Té veel kinders in die land ly aan wanvoeding
SADC-syfers oor onder- en wanvoeding is kommerwekkend en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 dalk nie haalbaar nie.
Elvira Hattingh
“Hoewel syfers vir wanvoeding in Namibië gedaal het, ly te veel kinders steeds hieraan. Een in vier Namibiese kinders ly aan vertraagde groei en is te kort vir hul ouderdom. Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste toon 24% kinders onder die ouderdom van vyf jaar vertraagde groei, 6% is te maer vir hul lengte en 13% is ondergewig.”
Dít was adjunkpresident Nangolo Mbumba se woorde tydens sy openingstoespraak namens landbouminister Alpheus !Naruseb by die plaaslike herdenking van Wêreldvoedseldag in die Kavango-Wesstreek op Bunya.
Die geleentheid het Dinsdag plaasgevind.
Wêreldwyd is dié dag op 16 Oktober met die tema “Ons aksies is ons toekoms. Zero honger teen 2030 is moontlik” gevier.
“Vertraagde groei verminder nie net die groei van die skelet nie, maar vertraag kinders se kognitiewe en sosiale ontwikkeling en lei tot swak prestasie op skool,” het Mbumba gesê.
“Die kinders loop 'n hoë risiko vir vroeë sterftes, swak gesondheid, groei en ontwikkeling. 'n Multisektorale benadering is nodig om die probleme aan te spreek,” het Mbumba gesê.
SADC-SYFERS KOMMERWEKKEND
“In die SADC-streek is tot 70% van mense afhanklik van landbou vir hul bord kos, inkomste asook werksgeleenthede – wat alles van die regte hoeveelheid reën op die regte tyd afhang,” het Mbumba gesê.
Hy het bygevoeg die werkloosheidsyfer in die SADC is tussen 4% en 80%, met 'n armoedevoorkomssyfer van tussen 0,7% en 65%.
Hy het gesê die vermindering van vertraagde groei in die SADC vind te stadig plaas om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 te bereik of om teen die Wêreldgesondheidsberaad van 2025 'n werklikheid te wees.
“Een in drie individue in 10 van 16 SADC-lidlande toon vertraagde groei. Die streek se kinders dra 'n dubbele las as dit by wanvoeding kom: Dié van ondervoeding, asook 'n tekort aan mikronutriënte en oorvoeding. Gegewe die feit dat diëte meestal uit grane bestaan, is beskikbare kos nie noodwendig altyd voedsaam genoeg nie,” het Mbumba gesê.
“Onlangse data toon die voorkoms van kinders jonger as vyf jaar, wat te maer vir hul lengte is, is meer as 5% in ses SADC-lidlande. In die 2018-'19-seisoen het sowat 29,4 miljoen mense in die streek nié voedselsekerheid geniet nie. Dit kan in uiterste omstandighede 'n saak van lewe en dood wees. In die lang termyn kan dit ekonomieë en ontwikkeling ondermyn,” het hy gesê. “Hierdie is 'n belangrike waarskuwing dat ons nié op dreef is om honger teen 2030 uit te wis nie.”
WêRELDSYFERS
Mbumba het gesê die doelwitte vir hongersnood en voeding in die 2030-agenda is afhanklik van en dra by tot die behaling van ander doelwitte.
Dit sluit die beëindiging van armoede, die verbetering van gesondheid, onderrig, geslagsongelykheid en toegang tot sanitasie en skoon water in, asook behoorlike werk, minder ongelykhede, vryheid en geregtigheid.
Hy het gesê die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se vrystelling van die Wêreldvoedselverslag in 2017 was die begin van 'n nuwe era waarin vordering vir 'n wêreld sonder honger en wanvoeding gemonitor kan word.
Dít binne die raamwerk van volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's).
“Volgens beskikbare data het die aantal mense wat honger ly in die afgelope drie jaar toegeneem. Die aantal mense in die wêreld wat deur ondervoeding of 'n chroniese tekort aan kos geraak word, het na raming van 804 miljoen in 2016 tot 821 miljoen verlede jaar toegeneem,” het hy gesê.
KLIMAATSVERANDERING
Hy het bygevoeg meer gereelde en intense vloede en droogtes, asook meer en nuwe peste en siektes kan die landbousektor negatief raak.
“Klimaatsverandering en blootstelling aan klimaat-uiterstes is 'n hoofoorsaak van die onlangse styging in wêreldsyfers vir hongersnood en ook een van die hoofoorsake van die ernstige voedselkrisis,” het hy gesê.
Mbumba het gesê beplanning is nodig vir hoe om die uitdaging in die toekoms te takel en terselfdertyd “sade van vrede” te saai om voedselsekerheid en voeding te bevorder.
Hy het gesê druk op kosverskaffing kan verlig word deur die gebruik van tegnologie wat kosproduksie op gedegradeerde of marginale grond verhoog.
Dit moet gedoen word tesame met die samevoeging van kos- en energie-produksiestelsels deur die gebruik van toepaslike boerderypraktyke, het hy gesê.
“Ons het beleide nodig om belegging deur die private sektor in landbou en landelike ontwikkeling aan te wakker.
“Ons benodig wetenskap om die beste sade te vind wat nie net oeste sal verbeter en gewasse meer gehard sal maak nie, maar ook dié wat kos met 'n beter voedingswaarde sal bied, wat waterbronne kan spaar en biodiversiteit beskerm.
“Die toepassing van klimaatslim praktyke staan sentraal tot die versekering van kosstelsels wat by klimaatsverandering kan aanpas,” het Mbumba gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie