danksy vriende (engele, noem sy haar vriendin Henda, wat dit haar lewenstaak gemaak het om Tracy te ondersteun) en 'n besielende en betrokke gemeenskap, kry sy egter die draak van haar verlamming onder die knie, leef sy 'n vol lewe en skryf sy jare later hierdie boek wat reeds vele mense se selfingenome en gemaklike lewens omgekrap en hul lewensuitkyk positief verander het.

Die proses

Tracy sê dit het haar sowat 18 jaar geneem om haar storie te vertel. Eers het sy in totale ontkenning van haar lot gelewe, daarna moes sy tegnologie onder die knie kry en derdens moes sy leer hoe om gedagtes en gevoelens op 'n sinvolle manier neer te skryf. Maar die neerskryf van haar verhaal het heling help bring, sê sy vandag met dankbaarheid.

Maar hoe skryf sy dan sonder hande, vra julle? Dit was een van die drake wat sy moes tem, die tegnologie, meer spesifiek die stem-geaktiveerde sagteware Dragon NaturallySpeaking, wat sy onder die knie moes kry.

Toe sy wou leer skryf, het sy op 'n blog begin oefen en later verskeie aanlyn- skryfkursusse gevolg.

“Om uiteindelik iets te kon saamflans wat iemand bereid was om te publiseer, maak my uiters trots,” sê sy.

Haar blog, (https://tracytodd.wordpress.com/) word deur baie mense gevolg en vervul lesers steeds met verwondering en simpatie, terwyl die lag by die trane immer teenwoordig is.

Oorspronklik wou sy maar net haar kant van die storie vir haar seun (nou reeds 'n universiteitstudent) vertel, sê sy. Maar in die proses het sy ook as motiveringspreker gewild geraak en is sy knaend gevra hoekom sy dan nie 'n boek oor haar lewe skryf nie. “Ek het besef mense soek iets tasbaars na só 'n praatjie, veral aangesien baie geen idee het hoe om teenoor 'n kwadrupleeg op te tree nie.”

Brave Lotus Flower Rides the Dragon is net haar eie storie, beklemtoon sy. Elke kwadrupleeg se spinale koord-besering is uniek en hul omstandighede verskil.

“Niemand se storie klink dieselfde nie, en ek moedig alle ander gestremde persone aan om hul verhale ook met die wêreld te deel.”

Sy verduidelik die titel van haar boek soos volg: Die naam Tracy beteken dapper (brave) en haar tweede naam, Lian, is van Sjinese oorsprong en beteken Lotusblom.

“My lewensreis herinner aan dié blom wat in modderige moerasse ontkiem en deur baie troebel water boontoe, na die lig toe, moet beur voor dit pragtige blomme kan voortbring.”

Danksy 'n battery-aangedrewe rolstoel, wat sy met haar ken beheer, “ry” sy deur die lewe en die verlamming waarmee sy moes leer saamleef, is erger as enige draak wat 'n mens in die lewe kan aandurf. “Ek wens dat ek kon sê dat ek dié draak getem het, maar dit sal eerliker wees om te sê dat ek hom bloot mak genoeg gemaak het om mee te kan saamleef.” Die draak sinspeel natuurlik ook verder op die Dragon NaturallySpeaking-sagteware.

Lewenswaarhede

Tracy se boodskap aan almal wat haar boek lees, of nie lees nie, is: “Maak die beste van elke oomblik en moet niks in jou lewe as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit klink soos 'n cliché, maar die lewe kan regtig in 'n oogwink verander.”

Maar, troos sy daarmee saam, geen ellende hou vir altyd aan nie.

“Die lewe is 'n spel van lig en skadu, seëninge en verlies, sommige oomblikke wat 'n mens bloot kan verduur en ander wat 'n mens nooit weer wil vergeet nie. Bly dus altyd waaksaam, bepaal jou aandag by die hede en wees dankbaar vir die enigste ding wat werklik saak maak – wat die lewe jou nóú bied.”

En "nou" se werklikheid in Tracy se lewe lees ook soos 'n sprokie. In 2010 het sy ná 'n onaangename ervaring met 'n mansvriend vir Roy Heine, Baaise argitek en ook marathonatleet, aanlyn ontmoet en die twee het dadelik gekliek.

Toe hy kort daarna 'n marathon ter ere van haar voltooi en die medalje spreekwoordelik voor haar voete kom neerlê, het Kupido se pyl sekuur in haar hart vasgesteek.

Op 30 April verlede jaar is sy en haar Sexy Legs (soos sy Roy noem) tydens 'n geleentheid wat, weer eens danksy die Laeveldse gemeenskap, direk uit 'n sprokiesboek kon kom, getroud.

En het die inleidende woorde op haar webblad "Why walk when you can soar..." heeltemal nuwe betekenis gekry.

Boekbekendstellings

Die bekendstelling van Tracy se boek in 'n groot winkelsentrum in Nelspruit was fenomenaal. “Ek dink daar was baie mense,” onderbeklemtoon sy die skare van sowat 250 wat opgedaag het.

“Ek glo nie ek sou oorleef het as dit nie vir my geliefde Laeveldse gemeenskap was nie.”

Bruce Fordyce, wat die boek se voorwoord geskryf het, Ari Seirlis (CEO van QuadPara Association van Suid-Afrika), haar uitgewer Tracey McDonald en Melanie Harding ('n stigter van Summit Rehab by die Meulmed Hospitaal in Pretoria), het die woord gedoen en Mathys Roets het haar met 'n paar liedere vereer.

Laeveldse radiopersoonlikheid Dave Walters, was die seremoniemeester.

In Mei is haar boek ook in Johannesburg bekend gestel, in Junie in Durban en verdere bekendstellings in Kaapstad, Port Elizabeth en ander stede word ook beplan.

Die reaksie daarop is oorweldigend positief en sy word gekomplimenteer vir die vaardigheid en rou eerlikheid waarmee dit geskryf is.

Beskikbaarheid

Boekwinkels kan Brave Lotus Flower Rides the Dragon (ISBN 978-0-620-72597-2) van Jonathan Ball Publishers of Tracey McDonald Publishers by [email protected] aankoop.

Belangstellendes kan die boek ook van aanlynwinkels soos takealot.com, loot.co.za en Exclusives online bestel. Die e.boek is by Amazon beskikbaar vir Kindle en ander e-lesers soos Snapplify en Kobo.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!