Té veel swanger leerlinge
Navorsing wys seksonderrig het 'n groot impak op die vermin-
dering van skoolswangerskappe.
Henriette Lamprecht
Meer as 1 550 meisies moes in een jaar die skoolbanke verlaat omdat hul swanger geraak het.
Net in die Ohangwenastreek is 338 swanger skoolmeisies se skoolloopbaan in 2013 kortgeknip, terwyl in dieselfde jaar rofweg een uit vyf tieners tussen die ouderdomme van 15 tot 19 jaar óf swanger was, óf reeds geboorte geskenk het.
Dié skoksyfers is vervat in statistiek van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, sowel as die Namibiese Demografiese en Gesondheidsopname (NDHS). 'n MIV-opname in 2014 wat op swanger vroue gefokus het, wys 17% van vroue wat aan dié opname deelgeneem het, was tussen die ouderdomme van 15 tot 19 jaar.
Volgens die ministerie se statistiek vir 2013 het 302 swanger skoolmeisies in die Kavangostreek die skool verlaat, gevolg deur die Omusatistreek met 280. Die minste swanger skoolverlaters was in die Kharasstreek met 12 meisies, gevolg deur die Hardap- en Omahekestreke met onderskeidelik 24 en 34 meisies.
Volgens die ministerie is skoolswangerskappe 'n multi-dimensionele kwessie en is een beleid nie genoeg om dit te takel nie. In dié verband is 'n hersiening van die beleid vir die voorkoming en bestuur van skoolswangerskappe verlede jaar in samewerking met die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) en die Harvard Universiteit uitgevoer.
Volgens me. Johanna Absalom, woordvoerder van die ministerie, is onder meer op armoede en lae sosio-ekonomiese status gefokus.
“Ouers en gemeenskappe moet betrokke raak by die implementering van maatreëls. Navorsing toon tuisonderrig van seksuele en reproduktiewe gesondheid het 'n groot impak op die vermindering van skoolswangerskappe,” sê Absalom.
Die ministerie se hersiende beleid oor skoolswangerskappe word in twee afdelings verdeel en sluit voorkomingstrategieë soos ouerbetrokkenheid en veilige buitemuurse aktiwiteite vir leerlinge in.
Die tweede afdeling takel situasies waar die voorkomingsmaatreëls nie gewerk het nie. Laasgenoemde lig die stappe uit wat die skool, ouers, leerlinge en betrokke lynministeries moet neem om die welstand van beide die ouers sowel as die baba te verseker, sê sy.
Volgens Absalom vereis die beleid nie dat die betrokke leerlinge onmiddellik ná die swangerskap, moet terugkeer skool toe nie.
“Die beleid maak dit duidelik 'n leerling word toegelaat om vir 'n hele jaar uit die skool te bly. Haar plek word gehou op voorwaarde sy behou kontak met die skool en sy dra haar voorneme oor om terug te keer.”
Sy het beklemtoon Namibië het 'n verantwoordelikheid om die reg tot onderrig te verseker.
“Geen leerling hóéf terug te gaan skool toe nie; die beleid laat net hul reg toe om dit te doen, sou hulle so besluit.”
Die beleid geld ook vir private skole wat ook nie teen leerlinge mag diskrimineer of onderrig weerhou nie.
'n Nuwe stelsel sal volgens Absalom help om tred te hou met swanger leerlinge wat die skool verlaat.
Op 'n vraag of die beleid ook die pa van die kind betrek, sê Absalom die neiging is ongelukkig dat dit nie altyd 'n skoolseun is die meisie swanger maak nie.
“In gevalle waar 'n skoolseun wél die pa van die kind is, is daar inligting beskikbaar oor sy rol en verantwoordelikhede sowel as sy opsies met betrekking tot ondersteuning en hulp.”
Sy het gemaan die beleid is streng oor onvanpaste gedrag tussen personeel, tussen leerlinge, asook tussen leerlinge en personeel en vra vir vinnige en beslissende optrede wanneer 'n personeellid aan wangedrag skuldig bevind word.
Die ministerie is besig met gesprekke in die streke met onder meer die streeksrade, tradisionele leiers en gemeenskappe oor omvattende seksonderrig.
Aanlynopleiding en leerplanne is ook ontwikkel vir onderwysers in lewensvaardighede vir omvattende seksonderrig.
“Opleiding word ook in streke gegee in die geïntegreerde skoolgesondheidsprogram, sowel as die implementering van die beleid vir die onderwyssektor in die voorkoming en bestuur van skoolswangerskappe,” sê Absalom.
Slypskole word vir die Kunene-, Omaheke- en Omusatistreek beplan wat sal fokus op die vestiging van Tuseme (Let's speak out)-klubs, sowel as die My Future is My Choice en die Window of Hope-programme.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie