Talle dood toe tsoenami strandparty tref

Mense het Vrydag glo nie onmiddellik gevlug nadat die tsoenami-waarskuwing afgekondig is nie en talle het toe slagoffers geword.
Minstens 384 mense is dood nadat ’n aardbewing en gevolglike tsoenami die Indonesiese eiland Sulawesi getref het.

Honderde mense het vir ’n fees op ’n strand by die stad Palu byeengekom toe branders van tot sowat ses meter hoog die strand getref het en talle na hul dood meegesleur het.

Die verwoestende golwe het bykans niks in hul pad van vernietiging agtergelaat nie.

Mense het Vrydag nie onmiddellik gevlug nadat die tsoenami-waarskuwing afgekondig is nie en talle het toe slagoffers geword, het ’n woordvoerder vir die land se noodbeheeragentskap gesê.

“Die tsoenami het nie alleen gekom nie. Dit het motors, pale en huise met dit saamgeneem en het alles op land getref.”

Sommige mense het selfs inderhaas in hoë bome geklouter.

Beeldmateriaal wys hoe golwe huise aan die kus van Palu meesleur en tot skeepsvraghouers moeiteloos oplig en saamdra.

Dit het teen ’n spoed van 800 km/h getref.

Ná die aardbewing van 7,5-sterkte het naskokke ook nog Saterdagoggend gevolg.

Duisende huise, hospitale, winkelsentrums en hotelle is platgevee. Boonop is ’n brug meegesleur en die hoofweg na Palu is afgesny.

Die lyke van mense is onder die puin gekry.

Benewens die sterftesyfer is nog 540 mense beseer en 29 word vermis.

Nooddienste het tente opgerig om beseerdes te help.

Op foto’s wat uitgereik is kan gesien word hoe lyke langs die strate langs mekaar neergelê is – sommige in lyksakke, ander waarvan net die gesigte met klere bedek is.

Reddingswerk is bemoeilik deurdat die elektrisiteitsnetwerk onderbreek is.

Verbindings met die vissersdorpie Donggala is verbreek en nooddienste kon nog nie met inwoners daar kontak maak nie. Hulle vermoed die toneel lyk erger daar aangesien Donggala nader aan die episentrum van die aardbewing is.

Meer as 600 000 mense woon in Donggala en Palu.

Noodvoorraad is deur die weermag vanuit Jakarta ontbied, het die land se ministerie van veiligheid gesê.

Die lughawe sou Saterdag heropen word nadat dit gesluit moes word omdat die aanloopbaan en lugverkeertorings beskadig is. – Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer