Tannie Rina stap hierdie keer vir CAN
Tannie Rina stap hierdie keer vir CAN

Tannie Rina stap hierdie keer vir CAN

Tanja Bause
Tanja Bause – Tannie Rina Majiedt het besluit om vanjaar met ’n fondsinsameling vir die Kankervereniging van Namibië (CAN) af te sluit.

Tannie Rina en vier vriende sal eerskomende Saterdag om 04:30 sowat ses kilometer vanaf haar huis by die Senior Park-ouetehuis tot by CAN se kantoor stap en vandaar af tot by die huis van dr. Golda Stellmacher.

“Ek het my man voor sy dood belowe ek gaan stap en ek gaan nou Saterdag stap.”

Sy wou oorspronklik in Mei gaan stap het, maar toe tref Covid-19 vir Namibië en sy moes haar planne tot Julie uitstel. In Julie het haar man, Seth, se gesondheid egter agteruitgegaan en sy het tot sy dood in September vir hom versorg.

“Ons was op 9 September 59 jaar en 11 dae getroud. Seth het tot ’n week voor sy dood nog vir my gesê ek moet hom net vir ’n halwe kilometer in sy rolstoel stoot terwyl ek stap. Maar ek wou hom nie aan mense blootstel nie. Ek moes hom belowe dat ek nog dié jaar vir CAN sal stap; al samel ek net N$1 000 in,” het sy gesê.

“Ek word volgende jaar 78 en ek weet nie of ek dan nog kan stap nie. Dus, terwyl ek nog iets vir my medemense kan doen, sal ek dit doen.”

Ouma Rina het in 2011 die pad vanaf Rehoboth na die Bahnhof-stasie, sowat 30 km buite die dorp, ten bate van die Annelie Olivier-ouetehuis per fiets aangepak om geld vir die ouetehuis in te samel.

In 2013 het sy van Windhoek na Okahandja gestap om broodnodige fondse vir die Namibiese hulpfonds vir bejaardes (Noah) in te samel.

In 2019 het sy vanaf Aris, buite Windhoek na Rehoboth gestap om geld vir drie organisasies wat na aan Oom Seth se hart was in te samel. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer