Taksidermis: ‘Seksvideos, bedrog onthul’

’n Bekende egpaar wat by ’n taksidermis oos van Windhoek gewerk het, het op klagte van bedrog van honderde duisende dollar verskyn.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die voormalige bestuurders van TAU Taxidermy, die 41-jarige mnr. Morné en me. Nadia Marais (42), is op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat nadat hulle van bedrog van honderde duisende dollar by dié maatskappy aangekla is.
Boonop het die egpaar nie net glo aan kliënte vals beloftes van permitte vir die uitvoer van trofeë van bedreigde spesies in stryd met die Konvensie van Bedreigde Spesies (Cites) gemaak nie, maar ook video’s van seksuele aard by die taksidermis se perseel oos van Windhoek verfilm.
Die Marais’s is op 8 Februarie deur die Namibiese polisie in hegtenis geneem, het adj.komm. Given Kaura van die handelstak aan Republikein bevestig.
“Hulle is in hegtenis geneem weens die beweerde wanbesteding van maatskappyfondse wat onder hul toesig geplaas is,” het Kaura gesê.
“Die bedrogklagte hou verband met die wanbesteding van honderde duisende dollar oor ’n tydperk.”
Die beskuldigdes het volgens Kaura op 9 Februarie in die Windhoeklanddroshof verskyn en is op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat. Hulle verskyn weer in Junie in die hof.

SNUF IN DIE NEUS
Volgens ’n interne ouditeur en konsultant het die egpaar reeds by die maatskappy gewerk toe dit deur ’n nuwe eienaar oorgeneem is.
“Sedert die inperkingstyd het die eienaar snuf in die neus gekry en in September 2020 die hulp van konsultante ingeroep, waarna ek in November met ’n interne oudit begin het,” het een van die konsultante gister aan Republikein gesê.
“Ek het bewyse van bedrog van sowat N$1,6 miljoen gevind, wat nie die arbeid en materiaal insluit nie. In hul persoonlike bankrekening is N$900 000 inbetaal, maar dit sluit ook nie bedrieglike buitelandse en kontanttransaksies in nie.”
Hy sê die kringtelevisiekameras is tydens opknappingswerk by die taksidermis ontkoppel en is nooit weer geïnstalleer nie, maar in ’n boks weggesteek.
Volgens die konsultant is sebravelle glo onder die tafel vir slegs N$700 elk verkoop, terwyl die looiwerk alleen N$2 500 per vel beloop.
Tydens verskeie transaksies het hulle hulself glo as die eienaars voorgedoen. “Toe die egpaar gekonfronteer is, het Morné berou getoon en met die sak patats vorendag gekom, maar Nadia was ontkennend,” het die konsultant gesê.
“Hulle was bereid om N$500 000 kontant terug te betaal op voorwaarde dat die saak teen hulle teruggetrek word.
“Dié onderhandelinge het skeefgeloop en ek is met die dood gedreig. Dreigemente is ook aan die eienaar gestuur dat sy plaas afgebrand en iets aan sy kinders gedoen gaan word.”
Die konsultant sê die polisie is in besit van die dreigende WhatsApp-stemboodskappe waaroor ’n siviele saak aanhangig gemaak is, asook van al die bewyse van bedrog op die rekenaars en in die lêers.
“Hul twee selfone is die maatskappy s’n en daarop het die egpaar video’s van seksuele aard op die perseel gemaak. Hulle was woelig!”
Die konsultant prys die verskillende eenhede van die Namibiese polisie en ministerie van finansies “wat baie deeglike ondersoekwerk gedoen het”.
Hy sê die maatskappy probeer nou net vure doodslaan en hul goeie beeld by kliënte beredder, veral in hierdie moeilike tye in die jagbedryf.
“Ons distansieer ons van die Marais’s en wil geensins meer met hul geassosieer word nie,” het die konsultant benadruk.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!