Tannie Lettie 'het 'n verskil gemaak'
Tannie Lettie 'het 'n verskil gemaak'

Tannie Lettie 'het 'n verskil gemaak'

Henriette Lamprecht
Tannie Lettie Meyer, alombekend en geliefd in Namibië, het ná 'n beroerte en maandlange siekbed Woensdag in die ouderdom van 97 jaar in die Paramount-hospitaal in Windhoek gesterf.

Haar familie beskryf haar as 'n ruimhartige, vergewensgesinde, vriendelike en gasvrye mens wat liefde uitgedeel het aan 'n ieder en 'n elk wat haar pad gekruis het. Met haar lewenslustige en energieke geaardheid het sy 'n verskil gemaak waar sy haar ook al bevind het.

Lettie Meyer (née Nortjé) is op 4 Januarie 1924 op Hennenman in die Vrystaat gebore waar sy haar kinderjare deurgebring het.

In 1941 behaal sy haar matrieksertifikaat aan die Hoërskool Ventersburg as een van die toppresteerders van die destydse Oranje-Vrystaat.

Aan die begin van 1942 word sy 'n ingeskrewe onderwysstudent aan die Normaal Kollege in Bloemfontein, waar sy haar latere eggenoot, ET (Roosevelt) Meyer, 'n plaasseun uit die Summerdown-distrik in die destydse Suidwes-Afrika, ontmoet.

Ná die voltooiing van hul onderwysstudies het hy en sy onderskeidelik vir 'n paar jaar in die destydse Suidwes en die Vrystaat hul onderwysbeurse teruggewerk, voor hulle op 22 Desember 1947 op Ventersburg in die eg verbind is.

In 1948 vertrek die egpaar na Swakopmund, waar hulle vyf jaar deurbring, skoolhou en koshuisouers van die Hofmeyr-koshuis is. Met ET wat goed kon Duits praat, is hulle gou in die plaaslike gemeenskap opgeneem.

In 1952 word ET as skoolhoof van die Sekondêre Skool Tsumeb aangestel. Twee dogters word onderskeidelik in 1955 en 1957 gebore.

In 1960 kry ET die geleentheid om vir 'n jaar as uitruilonderwyser Engels by 'n skool in Bad Segeberg, 'n dorpie naby Hamburg in Noord-Duitsland, te gaan onderrig.

In 1961 verhuis die egpaar na Windhoek, waar ET as hoof van Windhoek Hoërskool aangestel word. Hoewel Lettie in dié tyd (asook gedurende hul Tsumeb-verblyf) nie voltyds skoolgehou het nie, is sy gereeld ingespan om aflosposte te vul.



PLAASLEWE

Aan die begin van 1965 verruil die Meyers die onderwys vir die plaas­lewe en verhuis na die distrik Summerdown, waar hul gaan boer.

In hierdie omgewing, waar Afrikaners en Duitssprekendes skouer aan skouer gewerk het om hul plase op te bou, het hul baie gou in die gemeen­skap ingeskakel en op allerlei gebiede 'n waardevolle bydrae gelewer.

In Februarie 2010 verhuis die gesin na Eros Manor in Windhoek waar ET op 21 Februarie 2017 in die ouderdom van 95 jaar en sewe maande oorlede is. Ten tye van sy afsterwe was die Meyer-egpaar byna 70 jaar getroud en het mekaar 75 jaar lank geken.

Vanaf September 2017 was Lettie 'n inwoner van Susanne Grau Heim in Windhoek. Sy word oorleef deur twee dogters, Elize en Alfreda, 'n skoonseun, Gys Ligthelm, twee kleindogters, Lize en Huibré, asook haar man, Francois Malan en twee agterkleinkinders, Ernst en Linda.

Weens huidige Covid 19-regulasies sal 'n gedenkdiens tans nie kan plaasvind nie. Navrae kan aan Elize Ligthelm by 081 245 6710 gerig word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer