Tandarts nie gepla deur ‘sluipmoord’
Die stof rondom die regerende party het sedert verlede jaar se bloedige presidensiële stryd nog nie gaan lê nie.
Denver Kisting – Die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, het gister gerugte afgelag van planne om hom te vermoor.
’n Boodskap doen tans die ronde waarin beweer word ’n sluipmoord word op die tandarts en Swapo-lid beplan.
Dié boodskap, wat veral op WhatsApp soos ’n veldbrand versprei, lui onder meer: “Baie betroubare inligting sê (sic) daar bestaan ’n skurkeenheid in Namibië se veiligheidsbedryf met ’n spesiale mandaat om die onafhanklike presidensiële kandidaat, Panduleni Itula, na bewering voor 17 Januarie om die lewe te bring.”
Volgens die boodskap sal die beweerde sluipmoordplan uitgevoer word met behulp van selfoonrekords om Itula se geografiese ligging te bepaal.
Die mense agter die beweerde komplot het glo ook “ander wat tot dusver as veiligheidsbedreigings” geïdentifiseer is, in hul visier, lui die boodskap.
“Wie die opdrag gegee het, is nog onduidelik. Té veel bespiegeling tans.”
Itula het gister by navraag gesê: “Geregtigheid is ’n pynlike wapen wanneer dit aan jou deur klop. Jy het geen keuse as om dit in te laat nie. Terwyl individue vermoor kan word, sal skuldigbevindings voortleef tot baie se voordeel.”
Maar, sê hy, dié beweerde planne sal hom nie van stryk laat bring nie.
“Ek is nie gepla nie.”
’n Volbank van vyf regters sal na verwagting op 17 Januarie ’n saak aanhoor wat Itula teen onder meer die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) aanhangig gemaak het.
Dit kom ná die ECN op 27 November tydens die Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesing van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) gebruik gemaak het.
Itula het twee verskillende howe twee keer voor stemdag genader in ’n poging om die gebruik van EVM’s in die verkiesings te keer.
Hy was albei kere onsuksesvol.
Itula het verlede jaar ’n storm ontketen toe hy Swapo se amptelike kandidaat, pres. Hage Geingob, as onafhanklike presidensiële kandidaat om die hoogste pos in die land uitgedaag het.
Die ECN se voorsitter, adv. Notemba Tjipueja, het op 30 November aangekondig Geingob het 56,3% van die stemme op hom verenig teenoor Itula se 29,4%.
Die tandarts het deurlopend geweier om Swapo te verlaat.
Hy en die regerende party is steeds midde-in ’n debakel oor sy voortgesette lidmaatskap van Swapo.
Mnr. Nico Smit, die Popular Democratic Movement (PDM) se tesourier-generaal, het gister die sluipmoordaantygings as bog afgemaak.
“Dis opgemaakte stories om die aandag af te trek.”
Volgens hom het Itula ’n skuldige gewete, “want dit is hoe hulle in Swapo gewerk het; hulle ly aan waansin”.
Hieroor sê Itula: “Daar sal baie teorieë wees. Ek bly ongestoord.”
Ná verlede jaar se verkiesings het die Namibiese weermag ’n ernstige waarskuwing uitgereik oor beweerde planne in die sosiale media om Geingob aan te val.
Die NDF sal géén vrae vra wanneer mense en eiendom in die naam van politiek bedreig word nie – hulle sal net optree, het hulle gesê.
Adjunkmaarskalk Martin Pinehas, waarnemende weermaghoof, het toe gesê hulle neem die dreigemente om pres. Geingob dood te maak en Staatshuis aan die brand te steek baie ernstig op.
“Die NDF is erg omgekrap oor verklarings deur individue wat, omdat hul voorkeurkandidate nie gewen het nie, hulle tot ongrondwetlike middele sal wend,” het hy gesê.
Dié bewerings het glo uit die geledere van Itula-volgelinge gespruit.
Itula sê hy verstaan nie ’n vraag oor of hy vir sy lewe vrees nie.
“Maar ek blyk dit op 30 November buite die ECN te geantwoord het.”
Dr. Nico Horn, ’n politieke ontleder en regskenner, het gistermiddag gesê: “Baie hartseer as dit waar is. Dan het Namibië groter probleme as wat ek gedink het.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie