T20-reeks van krag tot krag
Krieket
Andrew Poolman – Die vyfde jaar van die Richelieu T20-franchisetoernooi beloof opnuut om die beste van Namibië se aansienlike kriekettalent ten toon te stel.
Die toernooi begin op Vrydag 18 Maart om 15:00, met verdere groepwedstryde die volgende dag, voor die uitklopwedstryde en finaal op die naweek van 26 en 27 Maart.
Een verskil is dat vanjaar se toernooi net in ’n enkelrondte gespeel word, wat elke uitslag deurslaggewend maak. Net die span wat boaan eindig, is seker van sy plek in die eindstryd.
In die uitklopfase sal spanne 3 teen 4 in ’n uitklopwedstryd betrokke wees, met die wenner wat tot die semifinaal teen span nommer 2 deurdring.
Organiseerders van die vier franchise-spanne was Maandagaand byeen saam met verteenwoordigers van Krieket Namibië en die toernooiborg Distell Namibië, vir die afhandeling van die loting om die spelersgroepe te bepaal.
Elke franchise word saamgestel uit vier huidige lede van die nasionale elite Eagles-oefengroep, saam met ’n mengsel van klubspelers en onder 19’s.
OPWINDING EN AFWAGTING
Craig Williams, kaptein van XCO M&M Signs, het ná afloop van die loting gesê: “Ons is baie opgewonde oor hierdie formaat om krieket in Namibië te bevorder. Die afgelope seisoene het die BA Blasting-span sukses behaal omdat hulle die klein dingetjies reg gedoen het. Hulle het vir almal die voorbeeld gestel, maar ons voorneme is om hulle goeie opdraand te gee.
“Dis ’n baie opwindende toernooi en ons kan nie wag vir die eerste wedstryde nie. Die krag is redelik eweredig oor al die spanne versprei en vir al die betrokke borge en die toeskouers wag beslis ’n aanskoulike en kompeterende geleentheid.
“Vir die ontluikende o.19-spelers, van wie sommiges ook reeds in die senior elite groep oefen, is hierdie baie goeie blootstelling. Wat meer kan jy as o.19-speler verlang as om in ’n wedstrydsituasie onder druk boulers soos Ruben Trumpelmann, JJ Smit of ander te moet trotseer?
“Ons is tevrede dat ons ’n lekker gebalanseerde groep spelers bymekaar het en ons sal sorg dat ons voorbereid is.”
MR24/7 NamSpire se nuwe mede-eienaar, spanbestuurder en speler Dickson Vambe sê: “Ons is reeds meer as vyf jaar besig om krieket in elke deel van die land te ontwikkel. Dit gaan nie net oor wen nie, maar om by te dra tot ’n topklas toernooi en om spelers se talent te ontwikkel tot voordeel van die land.
“Met die ervaring in ons span, tesame met die jongelinge wat wil wys dat hulle hul gewigsklas ontgroei, is ons opgewonde oor wat voorlê. Volgens my is hierdie beslis die mees opwindende T20 franchise-toernooi wat nóg op Namibiese bodem bestaan het.”
Sarel Burger, uitgetrede Eagles-kaptein wat nou as spanbestuurder en mentor vir die King Price-span optree, sê: “Hierdie toernooi is die pronkstuk wat die beste van Namibiese klubkrieket ten toon stel, met ’n gelyke kans vir elke span.
“Klubwedstryde kan soms eensydig wees, maar ons is bevoorreg dat soveel nasionale spelers beskikbaar is wat in die T20 Wêreldbeker uitgeblink het. Die vooruitsig van krag teen krag is opwindend.
“As uitgetrede speler wil ’n mens graag dinge sien vooruit gaan dis wat die nasionale span tans doen, om ’n nalatenskap van uitmuntendheid te bou vir diegene wat later volg. Ek sal graag wil bydra dat spelers hul potensiaal bereik.
Namens BA Blasting, wenspan van die eerste twee jare, het die nasionale spankaptein Gerhard Erasmus gesê sy span was welverdiende wenners, maar besef dat hulle nou in almal se visier is.
“Ek verwag ’n kop aan kop kompetisie, want ons het reeds gesien waartoe al hierdie spelers in staat is wat in die trekking betrokke was. Vir toeskouers langs die veld of wat die videostroom volg, behoort daar wedstryde van goeie gehalte te wees.
“In verlede jaar se finaal moes ons iets spesiaals oplewer ná JJ Smit se vuurwerke as kolwer vir die King Price-span. Die finaal kon enige kant toe gaan en hopelik sien ons nog meer sulke wedstryde.”
TERUGFLITS
In die vorige finaal op 11 April 2021 het BA Blasting eerste gekolf en 211/4 opgestel danksy goeie beurte deur Nicol Loftie-Eaton (67 van 33 balle, vyf viere, vier sesse), ná sy vyftigtal van 22 balle; Michau du Preez se 47 nie uit nie van 34 balle (1x4 4x6) en Ruben Claassen (44 nie uit nie van 30 balle, 2x4 3x6).
Hierna het JJ Smit agt sesse oor die grenstou laat vlieg en twee viere geslaan in sy 78 van 40 balle, maar King Price is tot 157/9 beperk en het met 54 lopies verloor.
Craig Williams was die reeks se voorste lopiemasjien met 311 in sewe kolfbeurte. JJ Smit het die meeste sesse geslaan (22) en Nicol Loftie-Eaton se 13 paaltjies in sewe wedstryde was die meeste. Niko Davin het die enigste honderdtal van die reeks behaal (115 van 50 balle).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie