Tafel gedek vir spannende semifinale
Tafel gedek vir spannende semifinale

Tafel gedek vir spannende semifinale

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die halfeindstryde van die Namibië Rugby-unie se premierliga komende naweek lyk goed gebalanseerd ná afgelope Saterdag se laaste ronde wedstryde.

Die voorloper en heersende kampioen van die laaste drie jaar, FNB Universiteit van Namibië, het op sy tuisveld 'n vasberade poging van FNB Wanderers afgeweer om met 39-35 te wen.

FNB Western Suburbs het met sy oorwinning teen Rehoboth Rugbyklub met 33-19 die tweede plek syne gemaak.

Unam het boaan die puntelys geëindig met 57, gevolg deur Western Suburbs (44), Wanderers (43) en Trustco United (40).

Komende Saterdag sal Unam dus vir 'n plek in die eindstryd sake teen United uitspook, terwyl Suburbs sal streef om vir die derde keer dié seisoen vir Wanderers te klop.

Die gehalte en eienskappe wat Unam die afgelope jare so 'n kampioenspan maak, was Saterdag weer op vertoon toe hy die aanslag van 'n sterbelaaide Wanderers afgeweer het, wat in onlangse jare net teleurstellings op die kampusveld beleef het.

Dit word straks nie genoeg beklemtoon watter sentrale rol die kapteinskap van die agsteman Bradley Klazen speel om sy troepe deur dik en dun te motiveer nie.

Selfs die vroeë verlies van sy vurige staatmakerflank Renaud van Neel ná 'n harde stamp teen die kop in die sesde minuut het nie die studentespan se fokus verbreek nie.

Wanderers het met 11-3 ná 24 minute voorgeloop danksy 'n vinnige tikskop-drie deur slot Stef Botha, met doelskop en strafdoel deur vleuel Rudi Pretorius.

Denver Murorua se tweede strafdoel het Unam egter tot 6-11 laat naderkruip, voor Wanderers se wiele onverklaarbaar afgekom het in die tien minute wat agtsteman Christo van der Merwe asook Freddy Puriza (plaasvervanger vir van Neel) geel kaarte moes uitdien.

Vir die tuisspan se eerste verdoelde drie het die Namibiese haker Obert Nortjé, ná 'n aanval wyd, die bal teenaan die volgende losskrum gevat en deurgebars vir 'n lopie doellyn toe (13-11).

In nog 'n briljante stukkie Unam-spel het buitesenter Chess Lawrence in 'n halwe gaping die tydsberekening van sy aangee perfek bereken om die losskakel Helarius Kisting deur te jaag sonder dat 'n hand op hom gelê is.

Boonop is 'n strafskop op die middelkol toegeken vir 'n vroeër onwettige duikslag en die gevolglike lynskop het Unam dadelik weer op die aanval geplaas. Kaptein Klazen het die dryfmaal met die derde opeenvolgende drie afgerond om Unam met 25-11 voor te plaas.

Weerskante van rustyd het die Wanderers-vleuel Janry du Toit twee netjiese drieë ná opbouwerk deur sy spanmaats gaan druk om die telling tot 25-23 te laat krimp.

Unam het egter ná rustyd die wind in sy blaaie gehad en losska­kel Helarius Kisting (later ook skrumskakel) het met 'n tipiese koel kop dit baie akkuraat gebruik om Wanderers in sy eie gebied vas te pen.

'n Gevaarlike duikslag het die Wit Hingste se agt­steman Adriaan Booysen tien minute in die koelkas gekos. Die gevolglike swak beheer van hul eie vyfmeter-skrumbal het die bal oor die doellyn laat rol vir Unam se flank Rheinhardt Carelse om met 'n verdoelde drie toe te slaan.

Linkervleuel Donavan Kandjii het Wanderers se agterlyn ook dronk gehardloop om ná 'n diagonale lopie aan die regterkant van die pale te gaan druk. Met Murorua se doelskop was Unam met 39-23 in beheer.

Wanderers moes weer terugveg en het met 'n opportunistiese lynstaaningooi met 'n verdoelde drie vir Booysen vorendag gekom. Die Wit Hingste se stut Quintin Esterhuizen het hul laaste drie gedruk met goeie opvolgwerk van 'n skop-en-jaag aanval deur Janry du Toit, maar die eindfluitjie het op 39-35 geblaas.



SUBURBS BALJAAR

Vyf drieë was genoeg om vir Western Suburbs die knoop teen Rehoboth Rugbyklub met 33-19 deur te haak.

Die slotpaar James Kisting en Fidel Micolleney, senterpaar Russell van Wyk en Ricardo Swartz asook linkervleuel Nikin Cloete het vir die Khomasdallers gaan druk. Losskakel en kaptein Justin Nel (drie) en Swartz (een) het doel­skoppe bygevoeg.

Aan Rehoboth se kant was die agtsteman en kaptein Charl Freygang (2) en stut Delano Coetzee sy driedrukkers. Twee is deur vleuel Brandon Dentlinger verdoel.

“Ons het swak begin, maar het algaande beter gespeel,” sê Rehoboth se spanbestuurder, Marschell Diergaardt. “Ons was rustyd met 21-5 agter en het die volgende twee direë gedruk (21-19). Met nog 'n Suburbs-drie het hulle met 26-19 voor gebly tot hul laaste punte vyf minute in beseringstyd.

“Sonder ses van ons gebruiklike eerstespanspelers het ons nogtans 'n goeie vertoning gelewer.”

Die semifinale word komende Saterdag in die Hage Geingob-stadion gespeel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!