Tantalietmyn verskuif fokus

Byna 'n honderd mynwerkers sal teen volgende week hul brood en botter kwyt wees.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die tantalietmyn in die Karasburg-distrik naby Warmbad in die diep Suide gaan aan die einde van vandeesmaand 94 werkers aflê.

Mnr. Larry Johnson, die myn se uitvoerende hoof, het dít aan Nampa bevestig.

Volgens hom sal 'n groepie werk­nemers met produksie voortgaan, terwyl die myn sy fokus na boor­bedrywighede verskuif, wat tans oraloor die tantalietvallei voortgaan.

Volgens 'n beleggersverslag, wat deur die Aftan-myn se eienaars, Kazera Global, aan die einde van Julie vrygestel is, sal die boorprogram voorsiening maak vir die waardasie van dié hulpbron en om die ­toekomstige waarde van mynbedrywighede te bepaal.

“Die verwagting is dat die teikenboorgate uitgebreide satellietafsetting sal blootlê, sodat die ­opgeknapte aanleg gevoer kan word, en die omvang daarvan bepaal kan word.

“Die werksmag is ontplooi om toegangspaaie tot die steil Signaalberg-terrein te bou, sodat eksplorasiesones en potensiële ertsafsettings bereik kan word,” lui die verklaring.

Intussen was verteenwoordigers van die Mynwerkersvakbond van Namibië (MUN) onlangs op besoek aan die myn.

Mnr. Allen Kalumbu, die MUN se suidelike streeksvoorsitter, het gesê om slegs kernpersoneel te behou sal nie doeltreffend wees nie, aangesien die myn arbeidsintensiewe metodes gebruik, wat mannekrag verg.

“Ons het gekom om na masjinerie en toerusting te kyk om te bepaal hoeveel werknemers nodig is om dit te bedryf. Ons moet vasstel of slegs kernpersoneel die myn kan bedryf,” het Kalumbu aan Nampa gesê.

Tans dien die kwessie van skeidingspakkette vir 94 werkers voor die ­arbeidskommissie, omdat geen ooreenkoms hieroor aangegaan is nie.

Kalumbu het 'n beroep op die ­ministerie van arbeid, nywerheids­betrekkinge en werkskepping en die ministerie van myne en energie gedoen om in te gryp.

“Die regering moet ons red,” het hy volgens Nampa gesê.

Johnson dring egter daarop aan die afdankings is 'n kritieke deel van die myn se nuwe strategie.

“Die strategiese fokus op 'n werklike begrip van verertsing waarvoor die lisensie geld, is van kritieke belang sodat die meeste waarde op die lange duur uit die tantalietvallei geput kan word.

“Dit sal Aftan en Kazera beslis toelaat om 'n langtermyn-mynplan te ontwikkel wat verder as Homestead strek.

“Dit sluit ook ekonomiese satellietafsettings oor die gebied waarvoor die myn gelisensieer is, in.

“In die lig hiervan is dit belangrik dat die besigheid met streng kapitale dissipline bedryf word. Die ­onlangse afleggings, die staak van ­verwerking en die bou van toegangspaaie sal ­verseker dat bedrywighede weer ­optimaal afskop.

“Ons bestaande kliënt ondersteun hierdie benadering en ons strategiese verskuiwing is bevestig deur 'n wyer groep kliënte se benaderings. Ek sien uit na die bywerk van booruitslae en die analise van spesifieke erts wanneer dit beskikbaar is,” het hy aan beleggers gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!